“Alles vat net tyd”

As jy die tyd kon terugdraai, hoe ver sou ver genoeg wees?

Ek onthou SW se woorde, eendag toe ek heeltemal ontrafel het oor my pa se nonsens, en dan nog my man se goed daarop by. Hy het my moed probeer inpraat en vir my gesê dat ek alles net tyd moet gee, want alles sal regkom met tyd.

Hy was slegs gedeeltelik reg. Tyd verander baie dinge, maar dit maak nie noodwendig iets “reg” nie. Tyd is nie altyd goed nie… soms help tyd mens net om met ‘n ander perspektief na sake te kyk. Vanuit ‘n hoek waarvan jy eerder nie wou weet nie.

Dis al meer as ‘n jaar en ‘n half wat ek pynlik bewus is van die ernstige probleme in ons huwelik. Elke keer wat daar weer hoop in my opvlam, kom druk iemand die vlammetjie dood; só dood dat daar nie eers meer ‘n rokie trek nie.

Elke twee tot drie maande kry ek so verskriklik seer dat my binnegoed pyn. Dis die seerste seer om vir iemand so ontsaglik lief te wees, en dan word dit alles net in my gesig teruggegooi… dít as gevolg van een enkele verkeerde treëtjie wat per ongeluk van my kant af gekom het. Onbeplan en nie met opset nie. Dis asof ek elke twee tot drie maande gemaklik raak, minder op my hoede, en dan maak ek droog. Ek vergeet iets hier of en doen iets nie daar nie, en siedaar! Die bose abrakadabra van my lewe het nóg ‘n ontnugtering opgetower!

Maar is dít hoe ‘n huwelik moet wees? Behoort dit nie eerder ‘n veilige plek te wees waar mens foute kan maak en weet dat jy vergewe sal word nie? Is die huwelik nie ‘n plek van aanvaarding, vrymoedigheid en onvoorwaardelike liefde, eerder as vrees vir ‘n verkeerde treë nie? Eerder as angs oor die moontlike nagevolge van iets wat jy gedoen het, nie gedoen het nie, of waarvan jy net bloot vergeet het?

Ek het dinge kans gegee. Nee… eintlik het ek my gat af gewerk vir my ridder; vir ons; vir my eerste en my enigste werklike held; vir die enigste een wat ek ooit wou kies. Maar dalk moes ek dit nie doen nie… dalk moes ek daardie oggend wat ek alles ontdek het net my tassies gepak en gegaan het… of iewers along the way ná daardie oomblik… Die tyd het my nie wyser gemaak oor enige hiervan nie. Dit het nie gehelp nie. Dit het nie ons probleme opgelos nie. Dit het niks beter gemaak nie.

Ja – tyd het nie die mag om iets reg te maak of dit selfs beter te maak nie, maar dit gee jou ‘n nuwe perspektief. ‘n Heeltemal ander hoek as die een waaraan jy gewoond was. Die een waar jou ridder net ‘n gewone ou op ‘n gewone perd is. Die een waar die perd dalk half donkie is… en nog bang daarby ook! Die een waar jy jouself om een of ander rede die damsel in distress gemaak het. Die een waar jy besef dat jy eintlik nie ‘n damsel is nie, maar moontlik die heldin van jou eie sprokie…

Maar wat as jy nie die heldin wil wees nie? As jy selfs jouself sal opoffer vir een persoon? En hoe regverdig is dit om van dié persoon te verwag om met so ‘n pateet opgeskeep te sit? Hoe regverdig is dit teenoor jóú om so pateties te wees?

Soms wens ek dat ek die tyd kon terugdraai en dinge beter kon maak, anders kon doen, dat ek van die begin af geluister het na die stemmetjie diep binne my wat so lank geskreeu het dat iets verkeerd is… Soms wens ek kon die tyd selfs verder as dit terugdraai… Soms wens ek sekere dinge was eerder net nooit gewees nie.

Hoe ver kan ek die tyd terugdraai om net minder seer te kan hê?

Advertisements

5 thoughts on ““Alles vat net tyd”

  1. Mens kan nie die tyd terugdraai nie,maar jy kan wel terugdink en sien waar jy foute gemaak het.In ‘n huwelik is twee mense,albei onvolmaak en vol foute en elkeen behoort veilig te voel om foute te kan maak,sonder die ander een se oordeel.Ek ken nie jou omstandighede nie,maar ek lees tussen die lyne dat jy perfek probeer wees en bang is om iets verkeerd te doen.Dit moenie so wees nie.

    Like

      • Die fout le eintlik by hom,nie by jou nie.Net ‘n werklik volwasse mens sal besef dat sy lewensmaat aanvaarbaar met alle geite en foute is.Soos die Engelese se:”What goes for the goose,goes for the gander”.

        Like

      • Hmm… ‘n minder aanvaarbare stellung vir sommiges. Ek dink my groot “probleem” is dat hy nie sien watter goeie goed ek ook reg doen nie. Ek is op ‘n plek waar ek baklei vir my huwelik, maar in baie opsigte baklei ek ook mét hom. Of ek verdedig my aksies… en dit put mens uit om hééltyd óf te moet oppas óf te moet verdedig.

        Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s