“So wat dan van kinders?”

So dit gebeur toe Sondag dat my ma my sommer net so uit die bloute kontak. Dit sou haar en my pa se huweliksherdenking gewees het, maar hulle is in Februarie vanjaar geskei… nie dat dit iets beteken nie, want hy bly steeds by haar en sy betaal steeds al sy uitgawes. Of hy nog so met haar mors of nie, is geen van my besigheid nie. Of hy goed is vir haar of nie is iets waarin ek nie op die oomblik belangstel nie. Snaaks hoe iets jou eendag net oor die afgrond kan stoot en kan laat besluit dat jy net regtig nie meer kans sien nie. Dis wat die situasie met my en my pa is… ek moet myself beskerm, ek moet myself probeer liefhê en ek moet myself van manipulasie en verdere pyn (of die herhaling daarvan) probeer weghou. Dis net meer as 9 maande van waar ek hom die laaste keer gesien het, maar die seer en wantrou wat hy in my veroorsaak het is nog so vars soos ’n wond wat ek gister opgedoen het. Blykbaar word dit beter op ’n stadium. Ek weet nie… ek dink mens kom seker net op ’n punt waar jy die leemte in jou lewe aanvaar en daarmee begin saamleef.

Vir my ma is ek baie lief. Ek was nog altyd, ten spyte van alles. Maar sy het nog altyd ’n manier gehad om my net heeltemal verkeerd op te klits. Soos wat die geval was in haar boodskap van Sondag. Ek vermoed sy het sleg gevoel omdat ek nie soos altyd “Gelukkige huweliksherdenking aan die beste ouers” gestuur het nie. Haar reaksie was een van frustrasie en dalk wou sy net ’n kans hê om iets te sê omdat sy dit nodig gehad het… ek weet nie… Maar haar boodskap het nietemin diep getref en baie seer gemaak.

Wees bly dat julle nie kinders wil hê nie. Kinders is ’n blessing en gee vreugde, maar bring hartseer en pyn ook. Net ’n ma wat groot kinders het sal my hart kan verstaan. Jy verstaan nie. Wees net bly jy gaan nooit kinders hê nie.

Liewe ma… as jy maar net ’n benul gehad het…

Sy weet nie dat ek kinders begeer nie, en dit is met rede. Sou sy uitvind dat ek en my man nou al vir ses jaar praat oor kinders, sou sy al haar gebedsgroepies op haar foon oproep en ’n pragtige boodskap vir die hele land stuur, waarin sy ons baie persoonlike situasie in die fynste detail verduidelik en vra dat almal tog net moet bid. Ons glo. Ons hoop. Ons bid. Iewers en op een of ander manier sal alles ten goede uitwerk. Gelowige skinder… sonder dat sy werklik wou skinder… nietemin versprei sy baie persoonlike sake die wêreld vol… sonder dat dit hare is om te versprei… en dit gebeur nogal baie.

Ek neem aan dat sy op ’n manier seker reg is – met al die dinge wat die afgelope jaar of wat in my lewe gebeur het, moet ek seker dankbaar wees dat ek en my man nie kinders het nie. Maar ek is nie en sulke opmerkings is soos ’n mes wat in my maag ingesteek en wild gedraai word. Dit maak seer.

Wat is dit met mense wat alewig dink hulle weet alles, al het hulle net ’n klein deeltjie van die storie? Waarom wil almal altyd weet waarom daar nog nie kinders is as jy al langer as ’n paar dae getroud is nie? En waarom maak hulle net die standaardafleiding dat jy seker nie wil kinders hê nie, as daar teen ’n sekere ouderdom nog nie kinders is nie…?

Die antwoord wat oor my lippe kom vir dié tipe vrae is gewoonlik een van ontwyking. Om te dink op my voete en op ’n ompad by ’n totaal ander punt uit te kom is een van my gawes in die lewe. Die antwoord wat ek in my kop uitskreeu is egter altyd: “Wat de f@k het dit met jou te doen?” Ek begin al meer oorweeg om die twee weergawes van die antwoord om te ruil.

Advertisements

4 thoughts on ““So wat dan van kinders?”

  1. Ek dink die antwoord wat jy in jou kop vir hulle gee is die regte een, dit het absoluut niks met niemand te doen nie!

    Oor jou ma en pa – dit klink amper of ek daar geskryf het! My pa is net al langer uit my lewe. Ek het op ‘n punt gekom wat ek net laat los het. Hy huil vir 30+ jaar oor my boetie wat dood is, maar hy sien my nie raak wat lewendig voor hom sit nie. Hy kontak my nou en dan og, maar dis waar dit bly. En dis hartseer, want elke meisie soek ook maar ‘n dad. My ma-hulle is lank geskei (toe ek 5 was), so die gaping en skade is lankal reeds te groot om te oorbrug. so ek doen die nodige kersfees en verjaarsdae, maar dis waar dit bly.

    Ek het net besef dat alles nie altyd net van my kant kan kom nie.

    Like

  2. Ek kry ook gereeld sulke tipe vrae. “Hoekom is jy nog nie getroud nie? ” “Wil jy dan nie kinders hê nie?” “Jou tyd raak nou min.” Dit is ‘n persoonlike saak wat niks met enige iemand anders te doen het nie.

    Ek het nie nodig gehad om op 18 met die eerste man wat verby gekom het, te trou net omdat ek nie n plan vir my eie toekoms gehad het nie. Ek het een dag ook net mooi genoeg gehad en toe ek weer hoor: “Waar is die boyfriend dan vandag?” het ek ewe mooi liefies geglimlag en geantwoord: “SY kon ongelukkig nie vandag saamkom nie, Tannie.” Ek moet sê, dit was die laaste keer wat iemand in my familie uitgevra het, en daai tannie se reaksie was “priceless.”

    Dit maak nie saak of jy 10 kinders wil hê of geen kinders nie, dis n persoonlike saak. Eintlik is sulke dinge iets wat mens graag met jou ma WIL bespreek, maar in jou geval kan ek baie goed verstaan hoekom jy dit eerder net glad nie met haar deel nie.

    Ek hoop jy het die geduld om nooit vir haar die “WTF” antwoord te gee nie. Dit sal waarskynlik dinge tussen julle dalk net verder vertroebel en jy gaan nie die einde daarvan hoor nie. Maar… Indien jy eendag breekpunt bereik en daai antwoord vir haar (of enige iemand anders wat karring) gee… Neem asseblief n video!!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s