Dis hoe mense is

“Almal doen goed vir ’n rede.” Ek kyk in ongeloof na sy kant toe. “Daar is niemand wat nie iets goeds sal doen as dit nie vir hulle iets beteken nie. Hulle kry óf iets daaruit, óf hulle voel skuldig oor iets wat hulle gaan doen, óf hulle probeer dit wat hulle reeds gedoen het mooi toesmeer.”

Hy is regtig ernstig! Ek lê terug in die bed en kyk verder na die storie. Billions (voorprent) is ’n briljante reeks. Dis slim geskryf en mens moet kophou oor wat eintlik daar aan die gang is. Ons geniet albei om dit te kyk, maar ek het gisteraand nou begin wonder wie nou eintlik die bad guy in die reeks is… en of daar werklik enige good guys is. Daarvandaan my opmerking dat Damian Lewis se karakter dalk oorheersend goed, maar ook sleg is.

Ek het die opmerking laat gaan en besluit om verder as net die tiende episode van Reeks 1 te kyk voor ek besluit wie nou eintlik wat is. Maar iets in my man se opmerking het my bygebly, en ek moes hom daaroor vra toe die episode klaar is…

“Glo jy regtig wat jy nou net gesê het; dat niemand ooit iets vir iemand anders sal doen as daar nie iets in is vir hulle nie?”

“Ja.” Ek wens soms sy antwoorde is nie so eenvoudig nie en sy siening van dinge is nie so wit/swart nie.

“Maar daar is uitsonderings. Nie almal is so nie.”

“Nee… almal is so. All people are inherently evil. Ons probeer net om goed te doen wat ons minder evil sal laat voel en beter sal laat lyk.” Hy  kyk na my met ’n uitdrukking wat ek nie kan mis nie… daai een wat my maan om dit eerder maar net te los, want ek is verkeerd en klaar.

“Ek verskil van jou. Ek glo alle mense is inherent goed. Dis juis omstandighede en begeertes wat hulle slegte besluite laat neem, en dan is die gevolge dikwels ’n cover-up om beter te voel oor hulleself.”

“Niemand doen iets goeds, tensy hulle raakgesien wil word of skuldig voel oor iets nie. En dis hoe dit is. Glo wat jy wil as jy nie saamstem nie.” Hy draai om op sy sy en trek die duvet op. Ek besef die gesprek is nou, met of sonder my sê, afgesluit.

“Ek is nie so nie…” en selfs ek kan nou die onsekerheid in my eie stem hoor. Hy ruk sy nek omtrent af om my gesig te kan sien. “Soos toe ek vir Kiepie nou die dag geld geleen het, was daar niks daarin vir my nie.”

“Maar dit het jou laat beter voel omdat jy iets gehad het wat sy nie het nie, en toe kon jy haar help… so daar was iets daarin vir jou en jy kon jou gewete sus omdat jy iets het wat sy nie het nie.”

“Nee… ek het vir haar geleen omdat ek haar wou laat beter voel, omdat sy in die knyp was en ek geweet het ek kan haar help. En ek het vir haar geld geleen sodat sy juis iets kon hê.”

“Ja, en wie het julle almal daarvan vertel?”

“Niemand. Ek het haar gevra om dit stil te hou, want ek wou nie dat iemand weet nie. Net ek, jy en sy weet daarvan.”

“En as sy nie die geld terugbetaal nie?”

“Sy het reeds. Ek het vandag haar laaste afbetaling gekry.”

Minder as een sekonde se ongelowige staar word my kant toe geflits.

Whatever…” Daarmee draai hy met ’n hop om en begin amper dadelik snork.

