Kommapunt 6: Die paw-paw en die fan

Nadat ek my man gekonfronteer het, het ek gedink my hart gaan stilstaan. Ek het gedink hy gaan vreeslik kwaad wees vir my, my uit die huis uit jaag en my klere en skoene agterna gooi. Ek het verwag dat hy my gaan uitskel as ’n agteraf vrou wat skelm haar man se vertroue gebreek het en op hom gespioeneer het. Ek het dit verwag, want dis hoe ek gevoel het. As ek nou daaraan terugdink, voel ek soos ’n patetiese ou dingetjie. Waarom sou ek moes jammer wees? Waarom sou ek moes skoert? Waarom sou hy my soos ’n sleg hond kon wegjaag? Al wat ek verkeerd gedoen het, was om op die waarheid af te kom.

Toe die woorde uit is, het ek gedink my lewe gaan nog meer verander as wat dit reeds in die afgelope ses weke verander het. Toe hy sy asem intrek en ek hoor hoe sy hartklop versnel en voel hoe sy spiere styf word, het ek verwag dat hy my gaan verskree… die kuns van afkraak en slegsê wat hy al so goed bemeester het oor die afgelope paar jaar. Ek het myself daarop voorberei, maar niks het gebeur nie.

Toe ek myself wegtrek van hom om net ’n snesie te vat en sy gesig te sien, wou hy my nie laat gaan nie. Hy was doodstil en toe ek sy ’n stukkie van sy gesig sien, kon ek net sien hy is wasbleek.

“Wat maak jy daarvan?” het hy met die sagste en rustigste stem denkbaar gevra.

Ek kon nie ’n woord uitkry nie. Wat hét ek daarvan gemaak?

“Die afgelope paar weke het ek keer op keer vir jou gevra of daar iemand anders is, of jy my verneuk het, of jy by my wil wees… En elke keer het ek jou van my liefde verseker en vir jou gesê dat my liefde vir jou onvoorwaardelik is en dat ek jou sal vergewe as daar iemand anders was. Jy het vir my gejok daaroor. Elke keer. En nou wil jy weet wat maak ek daarvan? Ek dink ek is te deurmekaar om enigiets van enigiets te maak. Ek dink jy moet eerder vir my sê wat aangaan en wat ek daarvan moet maak.”

Weer… stilte.

Ek het gesukkel om die vraag te vra, want ek was net te bang vir die antwoord: “Is jy nog lief vir my? Voel jy ooit nog vir my iets? Of is ek net hier vir die show? Goed genoeg om die huis skoon te hou, kos te maak en goed te koop of jou te help. Is dit al wat ek vir jou is? Hou ek die afgelope agt jaar vas aan een groot leuen?”

“Nee.” Dis die eerste keer in my lewe wat ek dit in sy stem hoor. Hy was ontsenu. “Ek het al soveel keer gedink dat jy beter as ek verdien en ek het al so baie keer gedink dat ek dalk net moet wegraak. Jy wil kinders hê en ek kan jou dit nie gee nie. Jy het ’n loopbaan van jou eie en ek hou jou partykeer terug. Ek het al baie keer gedink ek moet jou net los omdat jy beter as ek is, maar… ek weet nie… elke keer dan dink ek net aan jou. En dan weet ek ek is net so lief vir jou. Dit maak nie saak wat ek doen nie en wat ek beplan nie. Elke keer dan los ek dit net, want ek kom terug na een feit. Ek is lief vir jou.”

Dalk het hy my gemanipuleer. Dalk het hy die waarheid gepraat. Ek het op daardie stadium nie omgegee nie en hom dit mooi laat verstaan.

“Ek wil weet wat aangaan, wat gebeur het en waarheen ons op pad is. En of jy my in jou lewe wil hê. Want soos ek nou voel, weet ek nie of ek enigsins omgee of ek aanhou asemhaal nie. Met of sonder jou.”

Hy het my dele van die waarheid vertel, maar ek moes hom konstant druk vir inligting. Dit het my laat sleg voel dat hy gedink het hy kan op dié punt nog steeds goed vir my wegsteek. Hy het nie besef van watter meisies ek geweet het nie en ek het nie ’n geheim daarvan gemaak dat ek van amper alles in detail weet nie. Die meeste van wat hy gesê het, het geklop met dit wat ek reeds op my eie uitgevind het. Dit het my gerus gemaak, maar ek was die hele tyd so bang dat dit nie iets was om oor gerus te wees nie…

’n Paar weke tevore het ons ’n gesprek gehad, waar ek hom die geleentheid gebied het om vir my te vertel wat aangaan. Soos elke ander keer, het hy nie van die geleentheid gebruik gemaak nie. Wat hy wel gedoen het, was om vir my te vertel dat hy die lewe soos een groot skaakspel sien en so moeg is daarvoor dat hy sy opponente se volgende skuif moet antisipeer.

Op daardie oomblik het ek aan sy vergelyking met die skaakspel gedink.

“Ek was nog nooit jou opponent nie. Ek was nog altyd jou kameraad. Jy het nie nodig om ooit my volgende move te antisipeer nie en jy het nie nodig om vooruit te dink wat my betref nie. Of jy dit nou ooit wou weet of nie, ek is saam met jou. Aan dieselfde kant en ek speel sáám met jou. Nie teen jou nie. Ons lewe is nie ’n skaakspel nie. Dis nie ’n speletjie nie en dis nog minder ’n kompetisie. Dis ons lewe. So hou op om my soos iemand teen wie jy skaak speel te hanteer, want ek weier om daardie rol te speel vir een oomblik langer. Ek is of saam met jou of ek is nie in jou lewe nie. Jou besluit.”

Dit het hom nog stiller gemaak. Ek kon amper hoor hoe hy dink. En toe stop. En toe maak hy oop.

Drie uur en baie trane later het ons eers ophou praat. Hy het my weer daarvan verseker het dat hy by my wil wees; dat hy vir my lief is. Ons is saam na sy rekenaar toe en ek het gekyk hoe hy die vouer met die foto’s uitvee. In my hart het ek gewonder waar die rugsteun is… ’n CD? ’n Hardeskyf? ’n Ander plek op sy rekenaar? ’n Ander rekenaar? Ek het geweet daar was nog, maar ek het geweet dat ek nie verder moet karring nie.

Die volgende dag het iets met my gebeur. Ek weet nie wat dit was nie en ek wens dit het nooit gebeur nie. My kop het uitgehaak. Heeltemal. In my kop het ek die idee gehad dat ek moet sorteer deur dit wat met my en met ons gebeur het, en ek het daarop aangedring om alles te weet. Ek wou weet hoe hy voel, wat in sy kop aangegaan het en hoekom hy dit gedoen het… waarom hulle dit toegelaat het…

As ek een ding kon verander van my reaksie, dan sou dit presies net dit wees. Ek sou myself keer om alles te wil uitvind, want daardeur het ek myself net vreeslik seer gemaak. Ek het bly krap en krap en krap en die wond eintlik op die ou einde net groter gemaak. Waar ek vroeër leemtes gehad het wat ek met spekulasie kon vul, het ek nou die realiteit gehad. Die werklikheid. Sonder ’n lekker suikerlagie.

Een dag het ek dinge te ver gevoer en hom te ver gedryf. En toe kom die dinge uit in harde woorde wat tot vandag toe nog so diep en seer sny dat ek sukkel om die trane terug te hou.

Dit was nie hy nie. Dit was ek.

*Word vervolg*

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s