Kommapunt 9: Wat’s die ding met ’n belofte?

Wat is ’n belofte? Ek het die afgelope ruk nogal baie met dié vraag in my kop rondgeloop. Konstant vir myself hierdie vraag gevra, om die waarheid te sê. Tipies ek, het ek natuurlik ’n verklaring uit ’n woordeboek om te help…

Promise:
(1) a statement telling someone that you will definitely do something or that something will definitely happen in the future
(2) an indication of future success or improvement
(3) a reason to expect that something will happen in the future
(http://www.merriam-webster.com/dictionary/promise)

Hierdie definisies het my egter gepla. Of eerder – die eerste definisie pla my steeds baie. So ek het verder gesoek. Natuurlik het ek dit nie net daar gelos nie, en ek het ’n interessante verklaring gekry wat glo in die regspraktyk gebruik word:

A declaration, verbal or written, made by one person to another for a good or valuable consideration in the nature of a covenant by which the promisor binds himself to do or forbear some act, and gives to the promisee a legal right to demand and enforce a fulfillment. “Promise” is to be distinguished, on the one hand, from a mere declaration of intention involving no engagement or assurance as to the future; and, on the other, from “agreement,” which is an obligation arising upon reciprocal promises, or upon a promise founded on a consideration. Abbott. “Fictitious promises,” sometimes called “implied promises,” or “promises implied in law,” occur in the case of those contracts which were invented to enable persons in certain cases to take advantage of the old rules of pleading peculiar to contracts, and which are not now of practical importance.
(http://thelawdictionary.org/promise/)

Nou vra jy seker, waarom sê ek dat ek ’n probleem het met ’n paar definisies en verklaring wat eintlik so duidelik soos daglig is. Ek het eintlik ’n baie lang stuk hier geskryf waarin ek die definisies geanaliseer het, maar dis eintlik onnodig, want ek het besluit om my eie idee van ’n belofte hier by te voeg. Kom ek probeer verduidelik…

’n Belofte word dikwels simbolies gekoppel aan dinge wat ons positief ervaar; dis ’n vooruitskouing op iets in die toekoms wat gewoonlik goed of voordelig sal wees, maar wat dikwels ook sleg of nadelig is. Kom ons fokus eers op die positiewe… Dink byvoorbeeld aan die beeld van die reënboog in die Bybel aan Noag en wat ook nog geld aan ons as moderne mens. Dink aan ’n trouring (of deesdae ’n sogenaamde promise ring tussen vriende) wat al hoe lank as ’n simbool van die belofte vir ewige trou, respek en eer staan. Dink aan saad, wat as belofte staan van groei en lewe… Ag, daar is baie simbole (kyk onder meer op http://www.illustratedbible.net/39_symbols_of_promise.htm vir meer) en baie betekenisse wat by elke simbool ingelees kan word.

Wat my egter pla is dat ’n belofte nie noodwendig altyd ’n versekering is van iets wat sál gebeur nie. Ringe word afgehaal, saad kry nie altyd die nodige water nie en mensgemaakte beloftes word verbreek. Selfs in die regswêreld is ’n belofte net geldend vir so lank as wat dit moontlik is vir die persoon wat die belofte gemaak het om dit uit te voer. Soms is dit net menslik onmoontlik om ’n belofte verewig na te kom. Soms besluit die persoon wat die belofte gemaak het dat iets belangriker is op daardie spesifieke oomblik en daarom het hy of sy nie nodig om die belofte te eer nie. Soms gebeur daar dinge buite ons beheer.

Een van die gedagtes waaraan ek al vir die afgelope 24 jaar vashou, is dié van die aand wat my oupa (die een wat my grootgemaak het) opgeneem is vir ’n dubbele hartomlyning. Ek was maar tien jaar oud en ek was bang toe ons die aand my oupa se gunsteling kos eet, toe my ouma huilerig en kwaai raak, toe die pastoor vinnig ’n draai maak om saam met ons te bid, toe ons hospitaal toe ry… Ek kan onthou hoe ek vir my oupa gestaan en kyk het om die hoekie van die hospitaalkamer se deur (want al die mense se ge-faff was vir my net te veel) en hard sluk aan die knop in my keel en kort-kort die brand wat uit my oë loop wegvryf. En toe sien hy my.

Hy het half moedeloos gelyk waar hy op die hospitaalbed gesit het. Al die mense om hom wat hom moed inpraat en vertel hoe die operasie ’n groot sukses sal wees en hoe alles teen oormôre net perfek gaan wees. Hy het na my gekyk en sy oë het begin blink.

“Wil jy nie ’n bietjie hier by my kom sit nie?” Sy stem was sag en net my ouma het dit gehoor. Teen die tyd wat ek naby genoeg aan die bed was dat hy my kon optel, was my pienk wangetjies nat en my stem weg. Ek wou soveel goed vir hom vra wat ek nie verstaan het nie; soveel goed sê ingeval dit nie later moontlik sal wees nie. Ek was net tien jaar oud, maar ek het alles verstaan wat aan die gang is. Mense tree nie só op as alles reg en perfek is nie.

