Kommapunt 5: Klaar met kat-en-muis

Toe die realiteit my uiteindelik tref, was dit met mening.

Twee weke het verby gegaan vandat ek by die kliniek was, maar dit het gevoel soos ’n leeftyd. In daardie tyd het daar eintlik nie veel gebeur nie. Tog het daar regtig baie gebeur.

Iewers net na die kliniek-episode het ek erg griep gekry wat ek net nie kon afskud nie. Die feit dat ek nie kon eet nie; koffie was die enigste ding waarop ek gefunksioneer het en af en toe ’n Salticrack of ’n Eat-sum-mor; het seker ook nie baie gehelp nie. Moenie my verkeerd verstaan nie; dis nie dat ek nie wou eet nie, maar eerder dat ek nie kon eet nie. Alle kos het dik geword in my mond en my gewalg. My styfste klere het soos sakke aan my gehang. Ek kon nie slaap nie; dalk as gevolg van die koffie, maar beslis as gevolg van my man se dinge. Waarskynlik ook omdat ek besef het hoe min mense daar in my lewe is wat ek werklik vriende kan noem en wat ek werklik kan vertrou.

Voor my besoek aan die kliniek was my kop onstuimig, maar nou het dit net erger geraak. By die werk was dit vir my moeiliker as ooit. Almal het verwag dat ek moet glimlag en grappies maak, en hoewel ek hard probeer het om net myself te wees, het ek dit moeilik gevind om mense in die oë te kyk. Ek het geweet dat mense die lelik sal sien en sal wil weet dat iets aangaan. En ek het geweet dat hulle dan sal verdwyn, sal weghardloop en ek sal alleen vasgekeer wees in my eie wêreld van leuens en manipulasie. Dis tog wat mense doen as hulle van die duiwels in jou lewe weet.

Ek het ’n afspraak gemaak om my hare te laat sny en my naels mooi te laat maak. Goed wat ek amper nooit doen nie – ek is nie iemand wat myself al ooit gepamperlang het nie en niemand het my nog ooit werklik op so ’n manier bederf nie. My haarkapper het bekommerd na my gekyk. My hare het baie dun geword en toe sy dit kam en was, het hopeloos te veel daarvan na haar sin uitgeval. Die vrou wat my naels moes doen het ook gekla dat ek nie kan stilsit nie. Ek het sonder ophou gebewe soos ’n riet.

Twee dae later was ek op die trappe by die werk, op pad na ’n vergadering. Ek het sleg gevoel en amper in my kollega se kantoor die drie koekies en twee bekers koffie “verloor” en besluit dat ek voor my vergadering maar ’n draai by die badkamer moet gaan maak vir ’n slukkie water. Halfpad onder toe het alles voor my het net swart geword. Ek het onder beland met ’n gebreekte skoen, geswikte enkel, twee mooi naels wat verwoes is en gebloei het en drie pers vingers. En toe ook ’n rooi gesig… Drie skoonmakers het my regop gehelp.

Dit was lankal nie meer nét griep nie. Ek was besig om baie siek te word. Ek het geweet ek moet iets doen en het daardie selfde dag nog ’n afspraak by my huisdokter gemaak vir die volgende oggend agtuur.

Lang storie kort: die dokter het verskeie toetse gedoen en omtrent die helfte van my bloed in botteltjies opgetrek. Hy wou my laat opneem omdat hy geweet het daar is iets fout met my, maar hy kon nie agterkom wat nie. Toe vertel ek hom dat dit net spanning is; dat ek en my man tans ’n moeilike tyd het. Ek kon in sy oë sien hy is bekommerd en ongelukkig, maar dat hy nie verder wou uitvra nie. So ek het nie verder uitgebrei nie. Met baie mooipraat en ’n oortuigende fake glimlag is ek daar weg met ’n voorskrif en ’n afboeksertifikaat.

By die huis het ek een laaste keer weer probeer om my man ’n kans te gee. Ek het voor hom gaan sit by sy lessenaar, waar hy rustig gewerk het en presies dieselfde vraag gevra as wat ek al ’n duisend keer die afgelope paar weke gevra het: “Is jy lief vir my?”

Hy het geïrriteerd opgekyk en die frons tussen sy oë het my bang gemaak. Ag Here, help my nog net vandag. Daarna kan Jy my maar los. Ek het Jou net asseblief nou nodig om net vir ’n rukkie by my te bly. Asseblief.

“Wat is dit?” Sy oë het vuur geskiet en hy het baie kwaai geklink. Elke woord was ysig en het soos ’n mes in haar hart ingesteek. Ek kon voel hoe die bietjie bloed wat nog in my lyf was, saam met my moed tot in my skoene sak. Soms wens ek dat ek meer selfvertroue en moed gehad het; dat ek selfversekerd kon wees.

“Ek weet jy is besig. Ek weet ek pla jou. Ek weet jy het dié vraag al baie gehoor en baie geantwoord. Maar kan jy dalk – asseblief – vir my net vyftien minute uit jou besige skedule sny? Ek moet met jou praat oor iets. Maar ek wil hê jy moet eers klaar wees met jou werk. Jy gaan nie net ’n minuut sit en dan opstaan omdat jou werk, rekenaar of selfoon jou soek nie. Asseblief.”

Hy het geweet ek is ernstig en dat dit dringend is. Omtrent ’n halfuur later was hy in ons kamer, waar ek gelê het, maar weer nie kon slaap nie. ’n Koppie tee in sy hand. Alle koudheid het van sy gesig af verdwyn en daar was liefde in sy oë. Hy het by my op die bed kom sit en my teen hom laat lê. Sy arm was om my. Ek het saggies begin huil. Soos altyd het hy dit nie agtergekom nie.

“Vertel my wat aan die gang is, asseblief. Jy is besig om my dood te maak omdat jy my so uitsluit en so vir my jok,” het ek gesnik. My stem was omtrent weg van die griep. My kop het gespin van die medisyne en inspuiting wat die dokter my gegee het. Ek het gewens ek was eerder net dood.

“Ek het mos nou al vir jou gesê… daar is niks aan die gang nie. Ek is net besig.” Sy stem was so sag soos sy oë. As ek nie reeds van alles geweet het nie, sou ek hom dalk kon glo.

“Waarom dink jy ek is stupid?” Die enkele onskuldige vraag het hom hardop laat lag.

“Ek weet van die foto’s.” Dit was skaars hoorbaar, maar hy hét my gehoor. Ek kon voel hoe sy hart skielik vinniger klop, sy asemhaling versnel en sy spiere verstyf. Hy het dadelik ophou lag. Nou, Here. Net vir die volgende rukkie. Asseblief.

*Word vervolg*

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s