Kommapunt 7.1: Vyf woorde met mag

Ek het lanklaas regtig iets hier geskryf. Met rede. Daar het die afgelope ruk so baie dinge gebeur dat ek nie aldag weet of ek kom en of ek gaan nie en grondvat is net vlugtig en plek-plek. So hier volg ’n twee-in-een…

Die nou:

Van my laaste inskrywing af het ek en my man gesels. Of eerder, hy het vir my ’n lang brief geskryf waarin hy baie goed verduidelik het, wat ek aandagtig gelees het en waaroor ons na die tyd gesels het. Vir ’n man wat glad nie hou van briewe of van skryf nie is dit nogal iets om te waardeer. Daardie aand het ek hom ook alles vertel; detail oor dinge waarvan ek nog net met blogs gedeel het.

Ek het, kort nadat die koeldrank op hom geland het by die strip club, vir hom vertel van my blog. Ek het nie gedink hy sou die moeite doen om dit te lees nie, maar hy het. Die meeste van my inskrywings, in elk geval. En ek is bly dat hy gelees het, want vir die eerste keer dink ek het hy ook besef hoe ek oor dinge voel en hoe seer dit my eintlik gemaak het. Maar nou voel dinge ietwat vreemd… ek is nie gewoond daaraan om iemand wat so naby aan my is te hê wat op enige oomblik net hierop kan aanteken en kyk wat in my kop aangaan nie… okay, dalk is daar een of twee mense wat my in die regte wêreld ken en my as gevolg van my blog ook beter verstaan, maar julle weet wat ek bedoel…!

Woorde. Of dit nou vyf of ‘n paar duisend is, dit het die mag om te maak, te breek, te vernietig, te bou, te verander…

Omtrent ’n week na ons besluit om weer te probeer om ons huwelik reg te kry, het hy sy voet gebreek. En toe vind hy uit dat sy kwaai vrou toe al die tyd ook sag en liefdevol kan wees; met baie omgee en genade, dat ek daarvoor lief is om te bederf en om iemand op te pas en te vertroetel op my manier. Hy sukkel met die voet, maar ek cope redelik goed. Dis ’n uitdaging om alles wat in ’n dag moet gebeur en ’n klomp ekstra dinge te juggle, maar dis baie doenbaar en ek doen dit met liefde. Dis ook vir my lekker om van tyd tot tyd uitgedaag te word en dinge te doen wat nie alledaags is nie…

Saterdag het ek byvoorbeeld eiehandig ’n groot stuk fondasie wat begrawe is uit ons tuin gaan opkap met ’n jack-hammer… tot die tuinjong se verbasing KAN ek kraggereedskap hanteer! Dis iets wat ek nie kan help nie – ek hou daarvan om met ’n jack hammer te werk. ’n Daardie gevoel as iets wat nie op ’n plek hoort nie, net kraak… verbrokkel… krummel… ongedaan raak… Ek is mal daaroor; mal oor die gevoel van mag wat ek daardeur ervaar. Boonop doen dit wondere vir enige mens se frustrasievlak! In elk geval, die koddige swart mannetjie het net elke paar minute nader gestaan, gekyk, sy kop geskud en ongelowig weggestap. ’n Witvel-rooikop-madam wat nie muscles het nie en ook gelukkig nie te veel rolletjies vet nie, wat só ’n masjien kan operate! Eh, haa-a! Ek het so lekker vir hom gelag en die geruk in my hande geniet, terwyl die grond en klippies in my gesig gespat het. Tuinwerk en dinge DOEN… twee van my groot liefdes! (Nie dat die tuinwerk lank hou nie… ek het ’n hond wat ek met my hele hart liefhet, maar dié se een groot liefde is blykbaar om sy mens-ma se tuinwerk ongedaan te maak… Blykbaar dra my plantspasiëring nie sy goedkeuring weg nie.)

