My verslawing

Daar is iets wat nou al ’n rukkie in my agterkop broei, maar waaroor ek onseker was. Een van my lesers het my in ’n e-pos vertel dat hulle huwelik moontlik verby is, dat vertroue nou ’n laaste keer gebreek is, dat vergewe en vertroue bou en aangaan nie meer ’n opsie is as die ander persoon in die huwelik net aanhou om terug te val en oor en oor dieselfde foute te maak nie. Dis my mening dat dié geensins ’n unieke probleem is nie.

Ek het tot die besef gekom dat elke huwelik op een of ander stadium in ’n situasie beland waar een of albei partye moet vra of hulle nog hier wil wees, weer wil vergewe, weer wil vertrou… weer wil hoop. Of dit nou ’n probleem is met vuil klere langs die wasgoedmandjie en nat handdoeke in ’n hopie op die vloer of ontrouheid en pornografie… ’n probleem is ’n probleem, en as iets in ’n huwelik krap, dan is daar altyd die potensiaal dat dit ook kan sneeubal… iet so klein soos ’n tandepasta-buisie wat verkeerd uitgedruk word of iets so groot soos ’n derde party; ENIGE probleem kan lei tot ’n skipbreuk huwelik as dit nie hanteer en uitgesorteer word nie.

Dis as gevolg van die universeelheid van die situasie in my leser se e-pos wat my laat kou en herkou het. Ek het die boodskap persoonlik terug geantwoord, maar ek wil ook graag iets hier in my blog daaroor skryf, vir almal wat dalk met dieselfde of soortgelyke goed worstel. My vraag was net, hoe skryf ek iets persoonlik vir iemand hier wat eintlik maar anoniem is en wat graag só wil bly? En hoe skryf ek dit sodat niemand voel ek val hulle aan, veroordeel of gee ongevraagde raad oor sekere situasies nie?

My besluit: ek gaan bloot iets uit my eie lewe vertel…

Hier kom eers net ’n vinnige uitklaring oor dié inskrywing: As jy dit lees en jy voel dis op jou lewe van toepassing – great stuff! Dan beteken dit ek het die spyker op die kop geslaan en my inskrywing beteken iets vir iemand. Doen my in dié geval net ’n guns en lees hierdie inskrywing klaar voordat jy jouself dalk vir my vervies. En as jy besluit om jouself dan maar nié vir my te vervies nie, doen asseblief iets omtrent jou situasie. Leer daaruit, groei daaruit, kom daaroor… vergewe jouself… vind jouself… word weer gelukkig en gaan aan met jou lewe. Ek belowe ek veroordeel niemand nie. Ek is, inteendeel, die laaste persoon op aarde wat ’n oordeel kan vel; veral in dié opsig wat ek hier gaan beskryf. En dan, liewe mense, hou asseblief ook vir my genoeg respek as iemand wat iets uit my eie lewe konstant deur my inskrywings met julle deel, en moet my asseblief ook nie veroordeel nie. Want raai wat? Ons is almal mense… en almal van ons maak tog foute. Nie ek of jy kan hierby uitgesluit word nie.

My erkenning: ongeveer ’n jaar of wat gelede was ek ’n verslaafde. Niemand het daarvan geweet nie; ek vermoed nie eers ekself nie. En nee – ek praat nie van ’n verslawing aan suiker, koffie, of sjokolade nie. Ook nie aan rook of drank, medikasie of een of ander soort dwelmmiddel nie. Ek verwys na ’n verslawing aan aandag en die konstante craving vir aanvaarding.

