Kommapunt 8: As ’n hartklop stil raak

Ek het al so baie geskryf oor goeie vriende, liefde, my ouers, en stukkies van my man, maar oor hierdie laasgenoemde persoon het ek nog hopeloos te min geskryf, hoewel hy altyd stukkies van my verlange volmaak en my minder alleen laat voel op sy manier. Dalk is dit omdat ek bang is en dalk is dit omdat ek nie weet wat om te skryf nie. Hy is al so lank deel van my lewe dat hy my lewe begin word het. My hartklop. My wêreld.

Ek kan nog baie Kommapunt-blogs skryf, en dalk sal ek stelselmatig nog skryf. Hierdie inskrywing staan effens uit, want dit is een wat te doen het met hierdie week.

Ek het die afgelope paar maande meer as ooit geluister na dit wat my man as probleme uitgewys het in ons verhouding. Die feit dat ek hom nie seksueel kan bevredig nie maak my gek, maar die goed waaraan ek wel iets kan verander, het ek aan gewerk.
Ek weet dit pla hom as ek vra vir goed (selfs vir drukkies) en hulp (soos met my rekenaar), so ek het probeer om dit tot die absolute noodsaaklike te beperk.
Ek weet hy het op ’n stadium gevoel dat my ouers ons lewe op ’n manier oorneem (waarmee ek tot ’n mate saamstem, maar ook op ’n manier dieselfde voel oor sy ouers), so my ouers en familie is nou nie meer ’n baie groot faktor in ons lewe nie, hoewel ek altyd vir hulle sal lief wees besef ek dis ongesond as hulle jou lewe op ’n manier tog bestuur.
Ek weet hy hou nie daarvan as ek hom “pla” terwyl hy besig is om te werk nie, so ek beperk enige onderbrekings van my kant af tot die minimum.
Ek weet hy hou nie daarvan as ek kla dat hy net sekere programme op die TV kyk nie (wat vir my nogal boring is), so ek kyk stories op my laptop, of ek surf op die Internet of werk in die TV-kamer terwyl hy sy programme kyk.
Ek probeer hom tegemoet kom deur middae huis toe te gaan as ek kan en hom met middagete te bederf.
Ek het my bes probeer om myself te oortuig dat ek sal kan swing en hom selfs ’n threesome sal kan gee, maar ek kon nie.
Ek het my eie bekommernisse, spoke en geraamtes op die agtergrond geskuif en nie aanhou praat of verwys na die vroue wat op een of ander manier deel is of was van sy lewe nie. Ek het baie van hulle vergewe.
Noem ’n artikel op die Internet wat gaan oor verhoudings, hoe om ’n beter vrou vir jou man te wees, hoe om beter te wees in die slaapkamer, hoe om beter te kommunikeer… ek het dit waarskynlik al gelees en probeer toepas.
Ek het dankie gesê as hy my verras het en ek het dankie gesê as hy iets vir my gedoen het… elke soentjie, elke drukkie, elke keer wat hy my sommer net nader getrek en vasgehou het en my hart bollemakiesie gespring het omdat hy dit doen… elke keer wat hy gesê het hy is lief vir my, het ek daardie oomblik in my brein probeer ingraveer… elke keer wat hy my help met takies soos die wasgoed en die huis of ons honde, het daar liefde en waardering in my hart geswel en dit het nie gesak nie.
Elke keer wat ek weet hy is bekommerd oor dinge en hy raak onrustig oor goed waarvan ek nie veel weet nie, het ek dit laat gaan omdat hy op ’n stadium gesê het ek karring te veel en dat hy met my sal praat as hy wil.

Ek het soveel metodes gehad waarop ek kon opcheck wat hy doen, waarheen hy gaan, saam met wie, wat op sy rekenaar en foon aangaan… maar ek het vasgehou aan my berader se woorde, hom die voordeel bo alle twyfel gegee en hard probeer om hom weer te vertrou. En dit het gebeur.

