Die probleem met “vergeet”

Is dit moontlik om ooit werklik te vergeet? Het iemand dit al ooit reggekry om ‘n gebeurtenis so behoorlik uit hulle gedagtes uit te vee dat dit sommer heeltemal uitgewis is? Onherroeplik weg?

Vergewe loop hand aan hand met vergeet. Ek het grootgeword met die gedagte (dalk eerder die ideologie?) dat die twee nie van mekaar geskei kan word nie. So, as iets gebeur en my laat onthou van dit wat ek só hard probeer om te vergeet, beteken dit dat ek nog nie werklik vergewe het nie?

Soos wat vandag die geval was…

Ek was net een keer ‘n week wasgoed. Ek haat dit. Wasgoed en skottelgoed. Enigiets wat nooit klaarkom nie is geneig om my te irriteer – ek het skaars die skottelgoed weggepak of die laaste skoon klere opgevou en in die kas gebêre voor daar nuwe vuilgoed is. Dit is irriterend, frustrerend en hopeloos, maar dit moet gedoen word.

Vandag, so met die laatslaap en al, was ook my wasgoed-was-dag. Kleure is geskei in hopies van denims, donkergoed, witgoed en handdoeke. Dit is sorgvuldig gewas, uitgeskud, opgehang, afgehaal, opgevou… ek stryk eers as dit regtig nodig is.

Daar was egter iets in die hoop witgoed wat my terug geneem het na ‘n emosionele plek waar ek nie weer wou wees nie; ‘n plek wat ek so gehoop het ek van bevry was. Die herinnering aan sý ligte hemp; die een wat ek tot in die fynste detail op die foto bestudeer het; wat langs haar perfekte kaal swart lyf op die bed gelê het, terwyl sy vir hom en ons kamera ge--pose het…

Terwyl ek die hemp voor my gehou het, het al die ou vrae weer by my opgekom… Hoe het die hemp van sy lyf tot op die bed gekom? Was haar vingers op hierdie knope? Wie se idee was dit? Was  dit nét sy hemp wat gewaai het, of van sy ander klere ook? Het daar werklik niks anders as net ‘n fotosessie gebeur nie? Het hy aan haar gevat? Het sy aan hom…? Het hulle regtig nie…?

STOP DIT!

Ek wou die hemp vir ‘n oomblik lank vandag opskeur of stukkend sny met my stomp kombuisskêr, dit in spirits laat soak voor ek dit verbrand. Ek wou die simbool wat my teruggevat het na ‘n pynlike dag en ‘n flenters tyd uitwis, om seker te maak dat die brug na daardie gedagtes, herinneringe, vrae, en selfs die hoop wat daarin leef net kon disintegreer. Maar ek kon nie.

Ek het eerder ‘n briefie gaan skryf:

Ek is lief vir jou. Liewer as lief. Onvoorwaardelik. No matter what. En niks sal dit ooit laat stop nie.

Dié briefie sal in dié hemp se sak wees as hy dit aantrek. Hy sal dit dalk nie sien nie, nie eers lees nie en miskien net opfrommel en weggooi as hy dit wél kry. Maar dis daar…

Ek weet ek is sterker as my gedagtes en herinneringe. Ek weet ek gaan dit nog baie oorkom wat ek vandag oorgekom het. Ek weet ook dat vergewe én vergeet ‘n konstante besluit is… maar flip, ek wens net die vergeet deel was ‘n klein bietjie makliker!

Ek hét hom en hulle al oor en oor in my hart vergewe. Ek vertrou hom weer en ek hoop dat daardie vertroue nie weer gebreek sal word nie. Vergewe is maklik as jy regtig lief is vir iemand… maar vergeet is ‘n uitdaging; veral as dinge jou ongevraagd bly herinner aan dit wat jy baie graag net wil vergeet…

Advertisements

3 thoughts on “Die probleem met “vergeet”

  1. Dis wonderlik as ‘n mens kan vergeet ook, dis deel van die proses.
    Soms kom daardie onverwagse herinneringe wat jou so deurmekaar gooi sodat jy dit weer kan verwerk, stukkie vir stukkie, soos ‘n roof wat jy afkrap en daar kom weer ‘n bietjie etter uit, maar oor tyd raak dit gesond.
    Soms onthou jy juis om jouself te beskerm.
    Sterkte, dit wat jy wil vergeet is nie maklik nie.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s