Kommapunt 10: Probeer nie altyd die beste geweer

Dit is al meer as vyf maande sedert ek my laaste “Kommapunt”-inskrywing hier gemaak het. Al rede waarom ek tot nou toe nie weer iets geskryf het nie, is omdat ek eenvoudig net te deurmekaar was. Die een oomblik gaan dinge goed, en net die volgende gaan dit weer sleg en praat ons van skei. Die onvoorspelbaarheid van my huwelik is besig om sy tol in elke aspek van my lewe te eis, en ek weet in alle eerlikheid nie waarheen hierdie storie meer op pad is nie. Ek weet waarvoor ek hoop en bid, maar ek begin al meer wonder of dit hoop en bid vir die onmoontlike is… In elk geval, hier kom Kommapunt 10.

Dit was met moeite wat ek hom oorreed het om saam met my die berader te gaan sien; die een wat ek met baie Google, oplees, aanbevelings (op die Internet) geïdentifiseer het. So ewe ’n seksuoloog so saam met die sielkundige – net wat ons nodig het, het ek gedink. Hy het baie teen die gedagte geskop, en ek kon op sy gesig sien hoe min hy lus is om ons slaapkamersake met ’n vreemdeling te bespreek, maar ek het geglo dat dit die begin van ’n oplossing kan wees.

Die lang pad na die spreekkamer was ook ’n stil een. Ek weet nie wat deur sy kop gemaal het nie, maar ek was net bang dat die gesprek wat volg ons verhouding nog verder in die wiele ry. ’n Mens hoor tog van soveel paartjies wat vir berading gaan, en dan is dit net geld wat in die water gegooi word, tyd wat gemors word en selfs groter bakleiery as voor die sessie. Ek was bang, maar ek kon dit nie vir hom wys nie. Ek moes weer sterk wees vir hom, want ek het geweet hoe min hy “kopdokters” vertrou en respekteer.

“Ons gaan, ons kyk, en ons praat na die tyd met mekaar daaroor. As dinge nie hier uitwerk nie, dan sê ons so vir mekaar. As jy ongemaklik of ongelukkig voel oor iets wat daar binne gebeur, dan sê jy dit vir my. Onthou, ek kan nie jou gedagtes lees nie, maar ek wil ook nie jou of my tyd mors nie. Asseblief, wees net eerlik oor alles. Ek sal jou nie kwalik neem vir enigiets wat jy sê nie. Wees net eerlik. En vertel haar die HELE waarheid. As jy dit nie doen nie, gaan dit net ’n mors van tyd wees. Okay?”

As ek aan my woorde (wat ek elke 5 minute herhaal het) terugdink, kan ek nie verstaan hoe hy dit reggekry het om vir so lank kalm te bly in die kar nie. Ek het aangegaan en aangegaan en aangegaan hieroor… alles wat ek opgelees het oor “terapie” en al die moets en moenies, en ek wou hom attent maak daarop dat ek waardeer dat hy saam met my sal probeer om aan ons verhouding te werk en bereid is om iets ekstreem (vir hom, in elk geval) te doen.

Ons was vroeg vir ons afspraak, want die verkeer stad toe was darem nie te wild nie. Soos Murphy dit wou hê, was haar skedule ook agter en ons het selfs langer gewag as wat ons gedink het ons sou. Die wagkamer was klein en ons het, skaam en onseker, op twee ongemaklike en stywe gestoffeerde enkelstoele gesit en kyk na die pamflette op die tafel tussen ons.

Erektiele disfunksie? Ons kan jou help om die mas op te kom…
Vaginale droogheid? Hier is ’n veilige produk vir jou…
Vrugbaarheidsprobleme? Lees hier vir ’n oplossing…
Wakker jou sekslewe aan met dié…
Maak hom só gelukkig…
Verskaf haar só plesier…
Word ’n seksgodin!
Lus vir pret in die slaapkamer?
Leer mekaar se liefdestaal in vyf eenvoudige stappe…

So maklik soos dit! Toe nie, hoor.

Van stokstyf stoele is ons ’n ruk later na ’n gemakliker suede bank wat eintlik te sag en ’n bietjie te diep is. Die materiaal het hom laat gril en die lekkerruikgoed wat in die vertrek gehang het, het my neus laat loop.