Ek dink dat, as mens so lief is vir iemand soos wat ek vir my man is, dan kan jy nie anders as om vinnig weer te begin vertrou en te glo aan julle toekoms saam nie. Dis net iets wat gebeur. Nie noodwendig onwillekeurig nie, want daar was baie besluite van my kant af om weer te vertrou en op te hou om alewig te dink dat hy my weer gaan seermaak of verneuk. Ek het hom geglo as hy my vrae beantwoord het en ek het geweet hy bedoel dit as hy sê hy is lief vir my.

En toe slaan die realiteit my weer soos ’n vrot kous wat uit ’n sweterige ou skoen kom.

Ons was vir die naweek na vriende toe by die kus en ek het besluit om soveel moontlik te doen om die naweek vir ons albei lekker te maak. Op pad soontoe was ek stout in die kar (moenie vra nie – bloos!) en ek het myself ook maar lekker wangedra in die gastehuis se kamer. Ek het per ongeluk aspris ook my slaapklere by die huis vergeet en kort-kort die stuitigste opmerkings gemaak wat ek moontlik kon.

My spelerige luim is die Saterdagmiddag effens oorskadu toe ek besef dat ek weer nie ovuleer nie… ons het ’n rukkie gelede besluit dat ons graag weer wil probeer om swanger te raak en dit is nou al die derde maand wat ek ’n pakkie van die toets-stokkies nader pluk en daar net strepies van negatiwiteit vertoon. Toe ek dit vir hom sê, kon ek nie regtig sy reaksie pyl nie; was dit hartseer of was hy vies? Ons het die res van die naweek rustiger gevat en Sondag teruggery huis toe. My gedagtes het kort-kort teruggedryf na die toetsertjies en ek het hard probeer om die trane maar net terug te sluk en niks meer daaroor te sê nie. Ek wou nie my man laat sleg voel nie. Ek verkwalik niemand nie. Ek is net verskriklik hartseer daaroor en ek bly bang vir wat hulle alles met my sal wil doen as ons besluit om “met hulp” te probeer swanger raak… en of dit enigsins sal werk.

Die res van daardie Sondag en Maandag was heel gewoon. By die werk het ek ’n geleentheid gehad om effens vroeër as gewoonlik huis toe te gaan en ek het die geleentheid aangegryp. Toe ek die hek by die huis oopmaak, het ek ’n beklemming in my hart gevoel… daardie onverklaarbare gevoel wat mens net kry as jy weet iets is nie reg nie, sonder dat daar ’n konkrete rede vir jou gevoel is. Ek het my kar in die oprit getrek en in die huis ingegaan. Niemand was tuis nie. Ek het my foon uitgehaal om hom te kontak… maar die battery was omtrent heeltemal pap en ek het geweet ek sou nie eers ’n oproep kon maak nie. Op pad na die yskas toe, het ek weer daardie gevoel oor my voel kom. Ek was yskoud en het sommer gegril.

Sonder om behoorlik daaroor te dink, het ek omgedraai en terug geloop na my kar toe… ingeklim… die sleutel gedraai… die hek oopgemaak… en na ’n strip club gery wat net om die blok van ons af is. Hy het al voorheen erken dat hy soms soontoe gaan om net ’n koeldrank te drink. Hy het my male sonder tal belowe dat hy nie weer soontoe sal gaan nie, en ek het hom elke keer geglo.

Ek was al by die klub. Dis ’n kort entjie uit op die plotte. ’n Grillerige plek vir my met grillerige en sweterige vroue wat soms iets en soms amper niks klere aan het nie. Ek het al voorheen gesien hoe dit daar lyk, want ek het al daar ’n draai gemaak toe daar geen karre gestaan het nie. Ek het geweet die hek staan altyd oop en dat enigeen net daar kan instap. So ek het daar verbygery. Ek het myself saggies betig toe ek drie vreemde karre op die rooigrond-parkeerarea sien staan het en besluit om om te draai. ’n Lelike klip in die pad het my laat besluit om sommer ’n U-draai in die perseel te maak en dan die korter roete terug te ry huis toe as om die pad om die blok te volg. En toe sien ek dit.

