Droëbek

En sy was moeg. Die emosionele mallemeule van die afgelope jaar of wat hét sy tol begin eis en dit hét haar uitgeput. Selfs meer as waaroor haar goeie vriend, SW, haar gewaarsku het. Sy was deurmekaar en uitgemergel tot in die diepste donkertes van haar siel. Sy het al soveel keer geskree, gehuil, gebid, gepraat, haar siel uitgestort by ’n berader… haar man… haar vertroueling… haar vriende… haar valse vriende… Maar die oomblik wat dinge begin moeilik raak, het sy besef, bevind jy jouself alleen op ’n berg iewers tussen niks en nêrens. En selfs onder tussen die skare, voel jy steeds alleen. Sy het warm omhelsing van haar man gemis… sý hande oor haar lyf en sý mond oor hare… sý geselskap… sý liefde… sý aandag…

Sy het die vriendskap wat sy met SW gedeel het so ontsaglik baie begin mis in die laaste paar dae en haarself weer saggies in haar agterkop gestraf vir die feit dat SW nie meer ’n plek in haar gemors van ’n lewe wil hê nie en ook eenvoudig net nie meer tyd het nie. Sy kon dit verstaan, maar dit het nie die gemis minder gemaak nie… Sy mis die gevoel dat iemand omgee ten spyte van haarself. Sy mis die gedagte dat iemand iewers met haar wil gesels, sonder desperate innuendo’s en voorbedagte rade. Sy mis die wete dat iemand gemaak-opreg of selfs opreg net aan die ander kant van die rekenaar of foon kan wees; bereid om vir haar te sê dat alles eendag wel weer okay sal wees; vir daardie 5 minute se nonsens praat wat die hele dag soveel beter kan maak.

Vir aandag het sy weer die site gaan besoek waar aandag vir enige ding (veral dié met borste) gewaarborg word. Desperaat vir geselskap. Enige geselskap. Binne ’n halfuur is die nuutgeskepte profiel egter weer gesluit en iets het haar begin walg. Dalk die valsheid van dit alles? Die verskuilde agendas en die wete dat daar niks eg daar skuil nie… net manipulasie en uiteindelik seer en gebrokenheid. Dalk die besef dat sy ook nou ’n manipuleerder geword het; die een wat nooit ’n man vir iets anders as net vriendskap sou ontmoet nie… hoewel sy vandag sou voorgee dat sy wel sou… hoewel sy gister gewens het dat sy die moed gehad het… net vir versadiging van haar aptyt vir ’n bietjie aandag… net vir haar eie selfsug…

So uitgeput soos iemand wat vir veertig jaar in die woestyn rondgedwaal het, het sy met hangende skouers, brandende oë en ’n vaal gesig voor haar rekenaar ingeskuif. Natgesweet van die vreeslike hitte wat hulle omgewing soos ’n plaag verpes. Die stof op haar lessenaar het aan haar hande en arms gekleef. Sy het net gister afgestof, maar mens sou nie so sê nie. Vies, vee sy die bruinerigheid van haar vel af. Haar mond voel droog. Stadig sluk sy ’n skoon glas se helder, koel water af. Dit was vanoggend op die nuus dat dele van die land nou ’n ernstige droogte het. Nie ’n druppel in die krane in sekere dele van die land nie. Reservoirs naby haar tuisdorp is heeltemal droog. Vee vrek van hitte-uitputting. Waterbeperkings help nie. Daar word nie binnekort enige reën verwag nie.

Sy wonder of dit is wat droogte aan mens doen… jy raak irrasioneel en simpel. Ongefokus. Emosioneel. Manipulerend. Selfs goedkoop. Jy begin om in jou desperaatheid te gryp na enigiets en alles, solank jy net nie nodig het om aandag te gee aan die ernstigste van sake nie.

Die studente in die Kaap betoog, want hulle wil gratis onderrig hê. Kyk hoe word die plek verwoes en afgebrand. Twee dekades terug se belofte is steeds nie geëer nie, niks het daarvan gekom nie, so nou verwoes hulle wat ook al daar is. ’n Punt moet immers gemaak word. As die wêreld nie brand nie, sal niemand tog luister nie. Al is daar nie geld daarvoor op sulke kort kennis beskikbaar nie.

