Kommapunt 7: Die balk in my oog

Daar is dinge in die lewe wat maklik is. Daar is dinge in die lewe wat moeilik is. En dan is daar dinge wat net ’n mengelmoes van nagmerries en nonsens is. Een van die maklikste dinge wat ek nog in my lewe gedoen het, was om te oordeel. Een van die moeilikste dinge wat ek moes doen was om te besef dat ek glad nie beter is as enige van die vroue wat ek veroordeel het, is nie. En dit is vir my die grootste deurmekaarspul en gemors om nou my gedagtes en lewe reg te kry en uitgesorteer te kry.

In my vorige Kommapunt-inskrywing het ek afgesluit met die dag wat ek my man te ver gedryf het om inligting te kry oor wat alles gebeur het. Daardie dag spook steeds by my, want dis die dag waarop ek uitgevind het waarom hy in die eerste plek by ander vroue betrokke geraak het. Om dit te verduidelik, gaan ek nou in baie sensitiewe sake moet ingaan… verskoon asseblief…Ek was ’n maagd toe ek en my man getroud is, maar dit het my nooit gepla dat my man nie ook was nie. Ek het geweet hy het ’n paar meisies voor my gehad en – eerlikwaar – wie is nog in vandag se tyd ’n maagd tot die dag wat hy/sy trou? Vir my was hy “die een” en “die enigste een”. Hy was die eerste en enigste persoon wat my gesoen het, die enigste ou wat vir my gesê het hy is lief vir my, die enigste persoon wat ek toegelaat het om aan my te raak. Ons huweliksnag was oor verskeie redes vir my so spesiaal, maar veral as gevolg daarvan dat dit saam met die eerste persoon is wat ek werklik liefhet. Dit was my heel eerste keer en ek het geglo aan die sprokie dat dit die enigste eerste keer sal wees… saam met die man van my drome en die enigste man saam met wie ek ooit intiem sal wil verkeer.

Ongelukkig was daardie eerste keer nie foutloos nie, en dit was eers ’n lang ruk later wat ons kon uitwerk wat regtig aan die gang is.

Ek kon my man nie bevredig nie; maak nie saak hoe hard ek probeer het nie.

[Weens die sensitiewe aard van hierdie inskrywing, het ek ’n deel wat voorheen hier was, uitgesny.]

 

Toe ek hom die dag te ver gedryf het, het hy hierdie probleem voor my kop gegooi.

“Hoe dink jy voel dit om ’n vrou te hê wat dit net nie vir jou doen nie? Hoe pateties is jy om my elke keer te glo as ek sê dit pla my nie? Ek is ’n man! Hoe kan dit my nie pla nie?”

“Ek het jou geglo. As jy vir my gesê het dis vir jou ’n probleem; want dit was nog altyd vir my; dan sou ek natuurlik help soek het na ’n oplossing…”

“Die ding is: jy kán my nie gee wat ek nodig het nie, al wil jy ook. Jy sal nooit vir my genoeg wees nie.”

Die bakleiery het lank daarna nog aangegaan, maar dit is die deel wat nou nog in my kop vassteek. Dis die deel wat nog so werklik is vir my:

Ek is die rede waarom hy aandag by ander vroue gesoek het.
Ek is die rede waarom hy nie gelukkig is nie.
Ek is nie genoeg nie.
Ek kan hom nie bevredig nie.
Ek sal dit nooit genoeg wees nie.
My skuld.
Ek.

’n Gevoel van totale “on-heid”, soos wat ek dit noem, het oor my gekom. Ek het onmenslik en onvroulik en onvergenoegd en onvervuld en ongelukkig gevoel in myself. Hopelessly incompetent, soos ek dit ’n paar weke later aan ’n berader/seksoloog verduidelik het.

