Verlore herinneringe

Ek het aan die slaap geraak vir ‘n rukkie, maar skaars 10 minute in ‘n droom in, het ek weer wakker geword. Jip, alweer! Dis lastig as mens wil slaap, maar nie kan nie, of wakker te word uit ‘n droom wat so werklik was dat dit voel of jy in ‘n ander wêreld en tyd met iemand gesels het. Dis hier waar ek deesdae my bykans verlore herinneringe weer terugvind.

Ek droom die afgelope ruk sonder ophou van mense wat ek mis… my oupa… my man… SW… J… nog ander… Die lekker tye wat amper vergete was kom dan in dié drome na my toe terug… kapokkies wat kuikens uitbroei onder die geboude braai in ons agtererf… lugkastele wat met dig geweefde stories aanmekaar gepleister word – ‘n perdeplaas (al kan ek nie perdry nie)… die eerste soen wat ek en my man gehad het… geselsies oor karre, motorfietse, bergpasse, sandduine, ver lande wat ek weet ek maar net in my drome te siene sal kry… onwerklike dinge wat nooit sal realiseer nie…

Ek het nou net, in my droom, seker een van die wonderlikste oomblikke van my lewe herleef. Dis iets wat ek nog nooit met iemand gedeel het nie, so here goes...

Dit was omtrent ‘n maand nadat ek en my man vas begin uitgaan het, wat ek en hy een Saterdag in sy slaapkamer gelê en musiek luister het. Die klanke van ou 80’s musiek, waarvan ons albei hou, het amper hard uit sy klein hi-fi gekom. Hy het met sy kop agteroor gelê, sy oë toe; ek het langs hom op my maag gelê met my ken op my voorarms en my tone dak te kant toe gepunt… bene al swaaiende op die musiek se ritme. Ek het geweet dit irriteer hom as ek nie kan stilsit of -lê nie, maar ek sukkel regtig om wakker te wees en níé te beweeg nie. Vandag nog!

Op een of ander stadium het hy sy oë oopgemaak en vir my begin kyk; waarskynlik om te vra of ek nie kan stil lê nie, maar die vraag is nooit gevra nie. Ek het dit eers ‘n ruk later besef en vreeslik erg begin bloos toe ek sy oë op my gesig vang… Die intensiteit op sy gesig was iets ysliks!

Hy het my wilde hare (nee, nie van kafoefel nie… my hare is natuurlik ontembaar en ons was soet!) uit my gesig gevryf, my stip in die oë gekyk en ek vermoed sonder om regtig daaroor te dink, saggies en so ewe in Engels gesê: “You are so beautiful!”

Noudat ek daaraan terugdink, weet ek dit was een van die onskuldig-opregste oomblikke ooit tussen my en hom gewees. Ek het vreeslik rooi gebloos; iets wat ek ongelukkig vandag steeds goed regkry as ek ongemaklik, skaam of erg verbaas is. Ek kan nie onthou hoe ek verder reageer het nie. Al wat ek weet, is dat daardie oomblik so perfek en sy oë so opreg was dat ek hom regtig geglo het. En dit was die eerste keer in my lewe wat iemand só iets vir my gesê het…

Ná my oorspronklike reaksie (wat ek weens my verslaendheid regtig nie kan onthou nie), het ek kinderlik-kinderagtig begin skerts… nog iets wat ek tot vandag toe nie afgeleer het nie, en wat nogal maklik gebeur as ek selfbewus voel. Ek wens egter ek kon daardie oomblik oor hê in die realiteit; nie net in ‘n droom nie. Dan sou ek hom soen… dankie sê… en hom dalk selfs vra om dit weer vir my te sê… ek het daarvan gehou…

Ek mis sulke oomblikke. Ek wens ek het geweet hoe om dit en die mense wat in daardie oomblikke was, weer terug te kry in my lewe…

Advertisements

2 thoughts on “Verlore herinneringe

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s