Zuma wil ’n vliegtuig vir homself laat koop. Skielik is dit hoofnuus wat die betogings in die Kaap oorskadu. ’n Skamele R4 biljoen wat natuurlik op niks beter spandeer kan word nie. Hulle sal dié geld van iewers af kan kry… dis mos belangrik! Die geld sal nie vermors word nie, ten spyte van die finansiële krisis in ons land, waterskaarstes, onderhoud wat nie gedoen word nie, mense wat huisloos is, studente wat betoog… Maar toemaar! Die jet sal in die staat se besit bly, selfs lank nadat die president en al twaalf sy vroue Nkandla gemeubileer het én daar ingetrek het. Dis nou as hulle geld het om die vliegding te onderhou…

Iewers wil iemand iets vir die omgewing doen en het hulle ’n bewaringskema vir leeus gestig. Kyk, tot bekende kunstenaars ondersteun dié inisiatief nou. Cecil was toe nie al een wat doodgemaak is nie. Tsk-tsk… stoute tandarts wat hom geskiet het! Arme leeus. Arme vegans! Moet tog net nie van die vegans vergeet nie… en watter bloeddorstige-moordenaar-vleisvreter sal tog ooit toegelaat word om te vergeet van die vegans! Soms wonder ek wat sal gebeur as hulle mielie- en koringboere met soveel ywer ondersteun as wat hulle bees-, skaap- en hoenderboere beveg…

’n Suid-Afrikaner is in Jordanië doodgeskiet. Ons weet ook maar net hiervan omdat twee Amerikaners saam met hom dood is in dieselfde skietvoorval, en die Amerikaners wil hê almal moet weet dat van hulle mense weer in die spervuur was. Intussen bars al wat bom is in Sirië… Putin is so stil soos die graf wil net rustig drink aan sy glasie melk… Obama en Brown wil ook iets tot die internasionale nuus byvoeg… hulle lewer goeie toesprake… kyk, sommige presidente en eerste ministers kan wél lees (al is dit nou net oor hoenderboudjies wat Suid-Afrika toe kom) en selfs groot getalle sonder enige moeilikheid of onduidelikheid uitspreek!

En wat sal ons nou in Suid-Afrika hoor oor die Taliban in Afghanistan, wat een dorpie na die ander vir hulleself opeis; want wil iemand nog iets van hulle weet? Osama is mos nou dood en Afghanistan is ou nuus. Net mense wat genoeg belangstel en Google news alerts daaroor kry sal hiervan weet, en ook maar net omdat hulle omgee vir iemand wat dalk nog iewers in daai wêreld is of wat dalk nog daar mag wees.

Sy kyk na die leë glas voor haar. Opgedroog. Sy voel die stof op haar hande. Vuil. Sy gril…

Waaraan het sy nounet so diep gedink? Alleenheid… Begeerte… Verlore liefde en vriendskap… Oorlog… Droogte… Nee, stof. Dis te vuil hier om haar. Sy moet afstof. Die plek moet skoon kom… g’n mens kan nie so lewe nie.

Dan staan sy op, en stoot eers al die gedagtes van nuusdinge, verlange, begeertes, manipuleerders, gebruikers, seer, werk… álles opsy, en sy kom terug met ’n blikkie Mr Min en ’n stoflap. Dit sal die ding doen. Dit moet net. Dít sal álles beter laat voel. Selfs al is niks eintlik beter nie.

Advertisements

2 thoughts on “Droëbek

  1. Die rivier is diep. Die rivier is wyd. Die rivier is sterk.
    Jy is sterk. Selfs al voel jy nie so nie.
    Die feit dat jy besluit het om sekere afbrekende goed te los, vir goed agter te laat, maak dat jy al ‘n hele entjie gevorder het.
    Byt asb vas, al is dit baie moeilik. Kom skryf op jou bog omdat dit jou ‘n geleentheid tot ontlading gee, ‘n geleentheid dat jy jou gedagtes kan orden.
    Die rivier hét ‘n ander kant. Byt vas, jy vorder mooi.
    Baie baie sterkte.

    Liked by 1 person

  2. Stem saam met Toorts. Nou is daar die nuus oor die aanvalle in Parys. Waar gaan alles eindig. Hoekom moet onskuldige mense sommer doodgeskiet word? ( Dis die vraag wat ek ook graag vir SA beantwoord wil hê. Daar is egter geen oplossing nie) Sterk staan, daar is tog n doel mee al weet mens dit nie.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s