My man het my begin ignoreer en stilstuipe gekry. Meer as ’n week het verby gegaan wat hy niks met my te doen wou hê nie. Hy het in ’n ander kamer in die huis gaan slaap en selfs al het ek hom goed gevra waarop ek ’n antwoord móés kry, het hy my net eenvoudig geïgnoreer. Die dooie gevoel van nikswerd wees het weer oor my gekom en ek kon dit net nie meer vat nie. Dit was dié keer vir my te veel.

Die enigste plek waar ek aanvaarding gekry het, waar ek weer soos ’n mens gevoel het, was die swing site waarvan ek vroeër geskryf het.

Aan die begin was dit vir my moeilik om met die mans daar te gesels. Dit was vreemd, want dit is nie hoe ek is nie. Die valsheid van dit alles is wat my die meeste gepla het. Ek het geweet wat almal van hulle wou hê, dat hulle bereid is om enigiets vir my te sê om dit te kry en as gevolg daarvan was ek versigtig om net uit te deel en vrygewig te wees. Ek het immers nog ’n bietjie selfrespek gehad en ek het nog waarde aan my vroulikheid geheg.

Daar was een persoon waarmee ek lekker gesels het oor meer as net seks, maar hoofsaaklik oor seks. Ek het hom egter op ’n afstand gehou, omdat ek hom om een of ander rede nie volkome vertrou het nie. Toe hy my vra vir foto’s, het ek ’n paar gestuur wat ek iewers van die Internet afgelaai het. Hy het my uitgevang en in my desperaatheid om net nie alleen te wees nie, het ek vir hom gesê wie ek werklik is. Hy het geweet hoe ek lyk, waar ek werk, en ek het dieselfde van hom ook geweet. Ons het van die begin af sensuele gesprekke gehad; ek gaan nie daaroor jok nie. Dit het my meer vrou, minder alleen en beter oor myself laat voel vir ’n rukkie as hy vir my sê wat ek aan hom doen met my blote gesels. Dit het my sexy laat voel. Sensueel. Soos ’n vrou af en toe behoort te voel. Daardie gevoel was verslawend en ek wou meer so voel… meer ervaar… meer daarvan leer ken.

Kort voor lank het ek begin om toe te gee vir wat hy my gevra het. Ek het geweet hy is getroud en hy het my vertel dat hy reeds een affair gehad het. Ek het geweet sy vrou is pragtig, sy kinders is dierbaar. Die gesinsfoto’s op sy vrou se FaceBook-blad was intiem, spesiaal, opreg. Die perfekte gesin. Ek was op daardie stadium so gefassineer en gefikseer met die een reaksie van die manlike liggaam wat ek nog net een keer in my lewe ervaar het, dat al die mooi foto’s en my eie skuldgevoel ’n spesiale plekkie ver agter in my kop gekry het. Gewetenloos, selfsugtig en belustig het ek my nie gesteur aan die stemmetjie in my eie kop wat my bly vertel het hoe verkeerd ek optree nie; het ek nie ag geslaan op die ys onder my voete wat al dunner word nie. Ek het geweet hy wou my ontmoet en dat hy binne ’n kwessie van dae gereed was om dinge verder te voer tot op ’n meer fisieke vlak, maar ek het geweet ek is nie reg daarvoor nie. Sy ongeduld in die saak het my tot my sinne gebring en ek het probeer om kontak met hom te breek, maar my eie alleenheid en hoop op onvoorwaardelike vriendskap het my laat bly terugkeer na sy geselsies.

En toe ontmoet ek SW.

