Om ’n verskil te maak

Ek het vanaand begin skryf oor iets anders, maar toe vind ek uit waaroor ek eintlik baie graag wil skryf… my een groot wens.

So, voor ek vergeet en wegraak in my woorde – hier is iets oor Strooimeisie:

Sy bly in ’n paleis van ’n huis in ’n plattelandse dorpie wat haar gelukkig maak. Sy het ’n baie goeie werk wat haar soms frustreer, baie uitdaag en uiteindelik altyd bevredig. Sy het genoeg geld om vir haarself te sorg (of sy sal weer binnekort daar kom as haar huis net eers klaar reggemaak is). Sy het vriende – die opregte en ware soort wat saam met haar deur diep water sal swem en monsters sal trotseer, maar ook sjampanje sal bring as dit tyd is vir feesvier. Sy het met haar eerste (en enigste) groot liefde getrou… ’n sprokie geleef saam met haar ridder vir baie lank, en sy hoop en vertrou dat hulle lewe saam weer ’n sprokie sal word. Sy het geen gebreke of ernstige siektes nie. Sy is eintlik gelukkig; meeste van die tyd. Sy glimlag wanneer sy ook al kan en wil heimlik afshow met haar lagplooitjies om haar oë. Maar ook… sy voel alles verskriklik intens. Emosies, seer, liefde, passie, drome, hoop… sy voel dit aan in die mense om haar en sy reageer daarop asof dit haar eie is. Empath? Nee… of dalk. Al wat sy weet, is dat dit iets is wat sy nie kan verhelp nie, al wil sy ook soms en al het sy al probeer. Dis seker waarom haar een grootste wens eenvoudig net is om ’n verskil te kan maak.

Ek was nog nooit iemand wat ander wou seermaak, afbreek of negatief beïnvloed nie. Jammer vir alles in my blog tot dusver wat iets anders gewys het. Impulsiwiteit en emosies maak dat ek soveel keer net heeltemal verkeerd optree. Pyn, verwerping en gebrokenheid kan ’n mens so vinnig bitter maak. Ek is in daardie opsigte presies dieselfde as baie ander mense. Dit is egter nie ’n verskoning nie. Net omdat dit met amper almal gebeur, en amper almal só daarop reageer is nooit ’n geldige verskoning nie.

Daar is die laaste ruk iets regtig vreemd in my aan ‘t gebeur. Ek het hierdie begeerte om daar te wees vir mense. Dis asof die wete dat ek op een of ander manier iets doen om hulle te help vir my soos suurstof geword het. Ek weet nie of ek dit verslawing wil noem nie. Ek dink dis eenvoudig net wie ek is. Maar mense verstaan dit nie altyd nie en dink dit is kinderagtig en simpel en dat ek iets daaruit wil kry.

Moenie my verkeerd verstaan nie – ek was nog altyd een van daai mense wat die agterosse aanhelp (hoofsaaklik omdat ek self ook een is), wat verlore honde help om by hulle huise te kom, wat voëltjies wat uit nessies val weer probeer gesond dokter, wat regtig probeer om iets vir ander te doen. Haha – iemand wat tot baie onlangs toe nie “nee” geken het as mense my vir ’n guns gevra het nie… Op die oomblik gaan dit egter nie soseer daaroor vir my om mense te HELP nie, maar eerder net om vir hulle daar te wees. (Ja, daar is regtig ’n verskil!)

Goed – dalk is daar iets in vir my ook. As ek weet ek het iemand gehelp of dat ek bystand gebied het op een of ander manier, voel dit asof ek op ’n high is. Dit maak my so gelukkig dat ek kan voel hoe my glimlag van my mond tot in my hart loop en deur my are begin bruis… hoe dit uit my oë straal… hoe dit my energie gee en positief laat voel… In sekere opsigte is dit effens verslawend.

In elk geval, ek het vandag vir ’n oomblik stilgesit (ja, dit was letterlik net vir ’n oomblik, en dit is nogal vir my ’n hengse uitdaging om so iets te doen) en gedink. Oor my lewe. Oor die besluite wat ek in die afgelope jaar en ’n half geneem het. Oor mense wat my lewenspad gekruis het… dié wat nog daarin is en dié wat ’n ander koers ingegaan het. Oor my blog.

Skielik het ek begin twyfel in wat ek hier doen. Ek het my eie goed gelees en ek het skielik naar gevoel van angs. Die gevoel dat mense kan dink dat ek ’n drama queen is vir wie alles net om haarself draai en die moontlikheid dat die wêreld dalk dink ek is ’n pretensieuse kinderagtige strooikop het my amper gewalg. En toe vra iemand wat my en my blog  lees en ken vir my: “Wat maak dit saak?”

Inderdaad. Wat maak dit saak?

Vir die meeste mense sal dit seker glad nie saak maak nie. Maar ek voel anders daaroor.

Vir my het dié uitlaatklep-blog van terapeuties tot iets heel anders gevorder. Vanaand het ek besef dit gaan lankal nie meer net oor my nie. Dit gaan oor die mense om my ook én lesers. Ek skryf nie meer net om dinge vir myself te verwerk, self heel te word, self beter te voel en dinge uit my eie sisteem te kry en te verwerk nie. Ek skryf ook om in ander se lewe een of ander verskil te maak. Dalk om mense bewus te maak van die seer wat hulle oor iemand anders (dalk ’n kind of eggenoot) kan bring deur ontrouheid. Dalk om mense wat deur soortgelyke situasies as ek is of besig is om daardeur te gaan, te help verstaan dat hulle nie alleen is nie en dat daar altyd hoop is op iets beter as die huidige omstandighede. Dalk omdat ek my storie wil deel, sodat mense bewus kan wees van hoeveel rou en onverwerkte emosies eintlik in mense kan wees terwyl hulle jou met ’n glimlag groet en jou help; aan die binnekant eintlik uitmekaarval terwyl jy dink hulle lewe is so perfek… Dalk wil ek mense net op ’n manier wys dat selfs die sterkste persoon wat altyd glimlag, ook die flenters mens kan wees wat in die aand op die koue badkamervloer sit en huil terwyl die wêreld droom…

Ek weet nie. Dalk wil ek net op een of ander manier mense laat dink en bewus maak van iets.

Dalk wil ek net op een of ander manier iewers ’n verskil maak in iemand se lewe.

 

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s