Gebreekte mooi

Het dit ook al met jou gebeur dat ’n mooi pot, koppie of sentimentele ornament (man… pottery-goed) kraak of breek, en dan wik en weeg jy of jy dit moet weggooi of moet hou? Dis vir my so vreeslik dat een klein krakie of chip-merkie die hele ding kan ruïneer! In my eie poging om die arme ou ornament se lewe net vir nog ’n klein bietjie te verleng, sal ek dit net skuif en draai sodat die “eina” nie so opsigtelik is nie.

Dis wat ek gedoen het met ’n groot outydse porselein waskom wat in ons spaarkamer staan. Op een of ander manier het dit van iewers ’n hou weg en ’n diep donker kraak het van die rand van die bak tot in die binnekant gevorm. Die ding is nog mooi en dis is op ’n manier antiek en kom van my ouma af, so dis die draai werd. Tog is dit nie die oudheid of die tikkie sentiment wat ek het vir dié waskom wat my die stukkende deel eerder net na agter toe laat draai nie. Dis die haatlike gevolg van die oorsaak… die dilemma van soek na iets anders wat daar sal pas as dié ding in die asblik sou land… die sieldodende geloop van een winkel na ’n ander… net om te besluit dat ek tog maar die eerste ding wat ek gesien het in die eerste winkel wat ek besoek het, heel aan die ander kant van die mall maar moet koop… die duur betaal vir iets wat eintlik onnodig is, waarvan ek eintlik nie vreeslik baie hou nie en wat ek nie eintlik baie graag wil hê nie… die gedagte dat ek tyd in die besige miernes van ’n winkelsentrum moet spandeer… en Strooimeisie hou nie van winkels nie.

Ek verloor alweer die draad van my storie; vloskoppies wat ook aan aandag afleibaarheid ly is maar ’n moeilike spesie…

My ouma het die lelikste pottery-ding gehad wat sy so ewe in die ingangsportaal teen die muur gehang het. Met die intrapslag het baie van ons gaste sulke snaakse “ek-ruik-iets-stink”-uitdrukkings op die gesig gekry as dié ding hulle so onverwags en vol in die gesig begroet het. Wat dit eintlik was, het ek nooit verseker geweet nie. Abstrak was dit beslis. Dit het vir my gelyk soos een of ander pienk blom met pienk krale wat ondertoe hang, en in die middel was drie groot pienk karbonkels wat vir my in die 20 jaar of so wat die ding daar gehang het, altyd net na knoetse poef van ’n baie hardlywige hond gelyk het. Maar dit kon nie poef gewees het nie, want dit was glansende pienk pottery, en in my ouma se oë was dit niks anders nie as pragtig; regte kuns. (Sou SW nog gelees het wat ek skryf, dan sou my twyfelagtige kunssmaak en liefde vir Portchie waarskynlik nou verklaar wees… dis in my gene; dis nie my skuld nie; ek kan dit nie help nie!)

Maar my ouma het ’n ander rede gehad waarom sy van die pienk ding teen die muur gehou het; seker die enigste rede waarom sy dit daar laat bly hang het en hewiglik ontsteld geraak het as enigiemand net daaraan dink om dit af te haal of te vervang. My oupa – die een liefde van haar lewe – het dit ’n kort rukkie voor sy dood vir haar gekoop.

Ek het eers uit die huis getrek toe ek die dag getroud is. En dit was net ’n paar maande later wat die huis waarin ek my lewe spandeer het, toe ook verkoop is. My ouma het by haar ander kinders ingetrek, my broer het gaan studeer en my ma (wat op daardie stadium saam met my pa ook by my ouma gebly het) het na ’n woonstel toe getrek omdat sy nie ’n huis kon bekostig nie en my pa (wat daai jaar pad gevat het toe hy ver van ons af werk gekry het) meer af- as aanwesig was.

Ek onthou hoe ek my ouma nog die dag gehelp het om die lelike pienk ding van die muur af te haal. Elke kraletjie moes met tissue-papier toegedraai word, daar is seker omtrent drie lae bubble wrap oor elke karbonkel en elke blaaragtige flap gedraai en dit is met die grootste sorg denkbaar in ’n stewige boks gepak. BREEKBAAR – POTTERY – VERSIGTIG! is in baie leesbare groot swart letters op elke kant van die boks geskryf voor dit in die trok gelaai is en vervoer is na ’n nuwe muur in ’n ander huis.

Groot was die tranedal en verwyte toe twee van die flappe gebreek en een karbonkel gekraak uit die boks uit kom. Hoe dit gebeur het, weet niemand tot vandag toe nie. Selfs nie die waardevolste artefak het al soveel bubble wrap en tissue-papier in sy lewe gesien nie! Die feit is egter dat iets gebeur het, en een van my ouma se kosbaarste besittings het gebreek. Dit was genade vir die res van die samelewing, maar dit was verpletterend vir haar. My oom het boonop toe nog gesê sy gaan beslis nie ’n gebreekte lelike ou ding in sy huis hang nie, en tot vandag toe het sy maar net ’n string van die pienk pottery krale op haar spieëlkas. ’n Klein herinnering aan iets wat vir haar mooi was en iemand wat vir haar die wêreld beteken het; iets waaraan sy nog kan vashou.

Dis aan dié pienk ding en my ouma waaraan ek gedink het, toe ek nou die dag iets moois gelees het (lees gerus in meer detail hieroor op http://www.amusingplanet.com/2014/05/kintsugi-japanese-art-of-fixing-broken.html). Om die artikel op te som:

Daar is ’n Japannese kunsvorm, waar beskadigde artefakte of potterige goed wat sentimentele waarde het, met goud reggemaak word. Dit word Kintsugi genoem, en die gedagte is dat die fokus juis hiermee op die mooi van die gebreekte deel moet val, eerder as om dit te probeer wegsteek of verbloem. Deur dit te doen, word die stuk nie net reggemaak nie, maar daar word juis ook waarde bygevoeg. Die lelike kraak of stuk wat afgebreek het, word vasgemaak of opgevul met goud, silwer of koper en dit wat mens voorheen sou wou wegdraai, word dan juis na die voorkant gedraai sodat mense dit kan sien. Dit wat lelik sou wees, is nou so mooi dat dit sommer uitgestal word.

Dink net hoeveel dit vir my oums sou beteken as ons haar lelike pienk-karbonkel-blom só kon regmaak (of is die regte woord dalk eerder “verbeter”?)…

Dink net hoe dit sou wees as ons ons eie gebreke en tekortkominge ook só kon opvul en aanvul en versterk!

Kyk. Ek het al gelewe. Ek het al seergekry. My hart is gebreek. My lewe was al meermale flenters. Ek het al gebreek, gekraak, ge-chip. Maar dit het my nie heeltemal gebreek nie en ek is nou mooier en sterker as wat ek ooit voorheen was. Dalk selfs mooier, danksy al die einas. Dis nog steeds ek. Maar met ’n tikkie egte goud. Kyk vir my. Sien die mooi én die lelik; die heel én die stukkend… en weet wie die werklike ek is.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s