Kommapunt 4: Girl to girl

Die nagmerries oor H is nie die enigste wat ek deesdae kry nie. Ek dink ook regtig die laaste tyd baie aan een van die ander meisies waarvan ek foto’s op my man se rekenaar gesien het. Iemand wat saam met my op skool was. Een van my beste vriendinne. Die ma van my peetkind…

Ek het nie die moed gehad om haar te gaan sien nie en ek het nie die wil gehad om haar toe te laat om my in die oë te kyk en mooi praatjies te praat nie. Sy het my gewalg vir wat sy gedoen het en ek het gewens ek kon haar uit my lewe uitsny, en was dit nie vir my peetkind nie dan sou ek waarskynlik presies net dit doen.

Op die ou einde het ek maar besluit om haar per e-pos te konfronteer…

 

Strooimeisie:

Jammer vir die vreemde e-pos. Sê nou maar net ek het ’n lelike onaangenaamheid wat ek, girl to girl, met jou wil bespreek sonder dat enigiemand anders nou daarvan weet… insluitend ons mans… kan ek jou vertrou om vir niemand te vertel nie en vir my die volle waarheid te vertel?

 

Vriendin:

Ja natuurlik!

 

Strooimeisie:

Okay. So voor jy enige attachments oopmaak wil ek net ’n paar goed duidelik stel:
1) Ek weet ons het eers regtig begin vriende word aan die einde van 2010, toe jy reeds swanger was met jou kind.
2) Wat ook al jy my vertel, ek sal dit tien teen een glo en ek sal jou nie verkwalik nie. Ek was waarskynlik die rede waarom dit in die eerste plek gebeur het.
3) Dit het omtrent 3 jaar terug gebeur, so as dit in die verlede is dan los ons dit net daar en dit meng nie op enige manier in met ons vriendskap of jou kind se lewe nie.
4) My man weet nie ek praat met jou nie; niemand weet behalwe ek en jy nie. Ek sal baie graag wil hê dat hy nooit moet uitvind dat ek jou eers hieroor gekontak het nie. Ek probeer eenvoudig net vir myself dinge uitsorteer.
Okay? So. My vraag is eenvoudig dit: kan jy dié foto’s vir my verduidelik? Daar is natuurlik meer… Ek is seker jy weet wat ek nog het, maar vir nou heg ek net 3 aan.

 

Vriendin:

Sjoe ek het my kop nou letterlik in skaamte laat sak en my hart is baie, baie, baie seer!
Eerstens wil ek net sê ek is baie jammer, ek wou jou al soveel kere vertel het van die fout wat ek gemaak het, maar ek het geweet dit sal jou te seer maak. Ja die foto’s was net voor ek uitgevind het ek is swanger. Ek het baie gedrink daardie tyd, en ek was so alleen omdat my man my so afgeskeep het. Jou man het vir my flirty boodskappe begin stuur en gevra vir foto’s… EK WAS MAL OM DIT OOIT TE NEEM, WAT NOG VAN TE STUUR!!!! DAAR HET NIKS VERDER GEBEUR NIE VRIENDIN, EK SWEER MET MY LEWE DAAROP!
Ek en my man was op daardie stadium baie na aan skei, al het niemand dit geweet nie en ek het net heeltemal kop verloor! Nadat ek en my man een aand gepraat het, het ons ons probleme uitgesorteer en toe ek met ons kind swanger raak het alles verander, vir die beter. Ek drink glad nie meer so baie nie en steur my nie eers daaraan as enige man met my flirt nie, want ek was en is nog steeds bitter spyt oor al die gemors wat ek lank terug aangejaag het! Ek het al vir jou man gevra dat hy asseblief al die foto’s moet delete en van alles moet vergeet en hy het vir my gesê dat hy het, maar ek het nog altyd daaroor gewonder… Niks het ooit tussen my en jou man gebeur nie, vriendin. En die foto’s was een van die grootste foute van my lewe, maar ek het regtig gedink hy het dit delete soos hy gesê het. Ek het al vergeet daarvan. Ek is bitter bitter jammer dat jy dit moes uitvind! Ek weet nie hoe ek jou ooit weer in die oë sal kan kyk nie. Jy is so wonderlike mens en so wonderlike vriendin en ek hoop nie ek verloor jou vriendskap nie… Ek smeek jou: moenie ooit vir my man hiervan sê nie, hy sal my los sonder om 2 keer te dink. Hy en my kind is my lewe en ek kan nie dat my kind sonder sy pa grootword nie, ek sal nie kan aangaan met my lewe nie… ASSEBLIEF, ASSEBLIEF!
Ps. ek weet ek is nie in die posisie om gunste te vra nie, maar kan jy asb AL die foto’s delete? My hart is stukkend en ek voel so verneder, ek haat drank en ek haat myself… Hoop jy sal my kan vergewe…

