Ingelegde laatlêers

Ná ‘n lekker besige Saterdag en ‘n troue wat nie net lekker nie, maar ook verskriklik mooi was, het ek en my man vanoggend eers 01:00 se koers by die huis gekom. Ek het lighoofdig gevoel vandat ek tydens die heildronke ‘n halwe glasie sjampanje gedrink het. My nuwe skoene het gebreek en ek het die helfte van die aand óf gesit, óf op gebede geloop en gehoop dat die laaste bandjie van my sandaal-haakskoene tog net moet hou en ek nie voor ‘n klomp vreemde mense moet val nie. Dit het, genadiglik. My helderkleurige boobtuberokkie het boonop bly afgly en ek was opnuut dankbaar vir wie ook al haakspeldjies uitgedink het. Teen die tyd wat ons by die huis gekom het, was ek moeg en wou ek net op die bed val en slaap. En ek het ook!

Dit was net voor 08:00 wat ek en my man albei die eerste keer wakker geskrik het. Die kamer was reeds lig. Die dag het reeds begin vir baie mense. Die tuinjong was voor die deur en ons het so diep geslaap dat ons hom nie gehoor het nie. Hy moes ons bel… Dis die eerste keer in ‘n baie lang tyd wat ons verslaap het, en ons het behoorlik gespartel om presentable te wees, net sodat ons die deur kon oopmaak. Daarna het ons, klere en al, weer op die onopgemaakte bed gaan opkrul. Ons was nog ver van wakker af. Ons was albei poegaai. Pootuit. Pap batterye.

Soos twee sardientjies wat ‘n klein blikkie deel, het ons teen mekaar gelê, al was dit warm. Dit was so lekker om weer met sy hartklop in my oor aan die slaap te raak. So rustig met die op-en-af-beweging van sy borskas, terwyl hy diep en rustig asemhaal.

Dit was op dié oomblik wat ek besef het mens kort dae soos dié, waar wasgoed, werk en die lewe maar moet wag. Waar mens net alledaagse goedjies wat ons almal tog maar miskyk weer moet waardeer… ‘n bed… ‘n hartklop… asemhaling… die geskenk van rustig slaap… die wonder van saamwees…

Dit was eers 11:30 toe ons onsself met moeite en wilskrag uit die bed geforseer het, gaan klaarmaak het en aan die gang begin kom het. Maar dit is vir my lekker om lui te wees. Dit was nodig. En om dit saam met die liefde van my lewe te kon doen (want hy doen dit NOOIT nie) was baie spesiaal!

My naam is Strooimeisie. Ek was vandag ‘n ingelegde laatlêer. En ek is trots daarop.

Advertisements

One thought on “Ingelegde laatlêers

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s