“Poeparra” – ’n ongeredigeerde kortverhaal

(Gedagtes oor dinge wat kon wees, maar nie was of is nie – wees gewaarsku!)


 

Twee glase wyn was dalk te veel op ’n redelik nugter maag. Sy voel lighoofdig en weet sy het ’n fout gemaak om heeldag niks te eet nie, maar wat anders kon sy doen – sy was eenvoudig net te besig om iets te eet. Buitendien sou die kos ook net oorkook. Sy kan nie eet as sy só voel nie. Sy moet werk en fokus… haar aandag wegkry van dit wat al heeldag by haar spook… ou gedagtes, nostalgie van hoop en van wense… en verlange. Sy wil nie alleen wees nie, maar sy is. Haar eie skuld, maar nogtans.

Haar gedagtes verander in ’n deurmekaar mengelmoes van emosies, dagdrome en herinneringe, woorde wat nooit gesê is nie en woorde wat sy graag nou wil sê. Die wyn laat haar voel of sy op wolke loop, dit maak haar kop sag en laat haar gedagtes soos spookasem spin. En nie net dit nie… die wyn maak haar ook braaf. Gewoonlik vat dit minstens ’n bottel, maar twee groot glase wat tot net onder die rand volgemaak is, het vanaand heel effektief gewerk.

Sy plons so hard op haar bed neer dat sy dink sy gaan harsingskudding van haar kop se slag teen die kussing kry. Haar plafon is mooi wit, hoewel sy die teken kan sien van ’n bloedspatsel. Nog rooi. “Donnerse bloedsuigende ding,” mompel sy. Al giggelend vat sy haar foon wat op haar bedkassie lê en laai. “Oe, jy is lekker tipsy,” snou sy haarself liggies toe en skaterlag weer toe sy besef sy praat nou al met dooie muskiete en haarself.

In die giggel begin sy google. Vir niks spesifieks nie. Sy is immers nou net lus vir geselskap. Die eerste persoon waaraan sy dink is waarskynlik die laaste een wat aan haar sou dink. Die vriend wat nou niks meer as ’n skim in haar lewe is nie… Dis ’n gesukkel om sy naam behoorlik ingetik te kry met haar vingers wat die simpel touch screen se lettertjies bly verkeerd tik, maar na ’n paar minute is die naam in en die vergrootglasie is gedruk.

Skielik is sy stil. Dis ’n nuwe foto van hom. Onlangs geneem. Sy tik in ongeloof op die foto en laat dit groter oopmaak.

Voor haar is ’n aantreklike man. Nie te jonk nie, nie te oud nie. Sout-en-peper in sy teruggekamde hare en perfekte baard wat sy sterk kakebeen en dimpel sonder veel sukses probeer wegsteek. Sy oë skertsend, terwyl sy skewe glimlag tartend aan haar hart se snare trek. Sy wit hemp, met ’n gemaklike oopgeknoopte kraag, laat hom besonder professioneel dog aantreklik lyk. Sy het hom nog nooit só gesien nie. Sy ken hom net in ’n gemaklike T-hemp en denim of cargo pants.

“Flip.” Sy sluk so hard aan die slobber wat skielik in haar mond gevorm het dat ’n seer knop in haar keel vorm. Só aantreklik het sy hom nog nooit gesien nie. Of dalk is dit die wyn. Dit moet die wyn wees.

Download. Save to gallery… 

“Nee vrek… nou is hy éérs sexy.” Sy rol haar oë toe sy besef sy voer alweer ’n gesprek met haarself.

Die gemaklike houding wat hy op die foto ingeneem het verklap ook sy persoonlikheid. Gemaklik. Nonchalant. Vol humor met byt. Ondeund. Tergend. Blinkoog en vol lewe.

Sy vervies haar dat sy sommer so hop waar sy op haar bed lê en gooi die foon hard teen die kussing langs haar. Die leë kussing. Waarom het sy ’n dubbelbed gekoop as sy geweet het dat sy enkel is en dit waarskynlik altyd sal wees?

Plop! Sy gluur na haar foon, asof sy vir die aantreklike man kyk wat haar hart net ’n paar maande terug gebreek het. Wie soek haar nou? Daar is nie ’n snow ball’s chance in helldat dit hy is nie; dis ver-flippen-seker! Met moeite strek sy haar een arm uit en sleep die foon nader. Die geluid van borreltjies en haar beste vriendin se gesig langs die boodskap wat ingekom het, laat haar gemoed effens afkoel.

“Dis amazing hier! Ek wens jy het eerder saamgekom.”

“Meh… ek ook.” Wat anders moet sy terug antwoord? Sy wou saamgaan, maar sy kon nie. Hoe gaan mens saam met ’n groep mense Mozambiek toe as jy nie genoeg geld het om eers die maand te oorleef nie? Jy doen dit nie. So eenvoudig soos dit. Dit vat nie ’n genius om daai een uit te figure nie.

“Wat maak jy?” Gmpf! Asof sy iets anders as ’n halwe bottel wyn en ’n paar afgelaaide films op ’n external het wat haar kan besig hou vanaand…

“Ek google…” Dalk ’n bietjie te kortaf? “En ek is tipsy.” Maar sy het geselskap gesoek, so dalk is dié nie ’n té erg idee nie… “Kan ek jou ’n guns vra?”

“Jaaaaaa???” Die vinnige antwoord terug laat haar verstaan dat haar vriendin ook kan doen met geselskap, al is sy tussen ’n hele groep ander mense.

“Sal jy asseblief gou weer net vir my vertel dat dit ’n flippen mamparra is?” Sy heg die foto aan. “Hy is ’n chauvinis en ’n aap en ’n mamparra wat met vroumense se harte speel en wat maak of hy alles weet en eintlik het hy nie ’n clue nie en dink die lewe draai om hom en hy is net ’n aap. Né?”