In die hoek, agter die ander karre weggesteek, het sy kar gestaan. Ek het langs hom ingetrek. My hele lyf het gebewe. Wat doen hy hier? Hy het my dan belowe! Ek het hom dan geglo en vertrou!

Wat het my nou te doen gestaan? Los ek dit? Ignoreer ek dit? Sit ek in die kar en wag tot hy klaar gekuier het? Gaan ek in? Ja… Laasgenoemde…! Ek gaan nie meer voorgee en wegkruip vir die realiteit nie. Ek gaan nie meer agter sy rug begin konkel nie. Ek het dit lankal gestop en ek het hom en myself belowe om dit nie weer te doen nie. Dis tyd dat een van ons by ons beloftes staan!

Ek het met bewende bene uit die kar geklim en na die kroeg toe begin stap. Hy het met sy rug na die parkeerarea gesit, in die hoekie soos wat hy altyd vertel het hy doen. Daar was ’n ou omie wat effens weg van die kroeg gesit en gesels het met ’n mooi jong meisie in baie skamele rooi klere. By die kroeg het nog twee ander mans gesit. Almal het trouringe gedra. Ek het nie opgelet of my man ook sy ring aan het nie.

Voor enigiemand my opgemerk het, het ek my hand oor my man se rug laat gly soos wat ek altyd liefkosend maak en hom op die wang gesoen.

“Hallo!” Ek het dit so rustig en bedaard as moontlik probeer sê, hoewel my binnegoed aan die brand was en my hande en bene nie ophou bewe het nie. “Gee jy om as ek hier sit?”

Ek was nie seker wat die uitdrukking op sy gesig beteken het nie. Was dit verbasing? Was dit skok? Was dit blydskap? Was dit verligting? Was dit tergende sadisme?

Ek het langs hom gaan sit en myself aan die kroegdame en die man op die stoel aan my ander sy voorgestel as sy vrou, en toe weer na hom gedraai.

“Wat maak jy hier?” Ek is seker hy kon die pyn en teleurstelling op my gesig, in my lyf, en in my oë sien; dit in my stem hoor.

“Ek drink ’n koeldrank. Wat maak jý hier?” Die smalende uitdrukking op sy gesig en die rustigheid in sy stem het my amper laat uitbars in trane.

“Jy het my belowe jy sal nie weer hierheen kom nie. Jy het my belowe ek kan jou vertrou. Jy het hoeveel keer gesê alles is nou reg. En nou? Nou vang ek jou hier?”

Van iewers het ’n glas Coke voor my verskyn. Ek mag dalk daarvoor gevra het, want ek kan nie veel van die situasie onthou nie. Ek het dit opgetel en ’n slukkie probeer vat. My hande het so gebewe dat ek van die koeldrank op die kroegtoonbank gemors het, en ook op my klere. Ek het die glas neergesit.

Wat volgende gebeur het, kan ek self nie meer onthou nie. Ek dink ek het hom gevra of dit vir hom lekker is om ons (vir my én vir hom) so te verneder, en ek dink hy het geantwoord dat hy nie verneder is nie en dat hy niks verkeerd doen nie en eenvoudig net ’n koeldrank by ’n kroeg drink en met mense gesels. Iets het in my kop uitgehaak. Ek kon moord pleeg. Maar ek het nie.

Ek het die leë glas hard en aspris voor my op die kroegtoonbank neergesit. Die inhoud daarvan het sy mooi wit en grys hemp van bo tot onder gevlek. Dit is iets wat ek nooit in my lewe gedink het ek sal doen nie.

In die hitte van die oomblik het ek omgedraai na die res van die mense. Almal het na my gekyk en vir ’n oomblik wou ek net weghardloop, maar ek is nie so ’n lafaard nie.

