Kommapunt 11: Ek en my huisie

Dit was twee dae nadat ek op 14 September 2015 die glas yskoue koeldrank in my man se gesig uitgegooi het by die grillerige strip club tussen die plotte, wat ek en ’n eiendomsagent wat ek goed ken en nogal respek voor het na drie huise gaan kyk het. Sy het my vooraf gehelp om te kyk vir watter prysklas en kwalifiseer en geweet wat my eiendom-koop-voorwaardes is; iewers in dié blok, die swakste huis in ’n goeie straat, en daar moet potensiaal wees om addisionele inkomste uit die erf te genereer deur ’n woonstel/le.

Die rede waarom ek wou (op daardie stadium eerder moes) koop het ek nie met haar gedeel nie – net ek het geweet dat dit om geen ander rede is as dat my man my uitgeskop het omdat ek hom voor strippers, hoere en drie ander mans wat ook daar uithang (no pun intended) verneder het nie. Ek het seergemaak genoeg gevoel om my nie aan sy houding of verwyte te steur nie.

Ons het ’n plek en tyd afgespreek en ek het haar ná daardie Woensdag ná werk by die eerste huis gekry. My man het saamgekom… ek het op daardie stadium gedink dis omdat hy nie gedink het ek is ernstig oor die saak nie. Dalk het ek reg gedink, dalk nie. Wie sal ooit weet?

Die huis was op ’n baie groot hoekerf geleë. Sentraal. Goed gebou. Sinkdak (waaroor ek mal is, om een of ander rede). Een lelike kraak op ’n hoek waar ek in elk geval sou wou aanbou.

Die omheining was van lae vier voet betonmuurtjies wat hoegenaamd geen privaatheid vir die erf gebied het nie. Onder die muurtjies was plek-plek slote uitgespoel waardeur ’n medium-grootte hond of klein kind sonder moeite kon kruip. Drie verskillende soorte plaveisel het die oprit soos ’n patchy versameling van blou, grys en pienkerige blokke laat lyk. Die tuin het bestaan uit ’n klein bietjie weggesteekte gras onder ’n oerwoud van bossies, dorings en kakiebos, twee mooi conifers, ’n weeping bottlebrush (nogal ’n wit ene!), ’n aartappelplant wat met klein pers blommetjies oortrek is, ’n yuka en ’n kareeboom. Die wankelrige afdak se verbleikte groen skadunet het plek-plek soos spinnerakke gehang en die huis self was met ’n ligte baksteen gebou… ou stene wat mens glad nie meer kry nie, het ek geweet.

Die binnekant van die huis het nie veel beter gelyk nie… die vloere was ’n mengelmoes van twee verskillende soorte terra cotta teëls wat hopeloos te donker was en die plek soos ’n grot laat voel het. ’n Weird skakering van bruin teen die mure het nie juis gehelp om dié effek teen te werk nie. Wit plafonne wat dalk al twee keer se verf oorgeslaan is het verklap dat daar geen lekplekke in die dak is nie. Die leefvertrek was ruim, maar daar was oral stukke muurtjies wat die vorige eienaar nie volledig uitgebreek het nie, en die afwerking waar die breekwerk gedoen is, was ver van netjies en daar is ’n deur en venster op ’n vreemde plek gelos. Die kaggel (wat glo werk) het my kinderlik gelukkig gemaak (ek weet, tipies vroumens). Die oorspronklike stoepie aan die sykant van die huis was toegemaak met vensters, die plafon was netjies, maar die staaldeur wat na die buitekant gegaan het is lelik gebuig en toegesweis omdat iemand onlangs daar probeer inbreek het. Goeie sekuriteit teen die drie vensters wat kan oopmaak, maar die vertrek was selfs op ’n koelerige lentedag te warm en sonder suurstof. Dit was egter ’n puik plek vir ’n braaiarea, het ek dadelik geweet.

 

Die kombuis het drie verskillende werksoppervlaktes en vier verskillende soorte kaste (waarvan een staalkaste was; alles wit geverf, maar die verf het begin afskilfer) in gehad. Dit was klein en heeltemal ingeboks; glad nie modern nie. Tipies van die ou “Iscor-huisies”, was die badkamer in drie gedeel – een vertrek het klein wit teëltjies (snotterig gevat) met ’n reguit bad en wasbakkie gehad. Daar was skaars ruimte vir omdraai in dié plek. Die tweede deel was net ’n stort met vreeslike pienk blommetjiesteëls teen die helfte van die muur en op die vloer. Die boonste derde van die muur was ’n ligte blou-grys geverf… en dit het plek-plek begin afskilfer. Die deur was een van daardie hout-konsertina-goed wat aan die binnekant gemuf was en nie behoorlik wou toe nie. Die toilet was apart, agter ’n derde deur wat duidelik nouer gemaak is om in die klein kosyn te pas. Dieselfde wit teëls was teen dié muur.