Sy het haar lêer oopgemaak, teruggesit, haar bril reggeskuif en baie professioneel ’n duisend en vyf vrae gevra. Ek het eerlik geantwoord soos die opwenorreltjie wat ek is, en sy het knikkend geskryf, meer gevra, nog geskryf en met ’n poker face weer na my gekyk. Iewers het ek hartseer geword en hy het my hand styf vasgehou. Dalk was dit kort ná een van die “hoe voel jy daaroor”-vrae. Dalk was dit toe ek geantwoord het met “hopelessly incompetent”. Ek kan nie onthou nie.

Toe is dit sy beurt. Hy het minder woorde gebruik as ek, soos ek gedink het hy sou. Net die nodigste gesê en net genoeg om haar na die volgende vraag te laat beweeg. Hier en daar was hy nie eerlik oor goed nie, maar wat moes ek doen? Hom onderbreek en sê “haai, ou… nou jok jy mos”? Ek het gehoop dat hy sou ontspan, haar sou vertrou en mettertyd meer oop sou kommunikeer.

Na 90 minute het sy ons huiswerk gegee. Fisiese oefeninge vir my, om my pelviese spiere meer soepel te maak (sy het my blykbaar nie gehoor toe ek sê dat ek reeds presies dit doen nie), wenke vir effektiewe kommunikasie en vrae wat ons openlik en eerlik teenoor mekaar moes antwoord. Vrae wat ons eers, ’n maand later, op pad na haar spreekkamer vinnig in die kar gedoen het… hy was in die dae te besig daarvoor en nie in die aand lus om daaroor te gesels nie. Dit was afskeep-huiswerk, maar darem betyd vir die klas. Ons het in die kar effens vasgesit daaroor, omdat hy gedink het dit is regtig simpel en ek aangehou het dat hy asseblief net moet antwoord.

Tydens ons tweede ontmoeting het ons omtrent alles van die eerste afspraak herhaal. Op pad terug huis toe was ons albei moeg en moedeloos. Dit was asof sy nie kon hoor wat enige van ons vir haar gesê het nie; asof sy op haar eie stasie was en nie wou afsien van die rigting wat sy reeds ingeslaan het nie. En ten spyte van ons afskeep-huiswerk, was sy hoegenaamd nie voorbereid nie. Sake waaroor sy meer sou lees en by spesialiste oor sou uitvind, is eenvoudig nooit gedoen nie. Sy het vergeet. Sy het van haar pasiënte, wat haar met hulle intiemste sake en hulle huwelik vertrou het, vergeet. Die belofte dat ons derde afspraak beter sou gaan, het ons egter hoop gegee…

Na ’n moeilike week en baie uitdagings, en nadat ons besluit het om ’n gesamentlike profiel op ’n swing site te skep, is ons vier en ’n halwe weke later terug. Ons het haar nie van dié verwikkeling vertel nie, hoewel ek genoem het dat ek oorweeg om hom te gee wat hy vra… ’n tweede vrou in die slaapkamer. Net een keer… net om te probeer… net om hom gelukkig te maak… Sy het nie van die idee gehou nie (wat ek kan verstaan) en dit net afgeskiet sonder om verder daaroor te gesels. Die een saak wat my op daardie punt nagmerries gegee het, maar wat ek met alle erns oorweeg het dat ek ingestem het om ’n vreemde vrou saam met hom vir seks te ontmoet (hoewel sy nie opgedaag het nie), is eenvoudig net afgeskiet en ek het nie die moed gehad om haar te vra of ons asseblief daaroor kan gesels nie. Sy het my op ’n stadium gevra hoe voel ek oor die feit dat hy ontrou was, oor sy seksuele probleme, en ek het begin bewe en trane het onwillekeurig net begin vloei terwyl ek vir ’n tissue in my deurmekaar handsak gegrou het. Hy het my bobeen onseker gedruk en gevryf. Haar woorde, professioneel en koud, sal ek egter nooit vergeet nie:

“Jy moet jou kop regkry.”

Sy het kortliks uitgebrei en verduidelik dat my man my nodig het, en op die ou einde gesê dat hy ’n probleem het en ek sterk moet wees vir hom… en ek wou opstaan en haar wakker klap, want ONS het ’n probleem. Ons is saam in dié ding en alles wat met hom gebeur en wat hy doen, beïnvloed my direk. Sy aksie veroorsaak my reaksie en emosies, en andersom. My onbekwaamheid en onsekerheid het dalk aanleiding tot sy probleem gegee; dit het verseker tot sy ontrouheid gelei. Ek en my man was een in hierdie probleem; ewe verantwoordelik en ewe aanspreeklik. Ewe seer en ewe skuldig of onskuldig. Gelyk. Waarom kon sy dit, met haar 30 jaar as spesialis in die veld, nie sien nie? Waarom kon ek? Of was ek verkeerd?

