Nag van vrees

Dit was die middel van die nag wat ek wakker geskrik het. Gisteraand. Ek was natgesweet en my hart het so hard geklop dat dit gevoel het of ek dalk ’n ligte hartaanval gaan kry. My asem vlak en vinnig. Ek het presies geweet wat aangaan en ek was dankbaar dat ek wakker geword het. Vir ’n oomblik het ek net so gelê en staar na die dak. Daar was hierdie nood in my om net styf vasgehou te word.

Langs my het my man rustig gelê en slaap. Hy werk hard en ek het geweet hy is moeg. Dit sou onregverdig gewees het as ek hom op daardie oomblik wakker gemaak het, sy slaap onderbreek het en gevra het dat hy my moet vashou. Tog…

Asof hy kon aanvoel dat iets verkeerd was, het hy op sy sy na my toe gedraai en sy arm oor my gegooi. Ek het op my sy gedraai… veilig in ’n lepel-greep. Ek was verras toe die ongehuilde traan teen my wang afrol en op die kussing plof. Het ek gehuil ook? Net vir ’n oomblik het ek gewonder of ek dalk tog weer in my slaap gepraat, geskree, gekreun of gehuil het. Hy het al gesê dat ek dit doen. Wie sal weet, want afgesien van die droom is daar nie veel wat ek kan onthou nie… en ook maar net omdat dit ’n herinnering pleks van ’n droom was. 

Met sy arm om my, het ek weer rustig geraak en verder geslaap, maar toe ek vanoggend wakker word, het ek onmiddellik weer aan my droom gedink…

Ek het nog by my ouers gebly. Dit was ’n kort rukkie nadat ek en my man verloof geraak het, maar voor ons getrou het. Ek het ’n paar weke vantevore afgekom op foto’s en besprekings op my pa se rekenaar; heel toevallig toe ek ’n werkstuk vir my klas wou uitdruk en die rekenaar toe oopmaak op die laaste plek van waar daar iets gedruk is.

Daar was niks eksplisiet nie. Inteendeel – dit was pragtig! Die mooiste natuurtonele van watervalle, berge en ’n bekende vakansieoord. As ek nie van beter geweet het nie, het ek gedink dit is dalk ons eie ou vakansiefoto’s wat my pa op sy rekenaar gehou het. Was dit nie vir ’n foto waar hy en ’n vreemde vrou mekaar by ’n uitkykpunt in Mpumalanga gestaan en soen het nie, intiem en liefkosend, sou ek ook salig onbewus gewees het van enigiets wat tussen hulle gebeur het.

Ek het eers ’n paar dae later die moed bymekaar geskraap om weer te kyk. Hierdie keer moes ek vir die goed soek, want ek het nie die eerste keer gekyk waar dit alles gestoor was nie. Ek het uiteindelik daarop afgekom, asook op hulle besprekingsbesonderhede vir ’n langnaweek by die vakansieoord. In sy aktetas het ek ook betaalstrokies gekry… etes vir twee by die oord se restaurant… die Wimpy op pad soontoe… Steers op pad terug… toegang na ’n waterval vir twee… en ’n strokie vir ’n baie duur dameshorlosie wat kort voor daardie naweek gekoop is. Ek het sonder te veel probleme haar naam ontdek, haar van, haar selfoonnommer, waar sy gewerk het, dat sy ‘n seun het met wie my pa direkte kontak het… sy aktetas het die antwoord gebied op amper enige vraag wat ek wou vra.

Ek het myself probeer rustig hou, totaal onopgewasse vir die situasie gevoel en gewens dat ek net nooit van enigiets geweet het nie.

’n Paar dae later, toe ek gestaan en skottelgoed was en hy kos gemaak het, het ek ondenkbaar kalm vir hom gevra wie dié vrou (haar naam en van) is. Hy het eers kastig nie geweet van wie ek praat nie, wat my laat sê het dat dit onwaarskynlik is – hy het dan foto’s op sy rekenaar van waar hulle mekaar staan en soen met Lone Creek Falls in die agtergrond… Sy reaksie het meer verklap as watter woorde hy ook al gebruik het.

Hy het na my geloop, en ek was daar vir die eerste keer ooit bang vir hom. Sy oë het geflits en ek het nog nooit vantevore daardie uitdrukking op sy gesig gesien nie. Sonder om ’n woord te sê, het hy my deur die gesig geklap. Nie hard nie, maar darem.

