Glimlaggies en giggels en geluk.

Toe ek nog ’n klein dogtertjie met twee poniesterte was, het my tannie (dis nou my ouma se jongste sussie se oudste dogter) vir ’n lang ruk by ons kom bly. Haar man was agter tralies vir bedrog, sy wou nie alleen bly nie. Buitendien het sy ook nie op daardie stadium geld gehad om ’n plekkie van haar eie te huur of te koop nie. Dit was haar “ag net tot jy weer op jou voete is”-tyd. Sy het op die ou einde ’n goeie vyf of wat jaar by ons gebly en probeer help met huistakies waar sy kon.

Nou, daar is een ding wat julle van my tannie moet verstaan. Sy was (is steeds) ’n taalonderwyseres en het daardie jaar ’n goeie pos by ’n bekende skool in ’n nabygeleë dorp gehad. Sy het in die dag by die skool gewerk en in die middag ekstra klas aangebied of netbal afgerig en van tyd tot tyd ook uitgehelp by die skool se debat- en kultuuraktiwiteite. Bekend vir haar vaardigheid in Duits, Engels en Afrikaans, haar onbeholpenheid met enige ding waar syfers ’n rol (selfs ’n kleintjie) speel en heel berug vir haar kennis en vaardigheid met enige vorm van huishoudkunde.

Dit het byvoorbeeld eenkeer gebeur dat sy my leer hekel het aan ’n poprokkie… Ek was as kind baie siek met longprobleme en sy het dit altyd reggekry om my vir ure lank besig te bly. Ek en sy het dae lank gesit en werk aan die mooi pienk en wit rokkie wat ons te versigtig vir woorde gemeet en gepas het aan die pop. Nie dat dit enigsins gehelp het nie! My ouma het my later vertel dat dit eintlik brei is wat ons doen, en die sogenaamde rokkie is toe uiteindelik as abstrakte speelding gestop en vir die hond gegee om mee te speel. Dit het glad nie vir die pop gepas nie en die hond wou ook nie regtig daarmee speel nie. My tannie het net daaroor gegiggel.

Met my standerd een skoolkonsert, moes al die dogtertjies feetjievlerkies uit geel karton maak (die patroon en instruksies is voorsien deur die onderwyseressie) en ’n kransie om ons koppe dra. Sy het my gehelp. Sal ek ooit vergeet hoe lekker my juffrou gelag het (ek vermoed die vlerkies was onderstebo en daar was ORAL glitter) en toe maar aangebied het om self my vlerkies te maak. Weereens het my tannie heerlik gegiggel en net gesê dat ons ten minste probeer het en dat sy weer so sal droogmaak omdat ons tog soveel pret gehad het.

Haar kook- en bakvaardighede was nie veel beter nie. My oupa het altyd gepraat van slappap, stywe pap en krummelpap wat my ouma maak, en klontpap wat my tannie maak. Ek het altyd gedink dit is ’n spesifieke soort pap wat mens kry… Dit was ook eers ná hoërskool wat ek uitgevind het dat melkkos en -snysels eintlik nie sulke groot “blops” in moet hê nie. Eerlikwaar – ek het van haar klontpap met swartsous (dis nou gewone tamatiesous met baie aanbrandsel) gehou en ek verkies nou nog haar “melkkos met substansie” bo die loperige goed wat mens vandag sommer net in die mikrogolf kan maak.

En so het dit aangegaan… as sy ’n knoop aan ’n mou moes werk, het sy gewoonlik die mou toegewerk. Het sy ’n soom ingesit, was die soom gewoonlik na die verkeerde kant toe ingewerk (nee, daai tyd was dit nog nie in die mode om met jou binnegoed na buite te loop nie). Het sy ’n koek belowe, het my ouma maar betyds ’n tweede een by die tuisnywerheid gaan kry sodat ons ook iets kon eet waarop jy nie jou tande sou kon breek nie. As sy gewerskaf het aan ’n tert, het my ouma bakkies en lepels nader gepluk met die inskepslag, want haar terte het net mooi nooit eers naastenby gestol nie (vandaar die naam “soetsop”). En ten spyte van die groot vernedering omdat niks wat sy aangepak het ooit regtig flopvry was nie, het sy altyd daaroor gelag en haar skouers opgetrek. Sy was tevrede daarmee dat sy net probeer het, dat sy nie niks gedoen het nie en dat sy dit boonop geniet het.

Vandag dink ek aan haar. Sy is reeds in haar laat vyftigs, en steeds is sy vir my pragtig. Sy het blykbaar nou al basiese kosmaakvaardighede (lees: sop, aartappels en pakkieskos) bemeester en het tussen verskeie probeerslae haar passie vir tuinmaak en rose kweek ontdek. Vandag het sy ’n kruie- en roostuin in die hartjie van Duitsland wat skrik vir niks, en sy gee nog steeds Duits en Engels op skoolvlak. Steeds, op elke foto’tjie op FaceBook sal mens haar breë en opreg gelukkige glimlag sien – daardie soort wat te groot is vir jou mond en tot in jou oë sprei. In alles wat sy doen, selfs al is dit hoe ’n groot mislukking, kies sy om die goeie en die positiewe te sien en daarmee aan te gaan. Bogger die res!

Noudat ek aan die tyd terugdink wat sy by ons gebly het, onthou ek dat ek haar nooit regtig ongelukkig gesien het nie. Dalk net eenkeer, toe sy na Chris de Burg se Lady in Red geluister het. Maar dit kan mens verstaan. Dit was haar en haar man (nou eksman; genadiglik het sy die aap gelos) se liedjie; haar konstante herinnering aan iets waaruit sy niks positiefs kon neem nie. Net ’n duur les wat haar baie geld, baie hartseer en na sy vrylating ook ’n hele klomp bloukolle en emosionele letsels gekos het. Maar vir al die dinge in haar lewe was daar altyd nét glimlaggies en giggels.

Glimlaggies en giggels en geluk. Dis ’n kopbesluit en ’n keuse wat ons almal kan maak. Dis ’n moontlikheid om te kan ervaar en te kan leer en jouself ook te leer ken. Dis ’n emosionele instelling om te weet dat jy mislukkings gaan kry, maar dat selfs mislukkings soveel pret en plesier as oorwinnings kan insluit. Dit is ’n wete dat die regte houding meer as net die uiteinde van die situasie kan beteken.

My tannie het ’n baie groot invloed op my lewe, en ek dink op die meeste mense om haar, gehad. Vir baie lank het ek soos sy geleef – vir die ervaring en om iets positiefs uit elke dingetjie te neem… altyd bly te wees daaroor… altyd te glimlag en oor jou swakpunte te giggel en te probeer om dit te verbeter, maar ook om aan te beweeg na iets anders waarmee jy goed is as daardie een ding dalk nie jou forté is nie.

Glimlaggies en giggels en geluk. Vandag kies ek om weer terug te keer na daardie ligte lewe, daardie tikkie humor en daardie gewoonte om te kan spot met dit wat verkeerd loop. Ek mis dit, soos wat ek my tannie mis.

Advertisements

3 thoughts on “Glimlaggies en giggels en geluk.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s