Kef-kef… KABOEM!

 

Ek ry nou die oggend van die huis wat ek besig is om reg te maak, op pad na ’n ysterwarewinkel om  goed vir die bouers te koop (ja, die een wat ek laasjaar gekoop het toe my man my weer probeer uitskop het). Dit is darem maar vreeslik as mens so jaag van een plek na ’n ander, net om verder te jaag. In die gejaag maak ek alewig lysies in my kop van al die “moet nog doen’s” en al die “dankie tog dis klaar’s”… en natuurlik ook al die “flip, jy mag nie vergeet nie’s”!

Die pad wat ek gevolg het was al vir my bekend. Sou ek moes, kon ek dit waarskynlik al met toe oë ry (toemaar, ek is nog nie so avontuurlustig nie). Daardie oggend was besonder nat en die hele wêreld was met ’n kar op pad iewers heen. Ek moes lank by ’n tweerigting stopstraat stilstaan wag vir die verkeer om verby te kom.

In die wag het ek begin rondkyk en ’n relatiewe jong Jack Russeltjie langs die pad sien loop. Nuuskierig en selfvoldaan het hy eers loop en snif-snif aan al wat boom, klip en bossie is en ek dink die arme ding het begin dehidreer, so baie goed is as sy eiendom gemerk. Ek het nog altyd baie van dié tipe hondjies gehou – lewendig, slim en altyd vol selfvertroue. Regte go-getters. Hierdie was ’n besondere mooi rooi-bruin en wit enetjie met mooi sagte gelaatstrekke.

En toe gaan staan hy stil en lig sy een voorpoot. Ore na vorentoe. Ek kon amper sien wat hy dink… “Nou wat de… Dink jy wraggies jy gaan hier op my sypaadjie kom loop?!”

In my truspieëltjie het ek ’n vrou sien naderkom. Sy het moeg gelyk en koud, met ’n rooi en blou blokkieskombers om haar skouers gebind, ’n groot swart sambreel in haar een hand wat haar teen die ligte motreën beskerm en ’n groot laslap-handsak onder die arm vasgeklem. Sy was duidelik op pad werk toe en ek kon uit haar vinnige stappie aflei dat sy dalk ’n bietjie laat is. Die uitdrukking op haar gesig het verklap dat sy baie diep in gedagte is; besig met haar eie dinge in haar eie kop.

Die hondjie het begin “gmf”, soos wat net ’n Jack Russel kan. Al vier pote nou op die grond. Beentjies reguit. Hare op die rug penorent. Eers toe sy nog ’n paar treë nader was, het hy vir eerste keer geblaf. Net een keer… net ’n waarskuwing. Maar sy het haar nie aan hom gesteur nie, of hom nie gehoor nie.

Hulle ontmoet mekaar seker elke dag voor en na werk hier iewers,  het ek gedink.

jack-russell-barkingSy was maar net ’n paar treë van hom af weg toe hy besluit dat dit nou tyd is om aan te val. Dit was asof hy homself opgewen het en haar toe bestorm het. Skielik was die insittendes van omtrent al wat ’n kar was (want daar het teen dié tyd al ’n hele string gevorm en steeds was die pad te besig om oor te steek) se aandag by die hond. Met ’n vreeslike geknor en ’n klipharde geblaf het hy op die weerlose bediende afgestorm. Beentjies stokstyf, al hoppende soos wat die geblaf hom vorentoe dryf.

Sy het geskrik en is só uit haar gedagtes terug aarde toe geruk. Sy het gaan stilstaan en ek het vir ’n oomblik gewonder of sy haar sambreel of handsak dalk gaan gebruik om haarself te verdedig. Versigtig het sy nader gekom… nog nader… nog ’n tree… Maar die eienaar van die sypaadjie wou nie padgee nie. Hulle was nou albei net ’n entjie skuins voor my eie kar.