“Hierdie is nie ’n kroeg of ’n strip club se moer nie. Dis ’n hool. ’n Hoerhuis. En julle almal weet dit. Besef julle mans dat dié vrouens betaal word om nice te wees en met julle te gesels? Besef julle dit beteken niks nie? Wat sal jóú en jóú en jóú [terwyl ek vinger wys na elkeen] vrou dink as sy jóú hier betrap? Hoe dink jy sal jy haar laat voel? Hoe sal jý voel as jy háár op só ‘n plek vang? En meisies – besef julle nie julle is beter as dít nie?”

Ek het omgedraai en myself ’n toer van die plek gegee, terwyl een van die meisies my gewaarsku het dat ek “nie daar mag ingaan nie”. Ek het baie bitsig net “watch me” oor my skouer geantwoord. Daarna het ek na my kar gestap. My man het agter my aangestap en iets gevra. Ek het my nie aan hom gesteur nie.

“Gaan drink klaar jou koeldrank en gesels verder. Ek gaan huis toe,” is al wat hy van my gekry het voor ek in my kar geklim en huis toe gery het.

Hy was nie lank na my by die huis nie. Eers die verduidelikings… toe die beskuldigings… toe die aggressie en die wegjaag. Maar ek het kalm gevoel. Dis nie die eerste keer wat dit gebeur het nie. Dis nie die eerste keer wat dié persoon vir wie ek my lewe sou opgee en vir wie ek myself sou verloën, my so diep seergemaak het nie. Dis nie die eerste keer wat hy vir my lieg nie. Dis nie die eerste keer wat hy my probeer wegjaag nie. Niks hiervan was nuut nie. Ek het dit nou al gewoond geraak.

Wat wel nuut was, was dat ek besef het dat ek my hartklop nou verloor het. Ek was dood. Lam. Leweloos. Sonder gevoel. Sonder omgee.

Al die probeer, al die glo, al die vertrou, al die liefde en al die respek het op een slag soos bloed uit ’n oopgesnyde slagaar uit my begin loop. Hierdie keer was die hou te groot en onverwags, die messteek te diep en die seer te veel.

Wat nou? Ek weet nie. Ek is besig om na ’n huis te soek. Of ek daar sal gaan bly, weet ek nie. Of ons dinge weer ’n kans sal gee, weet ek nie. Of dinge ooit weer sal herstel en of hy my vertroue wéér gaan wen en dalk wéér gaan verbreek, weet ek nie.

Al wat ek weet is dat ek hierdie dooie gevoel in my haat. Maar dié keer het ek nie gegryp na krukke nie. Of eerder, nie na die verkeerde krukke nie. Ek het my berader gebel, maar sy foon was af; daarom het ek maar ’n WhatsApp gestuur. Ek het vir J gebel (voorheen op my blog genoem… ’n eerbare man wat ek op die swing site ontmoet het en waarvoor ek hope respek het, omdat hy dinge met sy vrou ook probeer regmaak en bereid is om my vriend te wees deur ‘n rowwe tyd van ons albei se lewe). Ek het hom net gevra of hy net vir ’n rukkie met my sal gesels. Oor enigiets. Hoe lank ek so gesit en gesels en luister en huil het, weet ek nie. Ons het oor my kar en my hond gepraat… dink ek. Ek het hom vertel wat gebeur het. Het hy op ’n manier saggies en woordeloos vir my gebid? Dalk dink ek net so omdat dit my laat beter voel, dalk was dit net die opregte omgee in sy stem wat dit laat voel het of iemand my vashou. Ek het, nadat ek afgelui het, net vir lank gesit en huil. Tjank. Snot en trane. Sonder ‘n enkele tissue in die nabyheid. Tot al my grimering af was. Ek het vir SW ’n boodskap gestuur en gesê ek mis sy vriendskap erg, want dit is waar en hoewel ek geweet het dat ek niks van hom sal hoor nie, wou ek hê hy moes dit net weet… hoewel dit dalk net ’n vloekwoord by hom laat opkom het omdat ek hom weer kontak.