 

Die vier slaapkamers was so ruim dat dit my amper na my asem laat snak het. Drie daarvan nogal Noord geleë, so dit sou nie in die somer te warm of in die winter te koud wees nie. Daar was ook genoeg ingeboude kaste… netjies wit geverf.

 

Buite het ek die potensiaal vir twee tot drie woonstelle en garage vir vier motors gesien… dalk ook ’n buitekamer… en selfs dan sou daar nog meer as genoeg spasie gewees het vir my hondekinders om te speel en te hardloop (die enigste rede waarom ek nie ’n woonstelletjie sou oorweeg nie).

 

Die huis was perfek én dit het my sak gepas. Ek kon in my gedagtes sien hoe ek dit kon verander en my man moes hard probeer om sy opgewondenheid oor dié potensiaal-juweel weg te steek. Maar ek wou eers na nog ’n paar huise kyk… daar was baie werk aan die plek wat ek sou die plek ten minste minder grillerig, grotterig en snotterig wou kry voor ek soontoe trek.

 

Dit het egter gebeur dat ek elke huis wat ek daarna gesien het met dié een vergelyk het, en kort voor lank het ek besef dit help nie om verder te soek nie. Ek het my huis gekry. Vir twee dae lank het ek beplan, begroot, somme gemaak, van plan verander, pamflette van CTM en al wat bouplek is dopgehou… en met ’n onseker dog seker hart het ek daardie Saterdagmiddag die agent gebel.

 

Sy was so gretig om die plek te verkoop dat ek sommer die Sondag gou na haar huis toe genooi is om ’n koopkontrak te teken. My man is saam soontoe, en hoewel hy hard probeer het om my te oorreed om die huis in ons trust te koop, het ek voet by stuk gehou dat dit my geld is en dus heeltemal op my naam moet kom. Ons is buite gemeenskap van goedere getroud sonder aanwas, en ek het geweet wat dit beteken. Die kontrak is op my naam opgestel en ek het dit onderteken – bewende hande en al. Die aanbod was laer as die oorspronklike prys, en op ’n manier het ek seker gewens die verkoper aanvaar dit nie.

 

Maar, ek het besluit dat dit tyd is dat ek op my eie voetjies staan, vir myself iets doen en my toekoms begin beplan. Ek wou niemand ooit wys dat ek self so ’n projek kan aanpak, befonds en kan deurvoer nie. Inteendeel! Ek was flippen bang dat my geld dit nie sou hou nie, dat ek ’n gemors daarvan sou maak, dat ek emosioneel nie sterk genoeg sou wees om te werk, te swot, huis te hou, huis te bou en dan nog na die tyd te trek nie… en ek wou nie trek nie, want ek wou nie regtig opgee in my huwelik nie. Die onsekerheid en die “voetsek uit MY huis uit” wat ek elke twee maande gehoor het, het my gedaan gemaak. Ek wou net ’n veilige plekkie vir myself hê. ’n Plek wat ek geweet het myne is, waar ek die mure kon rooi verf as ek wou en maak soos wat ek lus het. ’n Plek waar ek myself kon wees, veilig kon voel, waar ek nooit weggejaag sou word nie…

 

’n Paar dae later het ek die nuus gekry: hy het die aanbod aanvaar… en ek het finansiering gekry… alles is besig om in plek te val…

 

’n Mengelmoes van opwinding, angs, vreugde en depressie het my beetgepak, maar ek het geweet dat daar nou nie meer omdraaikans is nie.

 

In my hart was ek dalk meer verlig as enigiets anders, want ek het geweet dat ek nou maar uitgeskop kan word. Ek sou nie nodig hê om enigiemand om blyplek of rusbank te soebat nie en ek sou niemand met my ontydigheid hoef te belas nie. Ek het ’n plek van my eie. Kom wat wil, ek het ten minste nou my eie heenkome! Vir die eerste keer in ’n hele klomp jaar kon ek met sekerheid praat van mý huis en dit bedoel.

 

 

 

Advertisements

7 thoughts on “Kommapunt 11: Ek en my huisie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s