 

Strooimeisie:

Het jy enige idee hoe MY hart voel? Hoe kon my vriendskap vir jou so min beteken het?
Ek wil nie vir jou moeilikheid maak nie, verstaan dit baie mooi. Maar ek gaan jou reguit sê dat ek ook nie meer met dieselfde oë na jou kyk nie, hoewel ek nie ons vriendskap wil laat gaan nie as gevolg van ’n klein kindjie vir wie ek ontsettend baie lief is. EN DRANK OF PROBLEME TUSSEN JOU EN JOU MAN IS GEEN VERSKONING NIE!!! Ons was op daardie stadium vriendinne en jy het geweet hy is met my getroud!
So vertel my: hoe het die gesprek in die eerste plek begin?
PS: Ek wil nie hoor dat jy jammer is nie, want op dié stadium glo ek jou nie. Soos al die ander girls wie se foto’s ek gekry het (en daar is baie), dink ek op die oomblik net dat julle almal net jammer is dat ek julle uitgevang het en op die foto’s afgekom het. As dit nie so is nie – my bad. Ek sal seker, as ek eendag nie so de moer in en seergemaak is nie, vir jou jammer sê. Die foto’s op my man se rekenaar is uitgevee, maar ek het ‘n paar back-ups en ek weet nie of hy self ook back-ups het nie… soos ek hom ken, het hy.

 

Vriendin:

Ek verstaan jy is moerig en ek verstaan jy haat my en ek verstaan my eerlike verskonings beteken nou niks vir jou nie…. maar jou vriendskap beteken baie vir my vriendin, meer as wat jy dink! Ek vertrou jou met my kind se lewe as ek en my man nou moet doodgaan… Ek en jy was nog glad nie sulke goeie vriendinne daardie tyd soos wat ons nou is nie, maar jou vriendskap is nou vir my meer as goud werd, al weet ek jy glo dit dalk nie nou nie…
Ek kan glad nie onthou hoe die gesprek begin het nie… soos ek sê dis baie lank terug en dit het niks vir my beteken nie, so dis nie asof ek iets gememoriseer het nie… ek sweer ek praat die waarheid en NEEEEE ek het nooit gevoelens vir hom gehad nie en sal ook nooit hê nie, ek was alleen en het aandag gesoek en ek weet dit wat ek gedoen het was verkeerd…
Ek is jammer dat jy dit uitgevind het, net omdat ek nie wou hê jy moes seerkry, maar ek bedoel dit opreg as ek sê is BAIE JAMMER, AS ‘N VRIENDIN!!! Ek is jammer dat daar van ander girls ook is, ek kan dink dat jou hart in stukke is… En om dit erger te maak is ek een van die statistieke… EK HAAT MYSELF… Ek belowe dat ek nooit met jou man weer hieroor sal praat nie en belowe jy my ook dan dat my man en kind nooit hiervan mag weet nie… Ek sal verstaan as jy my ook haat en ek weet my trane beteken niks nie, maar ek smeek jou, moenie dat my kind onder my stupid foute moet swaarkry nie…..Ek weet God het my vergewe en ek hoop jy sal ook eendag kan…

 

Strooimeisie:

Ek hoop ook dat ek jou eendag sal kan vergewe. Soos ek gesê het, ek is nie hier om jou kind se lewe of jou huwelik te ontwrig nie. Hulle sal dit nooit van my af hoor nie. Verder – moenie bekommerd wees nie, duidelik is ek ’n baie goeie aktrise want ek weet al vir omtrent twee maande hiervan.