Vir dié van julle wat al ’n geruime tyd lank my blog volg – julle weet ek het al ’n hele paar minder onskuldige dinge gedoen. Ja, ek het ’n redelik aktiewe profiel op ’n swinger website gehad. Ja, hoewel ek nie mense daarop ontmoet het nie, het ek stomende chats gehad met een of twee baie kieskeurig geselekteerde mans waarmee ek een of ander konneksie gevoel het. Ja, foto’s is gestuur… ek het ’n stalker in die proses gewen (genadiglik en met moeite ook verloor) en ek het tot die harde besef gekom dat hierdie “ander wêreld” wat ek ontdek het; hoewel gevul met aanvaarding, seksuele fantasieë en vriendskap; eintlik een groot klug is. Die enigste rede waarom mense jou immers op hierdie webwerwe aanvaar is omdat hulle iets van jou wil hê; daarom is dit eintlik eerder manipulasie as aanvaarding. Die seksuele fantasieë was presies net dit – ’n fantasie wat nooit werklik sou of kon word nie, en wat buitendien nie naastenby so goed sou wees in die realiteit as wat dit geklink het op ’n rekenaarskerm nie. En die vriende? Ek het op die harde manier uitgevind dat daar nie werklike vriendskappe in dié wêreld bestaan nie, want mense wat net vat en vat en vat is net vir jou daar solank jy bereid is om saam te speel en te gee, en dan bloot net verdwyn – of erger, jou probeer afpers om aan te hou gee – kan beslis nie as vriende beskou word nie (no offense aan enige mense … maar as jy was waar ek was, sal jy weet jy was nooit werklik vriende met dié mense in die virtuele fantasiewêreld nie; dit het my baie lank gevat, maar ek besef nou dat ek van die begin af vir ’n paar mense net ’n speelding was en nooit ’n werklike persoon nie, nie ’n vriendin soos wat ek soveel keer verseker is nie… en ja, it still hurts like hell).

Ek het nie met toe oë in dié wêreld betrokke geraak nie, maar ek was tog baie naïef. Ek het geglo ek doen dit met ’n spesifieke doel voor oë en dat ek genoeg brains het om nie te diep betrokke te raak in iets wat eintlik baie gevaarlik is nie. Ek was verkeerd. Of jy baie of min werkende grysstof het, as jy emosionele nabyheid kort, dan gaan jy in die strik trap.

My verslawing het begin by die eerste persoon wat my gekomplementeer het op my manier van skryf, my kastige intelligensie, my beskrywing van myself… Ek, of eerder my alter-ego – ’n perfek geboude en sexy rooikop wat wilde fantasieë het, en wat nie skaam is om ’n ding op sy naam te noem nie, wat naïef maar nuuskierig is, snaaks en tog ook diep filosofies – was populêr, en hoewel my gesprekke met die mans daar gewoonlik glad nie seksueel van aard was nie (glo dit of nie – die meeste van ons gesprekke was oor karre, vakansiebestemmings, sport en selfs plante en werksake), het ek stelselmatig ’n ernstige verslawing begin ontwikkel vir die aandag en onvoorwaardelike aanvaarding wat ek daar gevind het. Was ek vir ’n paar dae nie daar nie, het die mense waarmee ek oor die weg gekom het vir my boodskappe gestuur, laat weet hulle mis my geselskap. Ek het belangrik genoeg gevoel dat iemand my gemis het… iets waaraan ek nie gewoond was nie, maar waaraan ek nogal gewoond sou kon raak. Dit was die ongelooflikste gevoel om te weet dat ek wel ’n plek van een of ander soort in iemand se lewe gekry het waar ek nie nodig gehad het om ’n wag voor my mond te sit en die effek van elke woord of aksie wat van my kant af kom hoef te oor-analiseer en te wonder of daar nou met my baklei gaan word daaroor nie. Dit is presies daardie gevoel van absolute aanvaarding wat my later foto’s laat stuur het… of eintlik was dit aanvanklik nié van myself nie (Google is my friend!) en laat aanhou chat het.

En toe, eendag, het ek tot die besef gekom dat die plek waar ek sit eintlik baie soortgelyk is aan my man s’n. Ek het hom blameer dat hy pornografie kyk en fantaseer oor meer as een vrou eerder as die een vrou waarmee hy getroud is, maar ek het eintlik maar presies dieselfde gedoen met woordpornografie in stomende gesprekke as hy. En ek gaan dit nie ontken nie – ek het begin om ander mans te begeer. Ons was albei vasgevang in ons eie unieke en selfgeskepte fantasiewêrelde.

