Waar koop ek ’n af-knoppie?

Ek werk. Voltyds en meestal ook oortyd. Dis soms sieldodend. Soms bevredigend. Maar dis meestal die verrykendste ding onder die son. Daar is vir my min dinge wat so vervullend is, as om te leer en terselfdertyd ook geleer te word. Dis my passie. Die kern van myself en iets wat my werk my toelaat.

As student het een van my dosente (wat ek ook as mentor beskou) eendag in een van my gunsteling klasse ’n hengse preek afgesteek. Daai tipiese “begin van ’n nuwe semester”-preek wat dosente so graag en so entoesiasties lewer.

Ek was in my tweedejaar en, selfs al was ek al reeds in my tweedejaar, was dit dié jaar waar ek moes besluit wat ek gaan doen – luister na my pa en doen wat hy wou hê ek moet of luister na my hart en doen wat ek wil. Hierdie proffie het my met haar preek gehelp om te besluit.

Sy het gepraat van die lewe en dat ’n mens alles wat oor jou pad kom as ’n stepping stone moet beskou; iets wat jou iewers kan bring en waaruit jy kan leer. Sy het gepraat van die lewe as ’n leergeleentheid waar ons almal ewige studente is; studente, met ’n onblusbare passie om te leer, uit te vind, kennis soveel dieper as net op die oppervlak te ontgin en uiteindelik te kan wéét wat jy wéét. Dit was vir my die mooiste woorde, en die oomblik wat sy dit gesê het, het ek geweet dat dit ’n motto is wat ek my lewe lank in my sal dra en sal nastreef.

Onblusbaarheid. Passie. Weetgierigheid.

Tot dusver het ek nogal goed daarin geslaag om dié motto te bou en te onderhou. Sonder om eers te probeer, is ek maklik een van die grootste agies wat tans die aarde bewandel. My passie om te kan weet en dinge uit te werk en mense te help en nuwe goed te leer is beslis vurig en onblusbaar, maar dis uitputtend om alles te wil weet en verstaan.

Daarom wens ek op dae soos vandag dat ek net my gebreekte af-knoppie kan regmaak of vervang. Net vir ’n oomblik. Soms wens ek dat dit moontlik was om net vir ’n rukkie nie nodig te hê om te moet dink nie, en dat die ratte wat nie ophou draai nie net vir ’n oomblik wil stil raak. Dat daardie onblusbaarheid net vir ’n paar minute net gedemp kan word. Nie vir altyd nie; net totdat my batterye op ’n manier herlaai is.

Maar ek het nie ’n af-knoppie nie. En ek begeer soveel meer as ’n brein wat net nie vir ’n oomblik wil ophou dink en ratte wat nie vir ’n sekonde wil ophou draai nie.

Ek begeer om net vir ’n rukkie, net so af en toe, content te wees. Net myself te wees. Nie te praat nie en nie te dink nie. Ek wens ek kan so styf vasgehou word, vir so lank en so opreg en met soveel liefde, dat ek net… ag, ek weet nie. Ek dink ek wil net ek kan wees. Emosioneel en snaaks en deurmekaar en verstrooid en net ék.

Dalk het ek nou op die punt gekom waar ek net wil voel dat ek nie net ’n ewige student wil wees nie, nie meer alles wíl weet nie (ten spyte van daardie ewige onblusbare passie wat ek nooit sal kan of wil verloor nie), waar ek perfek teen iemand se bors kan lê, met sterk arms wat my veilig en koesterend vashou, met die wete dat trane wat ’n bors natmaak of ’n gelag wat die vertrek vul, en dat dit geen verskil sal maak aan die feit dat dit ek is nie. En dat dít okay is om net myself te wees. Dat ek nie vir my woorde, my trane, my humor of myself hoef skaam te wees nie.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s