 

Die hele relaas het my ’n naweek se slapelose nagte gegee. Die foto’s het aanhoudend deur my gedagtes geflits. Dit was een van my beste vriendinne. Ek was verpletter. Tog het ek geweet dat ek nooit in my lewe myself sal kan vergewe as ek nie met haar ook op ’n manier regmaak nie. Dis snaaks hoe dinge werk. Mens dink altyd dat revenge so wonderlik sal proe, en die oomblik wat jy net ’n smakie daarvan kry, vul dit jou net met bitterheid. Die Maandagoggend het ek vir haar nog ’n boodskap gestuur:

 

Strooimeisie:

Ek weet ek was Vrydag seker baie wreed met jou. En ek weet ek is steeds op ’n manier wreed met jou. Ek het vir jou ’n paar van die foto’s gestuur en nie regtig vreeslik baie daaroor gesê nie. Om heeltemal eerlik te wees – ek WOU jou laat skaamkry, laat worry, laat sleg voel en laat weet hoe dit voel om te weet van so ’n vieslike geheim wat jy heeltemal alleen moet dra, want dis presies hoe ek die afgelope twee maande gevoel het.
Jammer as dit vir jou sleg is. Jy weet egter ek maak nie ’n moordkuil van my hart nie en ek gaan beslis nie voorgee dat alles okay en reg is en dan is dit alles behalwe reg nie. So ja – ek draai nie doekies om nie en ek is bly jy kry skaam. Die feit dat jy skaam kry sê dat jy in ’n sekere sin verander het. Mag jy elke keer wat jy aan dié siek storie dink tot in jou siel in skaamkry, sodat jy nooit in jou lewe weer so iets met my of enige ander vrou se man doen nie. As jy dit gedoen het omdat dinge sleg gegaan het tussen jou en jou man – wat as dinge weer moeilik raak? Gaan jy dit weer doen? Want dit is nie ’n verskoning nie.
En die kersie op die koek is dat jy nog lieg oor goed ook. As ek so vinnig gaan loer op jou Facebook-blad, wil dit mos ook nou vir my lyk of jou man oor die tyd van die foto’s hier rond gewerk het; nie ver soos wat jy nou voorgee nie… Om die waarheid te sê, hy het omtrent ’n jaar vóór die foto’s geneem is, al teruggekom van die werk wat hy daar ver gehad het, wat my laat wonder of jy dalk net met jou sop verskonings en redes gryp na strooihelms.
Nog iets wat my nou tref: ek weet wat werklik gebeur het en dat dit nie jou man was wat jou verneuk het nie, maar jy wat hom met een van sy vriende verneuk het. Ek weet daarvan. Ek het nog altyd geweet. Mense praat en mens kan niemand vertrou nie. En ten spyte van jou fout, het ek dit nooit genoem nie en jou as een van my beste vriendinne aanvaar.
Verder: As jy die foto’s in dronkenskap geneem en gestuur het, wat as jy weer eendag dronk raak en iemand met jou begin flirt? Weereens – nie ’n goeie verskoning nie. Jy was ook, heel ironies, nugter genoeg om daardie OGGENDE (die datum en tye is duidelik sigbaar op die foto’s se date stamp) of vroeg in die MIDDAE allerhande gate te vind en heel akkuraat te vul met toys, die kamera stil genoeg te hou, die foto’s te neem, my man se nommer op te spoor en dit te stuur… En sommige foto’s het jy selfs met ’n raampie en allerhande shitties opgedollie voordat jy dit gestuur het. Dronk se gat! So as jy drank as ’n verskoning wil gebruik – sorry, daardie is ’n student se verskoning wat ’n kar gestamp het, nie die verskoning van ’n getroude volwasse vrou wat kaalfoto’s van haarself vir ’n getroude man gestuur het nie.
Wat op aarde dink jy gaan elke keer deur my man se kop as hy jou sien? Het jy al ooit daaraan gedink? Of dink jy mans vergeet net hiervan, soos jy kastig gedoen het? As jy nou weer ongemaklik en skaam voel – great stuff! Ek hoop daardie gevoel hou nog baie lank sodat jy nooit weer eers daaraan dink om nog ’n keer so iets te doen nie. En dis iets waaroor hy ook vir nog ’n hele rukkie herinner gaan word.