Dit het eers gestop toe ek seergekry het. Iemand wat vir my spesiaal is (jip – steeds is), het onttrek en ek het onbevredig en desperaat aanhou soek vir iemand wat sy spreekwoordelike skoene kon vul, wat ek kon vertrou, wat my soos ’n aantreklike en slim en wonderlike persoon kon laat voel, waarmee ek oor alledaagse, filosofiese, intellektuele, persoonlike en ook seksuele goed kon gesels en kon weet (of dalk was dit ook net eensydig by my die geval) dat dit ons albei sou stimuleer en vir ons albei iets sou beteken.

Ek het lank gesoek, en ek is nie seker presies watter dag of hoe ek besef het dat ek eintlik net besig is om ’n verslawing te voed nie. Maar ek het dit wel besef.

Dit het baie wilskrag gevat om op te hou, en ek bieg in alle eerlikheid – dit is steeds van tyd tot tyd ’n groot uitdaging. Ek vou maar soms op dae wat ek so down voel en geïgnoreer word, wanneer ek intimiteit en toenadering so crave soos wat ’n swanger vrou maar net kan wens om iets te crave. Maar soos met enige verslawing, gaan dit hier ook oor die daaglikse, uurlikse, minuutlikse (kry mens ooit so ’n woord?) besluit om nie weer daarby betrokke te raak nie. Dis nie altyd maklik nie, maar dit word makliker met tyd…

Waarheen is ek hiermee op pad?

Ek weet van mense wat soortgelyke verslawings het as ek. Die enigste verskil is, hulle besef nie dis ’n verslawing nie. Hulle dink dit is onskuldige goed wat hulle op enige oomblik kan los as hulle sou wou. In hulle huwelike belowe hulle dan ook hulle maats presies dit… dat dit oor is, dat dit verby is, dat dit nie meer ’n faktor is nie… en dan val hulle terug die oomblik wat hulle nie meer kan uithou met daardie craving nie. Nie omdat hulle wil nie, maar omdat daardie craving vir aandag en aanvaarding net te groot is om sonder bevrediging te hanteer. Die virtuele fantasiewêreld sonder enige reëls of voorwaardes het vir hulle ’n veilige plek geword waar hulle ontvlugting kry van die uitdagings en rigiede reëls van die alledaagse lewe… die konflik… die moets en moenies… die vereistes… die verwagtinge… die verpligtinge. Jinne, en dis iets wat ek só goed kan begryp! Dis juis waarom ek nooit maar nooit iemand sal kan of mag veroordeel nie. Ek was self daar, en dit gebeur nog steeds dikwels dat ek in my kop teruggaan soontoe.

Wat het my vry gemaak? Dis nou as jy dit wat ek op die oomblik in myself gevind het as “vryheid” wil beskou… En nee. Ek gaan nie nou hier ’n preek van epidermiese proporsies afsteek waarby die grootste predikant nie sal kan kers vashou nie. My bevryding het niks te doen met geloof en die Bybel en al daai dinge nie. My bevryding lê bloot in die feit dat ek weet hoe dit voel om aan die ander kant van die situasie te sit.

Op een of ander manier het die skille (minstens gedeeltelik) van my oë afgeval en ek verstaan albei kante van hierdie saak. Aan die een kant besef ek die smagting na aanvaarding, waardering, stimulasie, en beslis ook adrenalien wat pomp… aan die ander kant weet ek hoe seer dit maak as mens uitvind dat jou huweliksmaat by so iets betrokke is en eerder emosionele, fisiese en seksuele stimulasie oor ’n rekenaar- of selfoonskerm verkies as die werklike in the flesh persoon wat in die vertrek langsaan sit of in die aand die ander kant van die bed okkupeer.