En toe is ek huis toe. Wat daar gebeur het, maak seker nie saak nie. Wat beteken woorde tog as aksies presies die teenoorgestelde verklap van wat jy sê? As mens seergekry het, wil jy ander ook seermaak. En dis wat hy probeer doen het… en dit het nie gewerk nie. Ek is immuun daarteen. ‘n Dooie siel kan buitendien mos nie seerkry nie.

Ek het tot baie laat gewerk en was baie moeg toe ek gaan slaap het. Wonder bo wonder hét ek geslaap. Die volgende oggend het ek vroeg wakker geword, en met die opstaan het my man my arm styf vasgegryp. Ek het gewag vir die woorde vat jou goed en fok uit my huis uit, en ek was so stomgeslaan toe iets anders uit sy mond kom dat ek hom moes vra om dit te herhaal.

“Ek is regtig jammer dat ek jou so seergemaak het.”

Soveel trane en soveel bewerasie kon ek nie terughou nie… ek het histeries geword in myself en hom toegelaat om my net vas te hou. Bekende arms om my wat my altyd laat veilig voel het… ’n Liefdevolle stem wat my altyd laat glo het in die goeie… Maar van die man wat ek nou te bang is om weer te vertrou.

Wat gebeur as mens jou hartklop verloor? Wat gebeur as jy so lief is vir iemand dat jy verewig en altyd jouself tweede sal stel in die hoop dat hy sal ophou om jou seer te maak en net so lief sal wees vir jou? Wat as jy weet dat die persoon ontsaglik lief is vir jou, maar ’n probleem het en nie bereid is om iets omtrent die probleem te doen nie? Wat maak mens dan? Want ek weet nie.

Ek is so ontsaglik lief vir hom. Ek wil hom nie laat gaan nie. Ek wil nie ons huwelik beëindig nie. Maar waar pas ek in? Waar begin sy beloftes aan my vir hom saakmaak? Waar begin hy besef dat sy liefde vir my niks beteken as sy dade nie daarmee ooreenstem nie? Wanneer gaan hy begin besef dat hy besig is om my te dryf tot ’n keuse wat nooit vir my ’n opsie was nie, maar al hoe meer soos die enigste opsie begin lyk en dat die pad vorentoe sonder hom leeg en alleen lyk, maar dat daar darem minder seer, twyfel en teleurstelling sal wees?

Here, as ek moet aanhou hoop en glo en bid vir ons; as ek moet aanhou hoop en glo vir hom en vir my; as daar rede is vir hoop en vertroue en liefde… help ons? Help my? Help hom. Ek is so verskriklik lief vir hom en ek weet hy is op sy manier ook lief vir my. Maar ek vra U vandag net vir een ding: gee my die wysheid om die regte besluit te neem. As dinge moet eindig, laat dit eindig en gee my die krag om heel aan die ander kant uit te kom. As dinge uitgesorteer kan word, gee my die deursettingsvermoë om weer elke dag die regte keuse te maak om te vertrou en te glo en te hoop. Ek weet net ek wil nie weer so seerkry nie. Ek weet net ek is moeg en ek voel dood, en ek haat dit. Ek weet net ek kan nie meer aangaan soos ek nou aangaan nie. Help my. Asseblief.

Advertisements

3 thoughts on “Kommapunt 8: As ’n hartklop stil raak

  1. Liewe, liewe blommemeisie. Ek hoor jou pyn. Ek wens so ek kon jou ‘n drukkie gee, sommer by jou sit sodat jy jou hart kan uitpraat, sodat jy kan huil.
    Jou laaste paragraaf sê vir my alles. Jy soek hulp by die regte plek. Mag God vir jou die krag gee om te doen wat jy moet doen. Mag Hy jou die wysheid gee om die regte besluit te neem, wat dit ook al mag wees.
    Jy verdien regtig meer. Baie baie sterkte

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s