Quite frankly is ek siek en sat vir almal se verskonings en verduidelikings. Ons almal maak foute. En ons almal kom daaroor. Maar dié was meer as net ’n alledaagse foutjie. Dis kaalgat-foto’s met jou bene oop of jou alie in die lug wat jy vir ’n getroude man; die man wat met ’n vriendin van jou getroud is; gestuur het! En dit gaan tyd vat vir my om hieroor te kom. So gee my tyd and let me be. Sal ek jou vergewe? Ek het seker al klaar, want ek kan nie mense haat nie en ek het jou net vergewe omdat ek nie nou die krag het om wrokke ook nog te vertroetel nie. Soos jy sê – dit het “lank terug” gebeur, en my man is net so skuldig soos jy. Maar ek kan nie hom vergewe en nie vir jou nie. Ek hou nie grudges nie, maar ek is nie ’n stupid ou meisietjie wat jou ooit weer sal toelaat om so iets te doen nie.
So verstaan baie mooi: as ek ooit weer uitvind dat jy ENIGE so iets gedoen het, dan is ek nie eers bereid om meer vriendelik of ordentlik te wees met jou nie. En dan gaan jy maar vir jou man moet verduidelik waarom ek niks met jou te doen wil hê nie, want JY SAL HOM DAN VERTEL. Hy verdien om te weet waarmee hy getroud is. Flirt met my man of kyk net flirtatiously in sy rigting en ek sal julle albei op ’n mooi manier goed op julle plek sit. So eenvoudig soos dit.
Die foto’s: ek het dit van my rekenaar by die huis, die werk en my tablet afgehaal en ek dink my man het al sy kopieë ook uitgevee (maar wie weet waar steek hy dalk nog op CD’s weg). Maar die een back-up wat ek gemaak het bly vergete in my safe-kassie op kantoor. Dis veilig daar. Ek het geen begeerte of plan om weer daarna te kyk nie, maar ek gaan dit ook nooit vernietig nie.
Oor jou opmerking die naweek oor WhatsApp oor my en my man se mooi troufoto: dankie, ek weet ons is lief vir mekaar en het nie iemand nodig om dit vir my te sê nie. Ons is besig om aan ons huwelik te werk en dinge te probeer regmaak, maar dis ons private sake en ek beplan nie om dit verder met mense te bespreek wat buite ons huwelik is en waarmee dit hoegenaamd niks te doen het nie. Jy word hierby ingesluit. Of jy dit wil weet of nie, jy is ‘n buitestaander en het op die aarde niks met my en my man se huwelik te doen nie. Hoop jy verstaan dit goed!
Oor jou kind – jy het nie ’n idee hoe lief is ek vir hom nie. Hy is waarskynlik die enigste rede waarom ek nooit vir jou man sal sê van jou en my man se gemors nie. So weereens – moenie daaroor bekommerd wees nie. Plus, my beloftes maak skuld – my belofte aan my man asook my belofte aan my pleegkind.
Vriendin? Sal ons ooit weer werklik vriende kan wees? Ek weet nie. Op die oomblik is jy niks anders vir my as ’n kennis wat ek verwag om kort-kort raak te loop nie; iemand wat ek by sosiale geleenthede sal verdra. Ek gaan nie snaaks of lelik wees met jou nie. Maar die saak is nou in jou hande. Word ons weer vriende, cool. If not, dan het ek ook nie ’n issue nie. Ek sal eerder sonder vriende sit as wat ek met verneukende rugstekers in my lewe sit. Onthou net dat “jammer” die begin is. Dis wat jy van hier af doen wat vriendskap sal maak of breek.

 

Maar die wiel het gedraai. Ek is ’n nuuskierige persoon, en omdat ek na aanvaarding en aandag gesmag het, het dinge op die swing site nie altyd platonies gebly nie… Ek het baie dieselfde soort goed gedoen as wat sy gedoen het; tot baie onlangs toe nog. Dis goor as mens skielik getref word deur die feite: ek verstaan waarom sy dit gedoen het. Ek verstaan waarom dit gebeur het. Ek weet, want dis presies waar ek vir ‘n baie lang ruk was.

*Word vervolg…*

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s