Oorbluf, geskok, seer en oorweldig met emosies wat geen dogter ooit behoort te voel nie, het ek die skottelgoed gelos en na my kamer toe gegaan. Ek het my sleutels gevat en gemaak dat ek net wegkom, en eers later – nadat ek geweet het my ma is ook by die huis – terug gegaan huis toe.

Met die intrapslag het ek my sak naby die deur neergesit en in die TV-kamer se deur gaan staan, waar my ouers albei gesit en TV kyk het. My broer was toe eerstejaar op universiteit en het weg van die huis af gestudeer. My ouma was met verlof saam met my oom-hulle. Dit was net ons drie in die huis en ek kon my pa se gespannendheid aanvoel.

“Sal ons dit nou bespreek?” het ek prontuit gevra sonder om eers te groet. “Verkieslik sonder dat jy weer handgemeen raak.”

Dit het ’n oomblik gevat vir my ma om te begryp waaroor dit alles gaan, maar sy was toe alreeds beskerm deur haar kussing van denial, waarop sy vandag steeds gemaklik sit.

Nadat ek die onbekende vrou se naam weer genoem het, het my pa opgestaan en kamer toe geloop. Ek het hom gelos en gedink die saak is oor en verby; dat dit duidelik nie vir een van die twee saak maak nie. Maar toe my ma my begin vra waarvan ek praat, het ek haar vertel waarop ek afgekom en wat daardie middag in die kombuis gebeur het.

My pa het terug gekom… sonder veel reaksie en met geen emosie. Hy het deur die vertrek kombuis toe gedwaal en is daarna weer terug kamer toe. Dis die deel wat volg, wat my nagmerries gee.

Toe my pa terugkom, het ek eerste van alles sy gesig gesien. Rooi. Sy wange nat. Sy uitdrukking verby woedend.

“Vrou,” het hy my ma effens harder as wat nodig was geroep. “Waar is die kluis se sleutel?”

Goedertrou het sy opgestaan, die sleutel uit haar handsak, wat nog langs die bank gestaan het, uitgehaal en sonder woorde vir hom gegee.

Toe hy terugkom, was sy lyf gespanne en hy het met iets in sy hand geloop. Paniek en vrees pak my opnuut by as ek aan daardie oomblik dink…

“Is dit wat jy soek?” Sy wilde oë was net op my. “Wil jy my sien doodgaan? Jy probeer ’n wig tussen my en jou ma indryf… Wil jy my sien doodgaan? Is dit wat jy wil hê? Sal dit vir jou lekker wees as jou pa oor jou kak stories vanaand net hier selfmoord pleeg?”

Ek het na my ma gekyk waar sy steeds katatonies op die bank gesit het. Haar oë groot en oop. Asof dit haar gunsteling TV-program is wat voor haar afspeel en sy nie ‘n oomblik daarvan wil mis nie.

Ek kon self nie ’n woord uitkry nie. Om die waarheid te sê, ek kon nie praat nie en ek het ook nie geweet wat om te sê nie. In my het ek gegil. Hard, sodat die huis se dak lig en ons bure my kon hoor. Maar vrees het my oorval, en ek kon nie eers my mond sover kry om oop te gaan nie. Ek het geweet hy sou nie homself skiet nie… nóg nie…

“Vanaand… skiet ek julle almal vrek!”

En dit is waarvoor ek gewag het. Chaos het losgebars. Ek het geweet hy is ernstig.

My ma het in ’n oomblik na hom toe gehardloop; meer om hom te keer om iets aan homself te doen as aan my of haar. Ek het in ’n fraksie van ’n sekonde besef dat my sak met my foon en pepersproei te ver is om dadelik te gryp, en dat dit te lank neem om die hek oop te sluit en weer pad te vat. Buitendien… wat van my ma?

Ek het in die kombuis ingehardloop. Dié het twee ingange kort op mekaar gehad. My pa het my gevolg. Ek vermoed hy het gedink dat ek by die voordeur sou probeer uitkom, maar ek het geweet ek sal nie so vinnig kon wegkom nie. Die veiligheidshek by die deur was al lankal stukkend en mens moes mooi mik met die sleutel sowel as die draai daarvan om die lendelam ding oop te kry. Dan was daar nog die skuifhek in ons oprit wat moes oop voor ek by my kar kon uitkom… buite was nie vir my ‘n opsie nie.