En skielik is my slaap toe ook by die deur uit. Hierdie gesprek het my vreeslik gepla en ek was seker maklik vir ’n uur daarna nog wawyd wakker. Ek glo eerlikwaar in die goedheid van mense. Is dit waarom ek altyd seerkry? Is dit waarom ek altyd as die vloerlap opeindig? Afgesien van alles wat ek nog ooit in die Bybel en by die Sondagskool geleer het, glo ek nog altyd dat mense eintlik goed is en ek wil glo dat mense eintlik dinge met goeie, eerder as gekamoefleerde slegte, bedoelings doen.

Dit is egter nie wat my so baie gepla het nie. As iemand se siening van my eie verskil, het dit gewoonlik min of geen effek op my nie, en hier was dit ook die geval. Dit het my egter erg gevang dat my man sy vertroue verloor het in dit wat goed is; dit wat opreg is; in die goedheid en opregtheid van mense… as hy dit ooit in die eerste plek gehad het.

Ek kon die vrae ook maar net nie keer nie. Is dit waarom hy alles wat ek probeer en uit my hart uit met liefde vir hom doen en sê altyd in twyfel trek, en waarom hy my eie opregtheid sonder ophou bevraagteken?

Hy kom uit ’n huis waar emosie min plek het, en ek kry soms die idee dat analitiese, realistiese besigheidsdenke die enigste “regte manier” van dink is. Verstaan net mooi – ek sê nie dit het nié ’n plek nie, maar eerder dat die lewe (vir my) oor soveel meer as net dit gaan. Uitbundige vreugde… passievolle liefde… vurige opwinding… skielik wonder ek of hy dit regtig al ooit ten volle beleef het.

Dit het my gisteraand getref dat my man dalk regtig nie ’n idee het wat die onvoorwaardelike liefde is waaroor ek altyd so aangaan en wat ek so hard probeer om hom te bied nie… Dalk besef hy regtig nie dat sommige mense kan gee sonder om iets terug te verwag en dat daar wel mense bestaan wat net ’n begeerte het om ander te help nie… Dalk is dit die rede waarom dit vir hom so moeilik is om net te aanvaar dat ek nêrens sal gaan nie en dat ek dinge tussen ons reg wil kry, sonder dat daar “iets in die deal is” vir my nie (hoewel dit ’n huwelik is – natuurlik sal ek ook iets baat as dinge tussen ons reg uitwerk) en sonder dat ek hom vir een of ander slinkse plan met ’n slapriem wil vang nie… Dalk is dit waarom ek kan sien dat hy my nie glo as ek dit eenvoudig net bedoel en niks terug verwag wanneer ek vir hom sê dat ek vir hom lief is nie…

Dis flippen hartseer… en nog meer as dit, moer scary!

Hoe wys ek vir iemand iets wat nie werklik wysbaar is nie? Hoe laat ek hom liefde en onvoorwaardelikheid en onbaatsugtige vertroue en hoop voel as hy nie daaraan glo nie en dit bly afmaak as iets anders? Hoe wys ek hom hoe my liefde vir hom en my hoop vir ons lyk as hy dit net as venynigheid en ’n leuen beskou? Hoe wens ek nou ek het net ’n kwart van die antwoorde gehad waarna ek soek!

Advertisements

One thought on “Dis hoe mense is

  1. Ek hou ook van Billions, en wonder gereeld – is Axe ‘n “good guy or bad guy”. Skenk hy al daardie miljoene aan die brandweermanne oor hy skuldig voel, is dit dalk ‘n manier om minder belasting te betaal, of kom dit regtig diep uit sy hart uit? My opinie is maar nog altyd dat “nice” mense nie bo uitkom nie en ook nie stinkryk word nie. Iewers moet hulle op ‘n paar koppe trap om verder te kan klim. Ek het ook al dinge vir mense gedoen met die idee dat ek dan weer op hulle knoppie sal kan druk, maar niks is so lekker as om iets te doen wat net onvoorwaardelik is nie. Jou man het dalk iewers sy vingers verbrand met ‘n guns wat hy aangebied het en in sy gesig ontplof het. Dan is dit moeilik om weer te vertrou.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s