Die afgelope ruk is ek ook besig by die werk. Oorlaai met allerhande dinge wat seker maar in September en Oktober (en November) moet gebeur, maar waarvoor ek nie juis vreeslik lus het nie. Ek voel soos ’n mal marmot op ’n wieletjie wat net hardloop en hardloop, maar nêrens kom nie. Tog kom goed wat moet klaarkom, stelselmatig klaar en ek vorder stadig maar seker met my werk… Haha! Geduld was nog nooit een van my sterkpunte nie en ek is geneig om hiperaktief en ’n goeie dosis aandagafleibaarheid te hê!

Iets het egter vandag gebeur… ek het gedink aan laasjaar min of meer dié tyd.

Die verlede:

My boetie was aan die begin van Oktober 2014 in ’n baie lelike motorongeluk. Hy het ernstig seergekry en die dokters het ons gewaarsku om vir eers nie opgewonde te raak as hy vordering toon nie. Van die beserings wat hy opgedoen het, was gebreekte bene, ’n vergruisde pelvis, gebarste milt, beseerde lewer met bloeding, vier gekraakte ribbes, ernstige bloeding op die longe, gekraakte skedel, ernstige harsingskudding, ernstige bloeding op die brein… en ’n ernstige beseerde hoofslagaar in sy nek. Wonder bo wonder hét hy herstel en is hy net meer as twee weke later uit die hospitaal ontslaan. Natuurlik met allerhande nagevolge, depressie, en die pad na herstel is een wat hy steeds daagliks stap. Hy kan loop, hy kan funksioneer, maar sy fantastiese verstand het seergekry en sy korttermyngeheue is erg verswak.

Oor min of meer dieselfde tydperk het ek en my man begin gesels oor die moontlikheid wat ’n derde persoon in ons huwelik ons kan bied… die potensiaal om dinge beter te maak het my gelok, eerder as enigiets anders. Die idee om ’n ander vrou in ons slaapkamer – enige slaapkamer – in te bring het my heeltemal afgesit, maar ek was so desperaat om net “iets” te probeer. Ek het waarskynlik dieselfde desperaatheid ervaar as hy, toe hy seks met H gehad het.

In elk geval, ek het myself oortuig dat ek reg is hiervoor en dat ek oopkop genoeg is om ten minste te probeer… omdat ek geweet het my man wou dit ervaar. ’n Threesome.

Ons het aanvanklik saam na iemand gesoek en ons het ’n paar weke voor my broer se ongeluk ’n afspraak met iemand gemaak, wat toe nooit opgedaag het vir die ontmoeting nie. ’n Paar dae na die ongeluk het sy weer met my man kontak gemaak oor die site en, van wat ek kon aflei, hom na haar huis probeer lok. Om een of ander rede het hy gedink dat dit ek was. Hy was brusend en het daardie middag by die huis uitgestorm op pad na haar toe. Ek was alleen… bang… terrified dat hy na ’n vreemde vrou pad gevat het en my boonop van nonsens beskuldig, terwyl ek emosioneel was en net oor my broer dink en praat… Ek wóú nie alleen wees nie. Ek het so gesmag na daardie drukkie en woorde dat alles wel okay sal wees… maar hy sou dit nooit vir my gee nie. Nie daardie dag nie, in elk geval. Om een of ander rede het hy gedink ek is gewetenloos; dat die hartseer en kommer oor my boetie net aansit was. Hy was só verkeerd… ek was so bang; so alleen…

Hoe gebeur dit dat mense jou pad kruis wanneer jy dit die minste of die meeste nodig het? Twee mense het daardie dag die mag gehad om my lewe te verander.