Twee blou regmerkies verskyn onmiddellik op WhatsApp.

“En hy is nie eers aantreklik nie,” gaan sy aan op ’n volgende boodksap. “Flippen William Dafoe is sexier as hy! Kyk net daai oë en smile. Hy is freakin skreeulelik!” Nog twee bloumerkies… Typing…

Waarom het jy dié poepol se foto op jou foon?” Dis net soos sy om so reguit te wees en geen doekies om te draai nie.

“Want ek het hom gegoogle…” In daardie eenvoudige antwoord is soveel betekenis opgesluit. Sy het hom gegoogle, want sy het hom gemis. Hy het haar vergeet, maar sy kan hom nie uit haar gedagtes kry nie. Hy is vir haar kwaad en sy wens sy kan die tyd terugdraai en dinge anders doen om net nog kontak met hom te kan hê.

Okay. Jy is reg. Hy is ’n mamparra. Hy is nie sexy se gat nie en hy is oud. Kyk die grys. Sy lewe is sy werk en sy werk is sy lewe… hoe sad is dit nie. En hy is ’n poepol omdat hy jou só behandel het. Vergeet van hom. In die see van visse is hy ’n blobvis. Jy is ’n mandarynvis. Hou op worry, jy is beter af sonder sulke losers.”

Vir iemand wat ’n baie suksesvolle besigheid oorsee gaan vestig het en ander nou help om self ook sukses te bereik, weet sy dat hy alles behalwe die vark is wat sy wens hy was. Die gedagte aan sy sukses en geluk maak haar gelukkig, dog hartseer, en hartseer is die een ding wat sy nie nou wil wees nie.

“Is jy nou skielik ’n marine-bioloog?” Spot sy oor haar vriendin wat nie gewoonlik  ’n guppy van ’n gewone goudvis kan onderskei nie. “Wat kry mens as jy ’n mamparra en ’n poepol kruis?”

“Hahaha! ’n Mampol?” kom die boodskap soos blits deur.

“Nee. Dis nie goed genoeg nie. ’n Mampoepa?”

“Parrapol?”

“POEPARRA! En dis wat hy is!”

Terwyl sy krul van die lag waar sy op die bed, gaan haar lag van uit-die-maag-lekker oor na histeries-met-trane.

“Vriendinna, is jy okay?” Duisend kilometer weg, weet sy haar vriendin weet presies wat in haar kop en hart aangaan.

“Ek is okay. Net te veel wyn sonder kos. Moet dalk maar slaap. Ek vang nou net nonsens aan.”

“Hmm… Hou op om aan hom te dink. En jy vaar nie weer in wyn in sonder my nie!”

As dit net so maklik was… Sy raak aan die slaap met sy foto op haar foon oop. Sy perfekte gelaatstrekke, perfekte oë, perfekte hare en perfekte glimlag… en sy weet hy het ’n persoonlikheid wat sy voorkoms perfek match.

Wanneer sy ‘n bietjie meer as ‘n uur later wakkerskrik uit ’n droom waarin sy sy sagte stem soos satyn teen haar kon voel, sy effense growwe hande oor haar arms voel gly het waar hulle saam sit en TV kyk het, weet sy dat sy drooggemaak het. Sy het moeilikheid gaan soek deur hom te gaan goole en nou oorheers hy weer haar drome en haar gedagtes. Hy is haar een swakheid. Haar ondergang. Maar dis verkeerd van haar om so vas te klou aan iets wat nie moet wees nie. Sy pynig nou net haarself deur so vas te hou aan dinge wat seker nooit moes wees nie.

Sy kyk na die foto. Hy ís so sexy soos wat die meeste van die Hollywood-akteurs maar net kan hoop om te wees… ná die operasies. Maar sy gaan hom nie weer opsoek nie. Sy gaan hom nie weer kontak nie. Dis oor en verby, en al wens en bid sy dat sy weer een of ander tyd van hom sal hoor, weet sy dat sy dit nie langer aan haarself kan doen nie. Dis soos om calamari-ringe langs ’n sinagoge te wil gaan koop. Jy doen dit nie. Dis eenvoudig net so. Jy dobbel met jou lewe, hoewel jy redelik seker kan wees dat jy net ’n hoop fake velletjies gaan kry. Dit lyk dalk soos die real deal, maar jy weet blêrrie goed dit is nie.

Buitendien is hy ’n poeparra…

Voor sy delete druk, kyk sy weer na sy foto. Dalk moet sy dit nie uitvee nie… Sy sal hom nie weer google nie en sy sal verseker nie weer na sy foto kyk nie. Poeparra, fake-calamari-velletjies of de not… maak nie saak wat hy aan haar of sy aan hom gedoen het nie… maak nie saak hoeveel goed gesê is of ongesê gelaat is nie… maak nie saak hoe suksesvol en gelukkig hy is in sy nuwe lewe met sy eie mense nie… sy bly vir hom lief en sal seker altyd.

Sy maak haar foto’s toe en maak WhatsApp oop en gaan direk na een van haar ou vriende wat onlangs uit die kassie uitgeneuk het.

“Wat maak jy vanaand? Ek is lus vir calamari en bier, en wil nie alleen eet en drink nie!”

“Tel jou op oor 20 min?”

Sy glimlag. Die foto vir eers vergete. Haar foon in haar sak. Een van haar beste vriende is op pad na haar toe en hulle gaan calamari eet en bier drink. Wat kan nou beter wees!

Ja, wat kan nou beter wees…

 

 

 

 

 

Advertisements

3 thoughts on ““Poeparra” – ’n ongeredigeerde kortverhaal

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s