Halfmeisie… heelmens

Ek het ‘n vriend op ‘n webwerf  gehad (jy weet watter soort site as jy dié geskerts van my al lank genoeg volg; waarskynlik ook wie dit is). Die ou het my eendag vertel van sy “halfmeisie”. Dit was ‘n jong vrou met wie hy ‘n verhouding van een of ander soort aangeknoop het en wat op die ou einde meer wou hê as wat hy haar kon bied. Meer as waarop hulle oorspronklik ooreengekom het. Toe hy dit besef het, is sy in sy boekies gedegradeer (my woord, nie syne nie!) van volmeisie tot halfmeisie.

Ek kan nie verklaar waarom nie, maar dié gedagte het my nog altyd so baie gepla… degradering… halfmeisie… en ek het diep in my gehoop dat ek tog net nooit self so iets moet oorkom nie.

Ek het gisteraand weer in die middel van die nag wakker geword en dit val my nou by dat ek van dié halfmeisie gedroom het. Maar dit was nie ‘n gesiglose of vreemde mens nie. Inteendeel! Ek ken haar goed. Baie goed. Sy is ek.

Ná ‘n rukkie van wakker lê, het ek weer aan die slaap geraak. Die droom bly egter van toe af nog die heeltyd in my agterkop. Dis vreemd dat ek soveel goed agter my kan sit, daarvan kan vergeet, mense se opmerkings kan afmaak as onsin en net kan aangaan met my lewe sonder om weer daaraan te dink. Net hierdie een persoon en dié een gedagte bly by my spook. Knaend. Die oomblik wat ek dink die skim het uit my gedagtes verdwyn, kom iets weer terug en dan voel ek die bykans tasbare leemte van ‘n goeie vriend wat ek verloor het en vir wie ek seker ook nou niks anders nie as ‘n vervreemde halfmeisie geword het. Nie omdat ek iets meer verwag het as wat hy my gebied het nie, maar juis omdat ek myself is. Of so voel dit.

En dis in dié gevoel wat ek so pas iets groots besef het.

In sommige mense se oë; ook my eie; is ek net ‘n halfmeisie. Onvolkome as gevolg van oorywerigheid, oorgretigheid, intensiteit, emosioneelheid, kinderlikheid, naïwiteit, gebrekkigheid… Maar is dit regverdig teenoor myself dat ek myself so degradeer? Is dit regverdig van hulle? Is ek net half? En tel hulle degradering enigsins vir iets?

Ek dink (en dis net my opinie – beskeie en nogal biased) dat ek wel in baie opsigte net ‘n halwe meisie is, maar in baie opsigte ook soveel meer.

Hoe so?

Ek leef met passie. Ek pak niks aan as ek nie weet dat ek ‘n sukses daarvan kan maak nie. As ek iets nie die eerste keer suksesvol regkry nie, dan verander ek my strategie, ek maak ‘n nuwe plan en ek probeer weer… aanhouers wen immers. Ek glo dat elke probleem ‘n oplossing het, soos ‘n pot wat nie sonder ‘n deksel uit ‘n fabriek uitkom nie… potte en deksels… probleme en hul oplossings. Ek weet en besluit konstant dat elke situasie ‘n leerervaring inhou en dat ‘n mens altyd kan groei, ongeag jou situasie… selfs plante het tog kunsmis, hoendermis, beesmis, een of ander soort poef nodig om mooier en sterker te wees! So ek is dankbaar vir die poef en verlig dat ALLES in die lewe nie net stink situasies is nie. Ek leef met absolute oorgawe, maar ook met takt en beheersing wanneer dit nodig is. Of ek probeer. Dit beteken dat sommige mense soms versmoor voel, want ek het dalk net soms net te veel emosies wat ek net nie kan keer nie. Ek kan nie my gevoelens wegsteek nie en ek dink dit is in elk geval verkeerd om daaroor te jok. Ek glo aan vriendskap… opregtheid… onvoorwaardelikheid… Ek glo in mense se goedheid, al maak hulle jou seer, en dat daar altyd ‘n kans vir verander, groei en herstel is. Ek glo dat dit in my vermoë is om iets vir die mense om my te kan doen, hetsy deur emosionele bystand, fisiese bystand, vriendskap, ‘n gawe woordjie of iets so eenvoudig en alledaags soos ‘n glimlag. Ek kies om om te gee en alles te voel, hoewel ek dinge soms dalk ‘n bietjie té intens ervaar. As dit reën, wil ek buite gaan dans… uitbundig, uitgelate lag, sonder omgee of skuldgevoel… tot my longe seer is van die lag en my klere sopnat teen my lyf vasplak… Ek wil áltyd opreg wees… Ek het ‘n brandende en onblusbare begeerte om te lééf… te ervaar… te groei… te verbeter… en skielik ook om myself te wees!

Halfmeisie? In soveel opsigte is ek dit seker. Maar halfmens? Nooit. Dís iets wat ek myself nooit sal toelaat om te wees nie. Ek sê nie ek is heel- of volkome-enigiets nie. Ek sê net dat ek hard daaraan werk om op pad soontoe te wees, en dit moet vir iets tel. Reg?

Ek kan seker geklassifiseer word as halfmeisie oor een of twee goed wat verkeerd is in my lewe. Maar ek is nié ‘n halfmens nie. Niemand het die reg om my só in te boks of te oordeel nie. Daar is te veel goed wat my ‘n amper-volmens maak. En ek is soveel voller as net half.

Advertisements

3 thoughts on “Halfmeisie… heelmens

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s