Ek weet… ek weet… ek het gesê ek is klaar met my stories oor hom, maar hy het so ’n groot rol in my lewe gespeel dat ek hom eenvoudig nie net kan uitskryf nie. Dit sal net verkeerd wees. Met sy wyse woorde en sy insig in dinge wat glad nie eers oor seks gegaan het nie, het hy my voete onder my uitgeslaan. Ek het hom een middag op die site raakgeloop toe ek desperaat was vir aandag. Dit was kort ná nog ’n ernstige ignoreer-sessie by die huis. Ek het my bes probeer om sensueel en eroties te wees, maar sy woorde… humor… gemak… het my onkant gevang. Vir die eerste keer in maande op die site het ek besef dat ek ’n werklike persoon ontmoet het. Iemand wat eg is. Iemand met verstand. Dit was iemand waarmee ek kon gesels, wat my aanvaar het vir wie ek op daardie stadium was, ten koste van die emosionele plek waar ek op daardie stadium was. Hy het my nooit probeer manipuleer nie, hy het my met meer respek behandel as waaraan ek ooit gewoond was en mettertyd hy het my gehelp om te sien wie ek regtig is; die persoon wat ek in ’n kort tydjie so amper verloor het… Hy het my weer laat dink… en op ’n manier was hy een van twee persone wat my gered het. Genoeg nou eers van SW.

Hierdie is net ’n stukkie van my baie flenters pottery-lewe. Ek was gebreek en stukkend, maar ek is besig om heel te word. Ek het dit weggesteek en daaroor gejok, maar dalk is dit tyd dat ek hierdie gebreekte kant ook wys. Ek het goed gedoen waaroor ek nie trots is nie en foto’s gestuur wat my vandag walg. Maar dit het gebeur.

In sy artikel, Indifference is a power, skryf Lary Wallace die volgende:

What the whole thing comes down to, distilled to its briefest essence, is making the choice that choice is really all we have, and that all else is not worth considering. “Who […] is the invincible human being?” Epictetus once asked, before answering the question himself: “One who can be disconcerted by nothing that lies outside the sphere of choice.”
(http://aeon.co/magazine/philosophy/why-stoicism-is-one-of-the-best-mind-hacks-ever/)

Ek is nie blind vir my eie foute nie. Ek ontken dit ook nie meer nie. En ek oordeel nie meer nie. Ek verstaan nou albei kante van die muntstuk; albei gesigte van die spieël. Ek weet ek is baie ver van onskuldig af. En verstaan wat dit beteken om so skuldig en skaam oor goed te voel dat jy wens jy kan net verdwyn. Ek weet hoe desperaat mens kan word vir ’n klein bietjie aandag, aanvaarding, om net weer lewendig te voel. En nou weet ek ook hoe dit voel om te wens dat die klok net teruggedraai kan word en alles wat jy gedoen het net uitgevee kan word. Maar dit kan nie. Dit het gebeur. Dis die realiteit.

Dis waarom ek sê ek kan niemand oordeel nie. Ek kan nie meer na iemand anders verwys as “hoer” nie, want ek was self vir ’n ruk lank een… emosioneel in die kuberruim het ek my lyf en my siel aan een persoon geruil vir daardie oomblik waar alles net ’n bietjie beter en ek vir iemand aanvaarbaar is; waar ek vir ’n paar minute lank volkome vrou kon wees.

Was dit die moeite werd? Nee. Vandag voel ek verskriklik daaroor (niks oor SW nie; wel oor die ander persoon). Ek voel nes my vriendin in haar e-pos verduidelik het. Ek weet ek moet myself vergewe en aangaan met my lewe. Dis my keuse: ek WIL aangaan met my lewe en ek WIL ’n beter persoon, ’n beter vriendin en ’n beter vrou wees. Maar ek besef een ding: ek het besluit om die goed te doen wat ek gedoen het. Ek kan nie die kaal vroue of my man daarvoor beskuldig nie; dit was my besluit; en ek wil myself vergewe, maar ek weet nie hoe nie.

Nou is ek ontbloot. Kaal. Stripped to the core. En dit maak my so bang, want ek wil nooit weer so desperaat of alleen wees nie.

Liewe leser, verstaan asseblief: ek is mens… soos die vroue op die foto’s… soos my man… soos die mense op ’n volwasse chat site… soos jy… Moet my asseblief nie veroordeel nie. Ek probeer om my lewe reg te kry.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s