Hy moes my binnestryd gesien het en hy het dit verstaan.

“Toemaar, my Lied…” Dit was sy sagte noemnaam vir my. “Een van die dae is ek weer by die huis. Volgende week ry ek en jy weer saam fiets. Jy sal sien.”

“Belowe?”

“Belowe.” Hy het my daardie stywe, liefkosende en opregte drukkie gegee wat ek nog nie weer by enigiemand anders gekry het nie. Daardie soort wat mens laat voel asof alles wat onseker is net regskuif en in plek val.

Hy het my belowe. Maar dit was nie ’n belofte wat hy werklik in die eerste plek moes of kon maak nie. Daar was komplikasies tydens die operasie en Oups is ’n klein bietjie meer as twee weke later begrawe. Wou hy met opset sy belofte breek? Verseker nie. Wou hy my valse versekering gee? Nee, want hy was ook ’n realis. Maar wou hy my iets gee om aan vas te hou vir die volgende rukkie? Ja.

My definisie van ’n belofte is eintlik maar hierop – dié wete dat beloftes nie altyd nakombaar is nie – geskoei:

Soms gebeur dit dat ons beloftes maak sonder om te dink. Dis goedkoop beloftes wat nie veel waarde het nie, omdat ons dit nie bedoel nie en dikwels van die begin af weet dat ons dit nie gaan nakom nie. As ons mooi daaroor dink is dit nie werklik beloftes nie.

Dan is daar die tweede soort belofte. Die soort wat ons maak omdat ons ons alles sal gee om dit na te kom. Ons sal teen die dood baklei, ons sal teen ons menslikheid baklei… tot ons nie meer kan nie. Maar ons bly mense, en mense is nie perfek nie. Daarom is ons beloftes nooit perfek nie en word dit dikwels verbreek omrede ons net nie sterk genoeg is om dit na te kom nie. Maar dit beteken nie ons moet moed verloor en nie minstens probeer om daardie perfekte belofte te eer nie…

Beloftes gee hoop. Dit gee ’n mens iets wat pragtig is om aan vas te hou en om in te glo. Hoop. Daardie een ding waarna elke mens smag em daardie een ding wat niemand ooit wil verloor nie. Dis aan hoop wat ek vashou. Altyd. Want solank daar hoop is, is daar ’n toekoms en is daar ’n moontlikheid vir enigiets.

Ek het my laaste kommapunt afgesluit met ’n gebed. En, hoe werk dit dat my gebed beantwoord is nog voor ek dit gebid het? Toe ek daardie aand by die huis kom, het ek en my man vir die eerste keer in al die tyd wat ons getroud is gepraat totdat ons mekaar verstaan het. En ons het nuwe beloftes aan mekaar gemaak. Groot dele daarvan sal ek seker later deel, maar vir eers weet ek net dit: ek het ’n belofte. Ek het hoop. Ek hou vas aan iets beter. Ek glo aan die toekoms. En ek hoop dat hierdie belofte en hierdie hoop die moeite werd is om aan te glo…

Is ek simpel om weer te glo? Is ek pateties om aan te hou hoop? Dalk dink van my blog-lesers dat ek nou skielik vasgeval het in Disneyland waar alles van spookasem en blommetjies gemaak is. Al wat ek weet is dat ek nie wil ophou hoop en glo nie. Nog nie nou nie. Maar dis ook die laaste keer wat ek vashou aan hierdie hoop… dis my belofte aan myself… en dis ’n belofte wat ek sal nakom.

Here, asseblief. Ek wil nie weer seerkry nie. Ek kan nie bly seerkry nie, want ek weet ek is nie sterk genoeg nie. Ek wil nie breek nie en ek wil nie gebreek word nie. Help my om aan te hou hoop en die ware beloftes te glo… help my om vas te hou aan dit wat eg is en dit te kan onderskei van dit wat vals is. Asseblief, laat hierdie beloftes wat aan my gemaak is hierdie keer hou. Help my en my man om ons beloftes aan mekaar te eer… daarvoor te baklei ten alle koste… help ons om altyd hoop te hê.

Advertisements

One thought on “Kommapunt 9: Wat’s die ding met ’n belofte?

  1. Ongeag wat die bloglesers dink, jy is die een wat op die ou end jou lewe moet lei, jou keuses moet maak. Baie baie sterkte in jou besluite, in jou harde werk in jou huwelik.
    Ek lees tans die boek, “Grense” of “Boundaries” van Cloud & Townsend. Ek wil dit graag vir elke persoon aanbeveel, maar ek dink jy salook baie baat daarby kan vind.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s