En nou vir die groot ding: ek het geen antwoord vir mense wat in dié situasie sit nie. Ek wens ek weet wat om te sê en hoe om raad te gee en moed in te praat, maar ek kan nie. Al wat ek weet is dat hierdie tipe van goed; hetsy pornografie, fantasieë oor dinge en met mense wat eintlik nie moet wees nie, of warm gesprekke en foto’s wat gestuur word; soos kanker vir enige verhouding is en dat dit ’n verhouding sal verswelg en dit mettertyd sal vernietig. Dit laat wantroue broei en veroorsaak konflik, disrespek en onsekerheid. Die ding is net dat die ophou iets is wat die persoon wat aan dié aktiwiteite deelneem self moet doen. Niks en niemand kan dit vir hulle doen nie; nie die beste huweliksmaat met die grootste liefde op aarde nie. 

Afgesien hiervan het ek op die harde manier besef dat dié verslawing ook die persoon wat verslaaf is, stelselmatig kan vernietig. Deur my gesprekke het ek myself konstant ondergeskik gestel aan wie ek werklik is en toegegee aan manipulasie, leuens en leë beloftes. Ek het bly soek na aanvaarding en intimiteit wat ek nie in my eie huwelik kon kry nie. Ek het bly soek na “iets”… dalk was dit die aksie en die gevoel wat mens kry as jy iemand nuuts ontmoet of wanneer ’n nuwe vriendskap of verhouding ontwikkel… dalk was dit daardie lekker wanneer jy nie kan wag om die volgende ding omtrent ’n persoon te kan uitvind nie… dalk is dit die wete dat hierdie ’n veilige plek is vir jou… wat eintlik alles behalwe veilig is!
Ongelukkig – en ek weet almal weet dit eintlik self ook, al is dit iets wat hulle heel agter in hulle koppe het – is die fantasie nooit so goed soos die realiteit nie, en bly ’n leuen ’n leuen. En hierdie wêreld waar jy dink jy veilig voel; waar ek gedink het ek veilig is, nie alleen is nie en beskerm van alle seer; maak jou uiteindelik seerder as wat die realiteit ooit sou kon en vernietig tot die laaste stukkie respek wat jy vir jouself of jou huweliksmaat vir jou gehad het.

Maar daar is hoop. Soos met enige ander verslawing (want dié is regtig niks anders as ’n verslawing wat nog net nie die nodige erkenning gekry het nie) kos dit harde werk en ’n konstante kopbesluit, maar mettertyd kan dit oorwin word. Jy kan vry word!

As jy, soos ek, die verslaafde is – asseblief, heroorweeg jou besluit om hierby betrokke te bly. Evalueer wat dit aan jou, jou tyd en jou verhouding met werklike mense om jou doen. Nie ter wille van jou huwelik, kind/ers of verhouding nie, maar ter wille van jouself. 