Ons is weer een keer daarna terug na haar, waarna sy vir ons materiaal sou stuur om deur te werk en voor te berei. Sy sou afsprake vir ons reël by ’n uroloog, ’n ginekoloog, ’n seksuele fisioterapeut… En net voor ons volgende afspraak het ek, ná ’n e-pos-herinnering aan haar, besef dat sy net weer daarvan vergeet het.

Moedeloos en kwaad het ek met my man gepraat. Dit wat ek voorgestel het, en waarin ek al my hoop geplaas het, het misluk. Dit was ’n ramp, ’n mors van geld. Hy was nie heeltemal eerlik nie, sy het ons nie die aandag gegee wat ons nodig gehad het (en haar voor betaal het) nie, en ek het alle toekomstige afsprake met haar gekanselleer.

Wat was die doel van hierdie inskrywing? O ja… Going nowhere slowly…

Ons het probeer. Ek het, in elk geval. My ma se een sê-ding, probeer is die beste geweer, het nie vir ons gewerk nie. Ons was terug by die begin. Ons het baklei omdat ons krapperig was oor alles. Ons was moedeloos omdat ons ontdek het dat ons situasie meer uniek is as die normale huweliksprobleme, en ons was alleen en sonder hulp gestrand.

 

 

Advertisements

6 thoughts on “Kommapunt 10: Probeer nie altyd die beste geweer

  1. Dalk was dit tog nie onnodig nie, selfs al het julle by ‘n persoon uitgekom met wie julle nie regtig kon ‘kontak maak’ nie.
    Dalk was dit tog goed dat julle wel oor hierdie dinge gepraat het met ‘n buitepersoon?
    Ai, ek is jammer oor die spiraal van prober en skei waarin julle huwelik nou is. Ek is 30 jaar getroud en ek sê dit net om een rede: Dat enige huwelik in 30 jaar maar op- en aftye beleef. Jare gelede was daar ook ‘n ding van: “Nou loop dan as jy nie tevrede is nie,” tot ek op ‘n stadium gesê het: “Stop dit. Stop dit om te sê, loop dan, as jy niks meer het om te sê nie. Ek gaan nie loop nie, so hou op om so ‘n simpel ding vir my te sê.” So ‘n simpel woordjie wat dalk onbedoeld, gesê word, soos ‘skei dan’, of ‘loop dan’, kan baie skade bring. Ek het nie die antwoord nie, maar asb, as jy wil ‘aangaan’, as JULLE wil ‘aangaan’, moet daar teen sulke negatiewe sêgoed ook gewaak word. Dit vergif ons denke. Dit laat ons die idee kry dat daar tog ‘n agterdeur is waarby ons kan uitgaan as ons sou wou.
    Baie baie sterkte.

    Like

    • Ek dink dis daai moontlikheid van ‘n “agterdeur vir ontsnap” is waarom soveel huwelikke eindig. Ek WIL hê dinge moet werk. Ek WIL aangaan. Ek is net só bang dat hy nie meer wil nie. Dit voel asof hy baie keer nie 100% oopkaarte met my speel nie, en dít maak seer. Hy het al gesê ek maak sy lewe hel, en ek probeer presies die teenoorgestelde daarvan. Waar ek gedink het ek het met my beste vriend getrou, dink ek al meer hy voel hy het met iemand wat hy haat getrou… en hoe verander mens; ek; daardie mindset?

      Like

      • Oe. Dis moeilik. Ek het nie antwoorde nie. En ek WEET jy WIL, jy het dit al soveel keer bewys deur dit wat jy skryf.
        Dink ‘n bietjie by jouself: Toe julle uitgegaan het, wat was anders? Hoe was jy anders? Wie was jy toe? Wat het hom na jou toe getrek? Wat, dink jy, het jou so spesiaal in sy oë gemaak dat hy met jou wou trou, en soos dit vir my lyk, steeds getroud bly?
        Die lewe is net nie so maklik nie. Sjoe! Sterkte.

        Like

  2. Ek dink aan jou…dis iets wat met verloop van tyd opgelos kan word of wel gaan eindig soos wat jy vrees.Ongelukkig het ek nie raad vir jou nie.Ek kan net vir jou sterkte toewens. 🌻

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s