Eers het die man wat my gemanipuleer het, my gekontak. Die een met die twee kinders en pragtige vrou… Hy kon uit my antwoorde aflei dat iets nie reg is nie, en na ’n kort rukkie van uitvra en paai, het hy my oortuig om hom te vertrou. Ek het hom vertel wat aangaan en hom selfs my selfoonnommer gegee. Hy het my gebel en my kalmeer… en my daarna probeer oortuig om hom by sy huis te ontmoet. Ek het getwyfel, maar gesê dat ek op pad is. In my kar geklim met besmeerde oë en bewende hande. My man wou my nie hê nie, ten spyte van die opoffering wat ek bereid was om te maak… hy het my alleen gelaat… alweer… op ’n tyd waar ek net nie alleen wou wees nie; nie alleen kon wees nie. Hy wou nie glo wat ek sê nie en ek het gevoel dat hy minder vir my omgee as enigiets in sy lewe.

Ek het gery. Ek het die straat geken waar dié persoon gebly het, maar op pad soontoe het ek by ’n parkie gaan stop. Dit was alles behalwe ’n veilige plek om stil te hou, maar wat het ek gehad om te verloor? Ek het met tranerige oë na my foon gekyk en gehoop dat my man my sou bel, sou jammer sê, sou vra dat ek huis toe moet kom… en toe kom ’n e-pos deur op die adres wat ek vir die swing site gebruik het. Net vyf woorde.

“Ek dink aan jou, ***.”

Onverwags. Dit het my terug geruk na die realiteit. Iemand dink aan my… Nie my man of iemand wat my ken nie, maar daar was IEMAND wat op ‘n manier net aan my gedink het…

Tot vandag het hy nie ’n idee waarom hy so baie vir my beteken nie, en ongelukkig vermoed ek dat hy dit ook nooit sal weet nie. Ek het nooit regtig die kans gehad om hom presies te vertel nie, en ons het oor die afgelope drie maande heeltemal kontak verloor omdat hy dit so besluit het. Ek wens bykans daagliks dat ek ’n manier gehad het om vir hom dankie te sê hiervoor. SW het my op ’n manier met hierdie eenvoudige vyf woorde tot my sinne gebring. Hoe? Ek het nie ’n idee nie. Net die blote feit dat iemand aan my gedink het, net op die regte tyd vir my ’n boodskap gestuur het… Ek is nie iemand wat aan karma of die noodlot of fate glo nie, maar op daardie oomblik was sy boodskap vir my presies net dit. En dit het my gekeer om die grootste fout van my lewe te maak. Ek het ’n kort antwoord terug getik en gestuur. Daarna het ek die nommer wat ek laaste geskakel het op my foon herroep en die man wat vir my gewag het, terwyl sy vrou en kinders by haar ouers in Natal kuier, gekontak. Hy was brusend. Ek is gevloek en sleg gesê; ‘n nikswerd hoer genoem wat elke dingetjie verdien wat met my gebeur… die foon is in sy oor doodgedruk. Ek het vir ’n ruk daarna elke nou en dan vreemde boodskappe op my sosiale media-platvorms gekry… dooie blomme voor my kantoor se deur… Maar dit was okay, want ek het geweet dat ek die regte besluit gemaak het. Ek is huis toe. Alleen. Ongelukkig. Hartseer. Maar ook bly.

Dit was 5 Oktober 2014. Die dag waarop my lewe onherroeplik verander en geruïneer kon word deur myself… maar danksy iemand wat steeds salig onbewus is van die werklike invloed wat hy met vyf woorde op my lewe gehad het, is ek nog ek. Op ’n manier, in elk geval.

Wat jy ook al doen… moet nooit die mag van ’n eenvoudige boodskap; selfs net vyf alledaagse woorde; onderskat nie. Dit het meer mag as wat jy dalk dink!

*** – Die skuilnaam wat ek op swing site die gegee het. My alter-ego.

Advertisements

6 thoughts on “Kommapunt 7.1: Vyf woorde met mag

  1. Ek is bly jy het omgedraai. Betyds omgedraai.
    Jy is reg dat jy ongemaklik voel in ‘n verhouding met meer as net jy en jou man. ‘n Huwelik is ‘n verhouding net tussen twee mense.
    Sterkte vir jou.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s