Die bestuurder in die kar voor my, wat ook die situasie gesit en dophou het, het haar toeter gedruk en die meneertjie het geskrik. Die vrou het egter net ’n paar treë gevorder voor hy weer begin blaf het. Sy het haarself egter nie weer van stryk laat bring nie en het aanhou loop. Toe sy te naby kom vir sy sin, het hy so ewe by ’n erf (dalk sy eie) ingedraf en van agter die veiligheid van die palissade vir haar  gestaan en blaf. Steeds al hoppende, hare nog al die tyd regop, tande wat blinkwit sonder skaamte vertoon word. Die feit dat hy in ’n toe erf gaan wegkruip het, het my laat glimlag. Meer bek as binnegoedSy blaf is veel erger as sy byt

Net toe die vrou voor die erf verbyloop, het hy egter van iewers nuwe moed gekry en begin storm. Sy het geskrik – groot geskrik – en benoud in die pad gespring en met haar sambreel na die sypaadjie se kant toe gekeer.

Vir ’n oomblik moes ek my oë toegemaak, want ek wou eenvoudig nie sien wat gebeur nie. Ek wou nie ’n ooggetuie wees nie en ek sou nie betyds wees om haar te waarsku nie: daar het ’n groot bakkie van voor gekom en sy het reg voor hom in die pad gespring.

Daar was die geluid van remme, daar was ’n toeter wat lank gedruk word, daar was die geluid van wiele wat effens gly op die nat pad, maar genadiglik was daar nie ’n slag nie.

Toe ek weer my oë oopmaak, was die hondjie steeds besig om te blaf (maar nou weer in die erf) en die vrou was weer op die sypaadjie. Die bakkie was skuins gedraai oor die pad en die man wat bestuur het se kop het heen en weer gedraai, sy hande besig om allerhande vraag-gebare te maak, terwyl mens duidelik die swetswoorde en krasse name kon sien wat uit sy mond kom. Die vrou was amper grys van die skrik waar sy op die sypaadjie gestaan het, sopnat met haar op sambreel langs haar. Haar handsak het amper onder die bakkie se neus in die pad gelê, die binnegoed amper alles buite, maar sy was okay. Slim, het sy van die geleentheid gebruik gemaak om vinnig weg te kom… sy het haar hoed gegryp en so vinnig as wat sy kon oor die pad geloop, totdat sy veilig verder gestap het aan die anderkant van die pad. Vinniger as voorheen. Meer doelgerig. Meer gefokus.

 

Met dié het ek begin dink dat ons almal seker (en ek sluit myself beslis hierby in) op een of ander stadium soos dié vrou is: vasgevang in diep denke en onsself, terwyl ons doelgerig op pad is iewers heen. Of eerder, totdat ’n klein probleempie ons pad langs kom en ons fokus laat verloor, ons konsentrasie verbreek en ons aandag van die pad aflei. En sjoe – hoeveel keer het ek nie al self soveel aandag aan so ’n klein probleempie se ge-kef-kef gegee nie… meer aandag as wat nodig was… en amper myself afgeskryf omdat ek nie bewus was van die groter probleem wat met spoed van voor af kom nie.

Die realiteit en die eye-opener was daardie oggend vir my dat klein kef-kefs nie so erg is (en nooit so erg behoort te wees) soos groot kaboems nie. Ek vat eerder ’n Jack Russel wat agter palissades wegkruip aan as ’n 4×4 bakkie.

My besluit? Ek wil probeer ophou om soveel tyd en energie te mors op probleempies waarvan die blaf erger is as hulle byt. Die eenvoudigste oplossing vir die vrou in vandag se blog sou waarskynlik wees om net van die begin af aan die ander kant van die pad te gaan stap. Dit sou alles vermy het; selfs die potensiële lelike ongeluk.

Iemand met baie wysheid het eendag vir my gesê dat ’n lewe sonder drama eintlik net ’n besluit is… ek dink ek moet dalk harder probeer om net aan die stil kant van die pad te gaan loop. Ek is moeg vir probleme… moeg vir die drama wat daarmee saamkom… en ek het nodig om weer te fokus op dinge wat belangrik is (soos om veilig by my eindbestemming uit te  kom)!

Advertisements

4 thoughts on “Kef-kef… KABOEM!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s