Ek het, sodra ek gesien het dat hy in die kombuis is, kort op my hakke, my sak in die voorportaal gegryp en deur die TV-kamer, waar my ma nog gestaan het, gehardloop.

“Ma… kom!” Ek het haar arm gegryp, maar sy wou nie beweeg nie. Haar oë was wild en ek het geweet ons voel presies dieselfde angs. Ek het net anders daarop reageer as sy. Met my pa steeds kort op my hakke wou ek haar op daardie oomblik uit die trans uit klap en haar saam met my sleep, maar ek kon om een of ander rede nie. Sy was histeries op haar manier en dit het van my afgehang om ons almal te probeer help.

Ek het myself in die een deel van die huis toegesluit. Die veiligheidshek in die gang wat my, my broer en my ouma se slaapkamers van die res van die huis geskei het, het vir ’n slag gewerk en ek het selfs dit reggekry om die sleutel uit te trek en nie te laat val nie. Ek het in my ouma se kamer gaan wegkruip. Die lig af gelos. Eers in haar klerekas, want ek het geweet dit sou nie moontlik wees vir my pa om my daar by te kom nie; selfs al probeer hy om my deur die venster te skiet. Toe ek hoor dat my ouers baklei, en ek min of meer op gehoor kon volg waar hy in die huis is, het ek na die huisfoon gehardloop. Ek het in ’n amperse fetusposisie tussen Oums se spieël- en laaikas gaan sit. My kop was dom… my vingers wou nie die knoppies reg druk nie… seker eers die vierde keer het ek dit reggekry om die enigste nommer wat ek in my kop gehad het, reg in te druk en te bel.

My man (of toe nog my verloofde) het aan die ander kant geantwoord.

“Help my! Asseblief! Kom help my net! My pa wil ons almal doodskiet! Hy het sy geweer by hom en hy wil my vrek maak!”

Ek kan nie onthou wat hy gesê het nie. Ek kan nie onthou hoe ek daarop reageer het nie. Ek weet net dat ek onbeheersd begin huil en bewe het. Ek was nog nooit in my lewe so bang nie. Al wat ek kan onthou, was dat ek vir hom gevra het dat hy versigtig moet wees en dat ek gesê het hoe lief ek vir hom is.

Hy het minder as 20 minute later by ons huis gestop, hoewel hy ’n goeie halfuur (teen spoed) van my af gebly het. My pa en ma was toe weer rustig… asof niks fout was nie… ek was in ’n toestand en steeds in die kamer toegesluit. Bewwrig en amper te bang om die hek oop te sluit; amper te bang om selfs saam met my held deur die voorste vertrekke te loop, waar my ouers gesit het. My ma het stip na die TV gekyk en my pa het gepraat asof ek dalk eerder in die groendakkies hoort.

Het ek my dit alles net verbeel? Was ek regtig besig om stapelgek te raak?

Tot vandag toe maal hierdie vrae deur my kop. En ek het nie ’n antwoord nie. Ek glo nie dat ek dit net kon opmaak en my die hele situasie kon verbeel het nie… Kon ek?

Daardie aand het ek by my toe verloofde in sy ouerhuis deurgebring. Ek het die harde bed in hulle koue spaarkamer waardeer. Geslaap het ek nie, want elke keer wat ek begin wegraak, het ek wakker geword… ek het opnuut van my pa en sy pistool probeer vlug.

Maar ek was veilig. My ridder het my kom red en tot op ’n plek gebring waar ek nie nodig gehad het om bang te wees nie. Die een wat ek vertrou met alles wat ek het en alles wat ek is, het my beskerm… die een wat ek sal liefhê tot heel aan die einde van alles. Ek het geweet ek kon asem haal en ek kon maar rustig raak, want hy is naby… Net soos gisteraand, toe ek wakker word uit my droom en sy arm toevallig oor my val en hy my styf teen hom vastrek… al was dit net vir ’n rukkie. Ek het geweet ek is veilig, want hy is daar om my te verdedig teen al my nagmerries.

Advertisements

One thought on “Nag van vrees

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s