Swart naels en duiwelsdinge

My man het my vanaand baie skeef aangekyk. Ek het vir die eerste keer in my lewe my naels pikswart geverf. Vinger- én toonnaels! Dis iets waaraan nie ek of hy gewoond is nie; om die waarheid te sê, enige kleur op my naels voel vir my maar effe vreemd. Tog – vanaand was ek lus vir iets swarts.

Depressed? Morbied? Duiwels? Dis vir my sleg hoe vinnig mense geneig is om konnotasies te maak. En dit oor kleur! Hoekom koppel mense alewig iets aan iets en beskou daardie konneksie as ‘n sinvolle verklaring; korrek; algemeen aanvaarbaar vir die grootste deel van die samelewing? En wie het nogal die mag gehad om in die eerste plek daardie konnotasie te kon maak?

So, môre gaan ek na ‘n troue met ‘n rooi rok en swart naels. Heeltemal teenoorgesteld van die gewone swart rok en rooi naels. Ek weet dat sommige tradisie-besimpeldes my skeef gaan aankyk. Maar so what? Toevallig is swart en rooi my gunsteling kleure. As iemand iets oor my helderkleurige klere en donker naels wil sê, tough cookies!

Dié effense tartende andersheid wat ek so omhels kom natuurlik nie van vandag af nie…

As jong student was ek deel van verskeie uitreikprogramme. Ons jeuggroep het met drama, toneel en dikwels populêre musiek probeer om kerkmense iets omtrent die realiteit te wys en op ‘n ander vlak tot tieners en ander studente te probeer deurdring. Geslaagd was ons beslis, deur almal aanvaar… nie altyd nie.

“Mens swaai nie jou heupe so in die kerk nie. Dis suggestief en verkeerd,” het my ou koordansafrigter ná een van ons optredes my toegesnou. Ek kon nie verstaan waarom sy dit so erg gevind het dat ons ‘n wilde meisie in ‘n club as presies dit (‘n wilde meisie in ‘n club) wou uitbeeld nie.

“Mens speel nie daai musiek in die huis van die Here nie,” het ‘n baie konserwatiewe jongman in sy vroeë twintigs eenkeer ná ‘n optrede by ‘n kerk iewers tussen ‘n klomp mielielande vir ons gesê. ‘n Paar maande later kon ek vir hóm vra of die musiek dan minder toelaatbaar is as die swanger 17-jarige wat aan hom gehang het, terwyl sy gesig strak en ongelukkig gelyk het; ‘n wilde dier wat vrede probeer maak met die hok waarin hy vasgekeer is.

“Duiwelaanbidder…” Hy het dit kliphard vir my binne in die kerk gesê; asof ek nie daar mog wees nie. Die stywe ou omie net voor ‘n mimiek-optrede, onwetend van ons “Houtkruis”-uitvoering wat aan die einde van die nagmaaldiens sou plaasvind.

Dit maak my soms regtig siek dat mense so met oogklappe kan leef. Hulle sien EEN dingetjie en hardloop daarmee. Vinniger as die wildste veldbrand. Sulke mense laat my soms dink aan ‘n kind wat trippel van die lekker terwyl hy uit volle bors skree: “Ek het jou tog gevaaa-hang! Uitgevaaa-hang! Wêêê-hêê!” Soms is ek lus en raps daardie persoon net liggies oor die vingers en antwoord in my strengste grootmensstem, kompleet met skrefiesoë en een wenkbrou wat lig: “Ag, gedra jou nou bietjie soos ‘n grootmens, toe!”

Liewe koordans-tannie, mý lyf is deur God gemaak. My heupe is deel van die pakkie. Waarom sê jy ek moet Hom met my lyf prys, soos wat die Psalms sê ons moet, maar dan mag ek tog net nie my heupe beweeg nie?

Liewe pedofielerige bleeksiel, miskien moes jy na die woorde van daardie vreeslike wêreldse musiek luister, sodat jy kon verstaan dat “I still haven’t found what I’m looking for” eintlik baie van toepassing op jou was. Miskien moes jy eerder elders vir geluk, liefde en vreugde gaan soek het as tussen ‘n tiener se lakens.

Liewe omie met die saamgepersde lippe, swart is ‘n kleur. Dis nét ‘n kleur en dis ‘n kleur waarvan ek hou. (Plus, wit handskoene staan nogal mooi uit daarteen op ‘n donker verhoog!) Dra jy gerus jou blink grys pak en strepiesdas, dan sal ek my swart pakkie dra as ek wil. Van wanneer af is die kerk buitendien ‘n plek waar sondaars nie toegelaat word nie? Is dit nie juis waar selfs duiwelaanbidders liefde moet kan kry nie?

Neerhalend? Jammer as ek só voorkom. Maar wraggies, mense! Skrik om hemelsnaam tog net wakker. Smell the coffee and bacon! Hou op om afleidings te maak oor nonsens, veral as julle nie bereid is om die volle konteks van die situasie in ag te neem nie. Hou op om van iets, iets anders te maak as wat dit is. ‘n Kleur is ‘n kleur. ‘n Liggaamsdeel is ‘n liggaamsdeel. En woorde en klank is daar om na geluister te word, nie net afgemaak te word as geraas en gemors nie. Kyk dieper… sien… hoor… dink…! Haal af daai oogklappe, al is dit net vir ‘n rukkie…

Sela?

Advertisements

3 thoughts on “Swart naels en duiwelsdinge

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s