As jy terugdink aan jou gesprekke en die foto’s wat jy gestuur het of video’s waarin jy was (selfs dié waarna jy net gekyk het), hoe voel jy nou daaroor? Want ek voel nogal pateties oor sommige goed wat ek gedoen het! In my soeke na aandag en aanvaarding het ek ’n deel van myself verloor wat ek steeds sukkel om terug te kry, en dis nie lekker nie. Het jy al ooit probeer om heeltemal openhartig met jou huweliksmaat te gesels en te sê presies hoe jy voel, waarom jy doen wat jy doen en wat jy begeer? Nee, jou behoefte sal nie altyd bevredig word nie… my konstante verlange na onvoorwaardelike intimiteit word kort-kort afgeskiet en onvervul gelaat. Maar tog… hoe wonderlik sou dit nie wees as jou maat dan ten minste sou probeer om vir jou te gee wat jy nodig het nie? Ek kan die klein pogings sien wat my man deesdae weer aanwend, en al is ons nog lank nie waar ek weet ons behoort te wees nie, waardeer ek dit en probeer ek my bes om verby dit te kyk wat nog nie is nie en eerder dankbaar te wees vir die klein babatreëtjie van dit wat wel is.
As jy, ook soos ek, aan die ander kant van ’n huwelik met ’n verslawing daarin sit – asseblief, moenie moed verloor nie. Probeer praat… probeer kommunikeer en oop kaarte speel… jou gevoelens is ook belangrik, maar dis nodig dat jy begin vra waarom dit gebeur; dalk selfs aanhou gebeur… niemand sal iets gaan soek as dit reeds in hulle lewe is nie… Verstaan baie mooi – ek sê nie “dis jou skuld” nie, maar jy kan die persoon waarvoor jy lief is help om oor hierdie probleem te kom deur te probeer om, binne gerespekteerde perke natuurlik, hom/haar help om bevrediging in julle verhouding te kry. In my geval sou ek waarskynlik nooit eers met die ding begin het as ek die nodige intimiteit in my eie huwelik gekry het wat ek begeer het nie, en ek weet ook my man se probleem, sy ontrouheid en sy geheime tydverdryf (om pornografie te kyk) is ook deels as gevolg hiervan… iets wat begeer word, maar wat nie bevredig word nie. 

As jy besluit het dat jou hart en jou vertroue nou ’n laaste keer gebreek is, dan is ek die laaste een wat sal vra dat jy in ’n huwelik waar jy ongemaklik is moet bly. Maar al wat ek vra, is dat jy eerlik moet wees as jy antwoord… het jy werklik alles in jou vermoë gedoen om jou maat te help om hierdie verslawing te oorwin? Het jy werklik alles moontlik (hoewel binne gerespekteerde perke) gedoen om daardie persoon se behoefte en craving te bevredig?

Liewe leser… ek het amper 5 bladsy hier geskryf; amper 3000 woorde. En eintlik wou ek net hierdie kort stukkie vir jou skryf: 

Sterkte. Weet jy is nie alleen nie. Weet jou situasie is nie uniek nie. Weet dat jy die mag het om enige probleem te oorkom – verslawing of ’n lewe saam met ’n verslaafde. Weet net dat ek aan jou dink en dat my hart na jou uitgaan; nie omdat ek jou bejammer nie, maar omdat ek weet hoe dit voel, omdat ek albei kante van hierdie situasie ken en weet dat nie een meer gunstig of aanvaarbaar is nie… Weet net ek dink aan jou!

 

O flip. Ek besef nou net dis weer ’n Sondag… en ja, dit klink seker soos ’n preek. Dit was nie my intensie nie. Jammer oor daai deel.

 

Advertisements

12 thoughts on “My verslawing

  1. Jy is baie dapper. En sterk. Dankie vir die eerlikheid. Hoop vele vroue vind krag in jou skrywe en draai om. Vergewe eers jouself en dan kan jy jou maat vergewe.

    Like

  2. Dankie, en hartlik geluk vir ‘n earlike, goed bewoorde stuk waarheid. Geluk dat jy die moed het om hierdie dinge te beskryf.
    Maar oor verslawing – verslawing aan die blog – ook dit is ‘n realiteit. Ek geniet dit. Doen hopelik niks verkeerds nie, maar die aandag is tog heerlik. Baie van ons het maar ‘n verslawing van een of ander aard, of ons dit wil erken of nie.

    Like

  3. Dit was nou ‘n openbaring van ‘n wêreld waarvan ek niks weet nie.Ek kan sien hoe mens maklik daar ingesuig kan raak.Jy het op so ‘n volwasse eerlike manier daaroor geskryf.Ek is seker jy gaan dit later in jou lewe as ‘n lewensles kan afskryf.

    Like

  4. Terug pieng: My eie “reblog” | strooimeisie

  5. Sjoe – ek hou van hierdie woorde: ” Nie ter wille van jou huwelik, kind/ers of verhouding nie, maar ter wille van jouself.” Ek hoop almal het dit raakgelees. Dankie vir die eerlikheid en die deel van jou storie.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s