Baba maak vir gogga bang

Toe ek klein was, het ek ’n verskriklike vrees vir spinnekoppe gehad. Dalk moet ek dit eerder ’n fobie noem, want dit was wraggies erg. As ek ’n spinnekop gesien het, het ek net gevries. Ek kon nie beweeg nie. Ek was te bang om te beweeg, want wat as die ding op my spring! Sou ek beweeg of weghardloop, waarheen sou die spinnekop gaan? Sou die gogga net iewers in ’n donker hoekie gaan wegkruip, sodat dit my weer verder kon terroriseer as ek weer naby is? Sou ek dalk agt harige pote oor my gesig voel loop wanneer ek slaap? Sou een dalk stadig teen my been opkruip terwyl ek vinnig daardie plekkie met die wit troon besoek wat ons almal maar af en toe moet?

Op hoërskool is ek ook dikwels gespot oor hierdie vrees. Een outjie in my klas – ’n moerse terggees wat altyd gedink het hy is tog net te oulik as hy my hare trek of my op die trappe kielie – het ook kort-kort spinnekoppoetse vir my gebak. Van plastiek spinnekop-speelgoed op my stoel in die Afrikaanse klas, tot regte spinnekoppe (hoewel met Doom verdoof) op my skooltas, tot “regte spinnekoppe” wat hy op my gooi (ek het gelukkig net twee keer vir die klippie-fop-spinnekop-tegniek geval). Hy het bewys dat dié muis wat ek is wel ’n stem het. Ek kon (kan steeds) gil. Hy het ook bewys dat ek nie altyd kleurloos en vaal is nie. Ek kon (en kan ook nog steeds baie goed) net so rooi soos ’n tamatie bloos!

Eendag besluit ek toe nou dat ek dié bangheid nie gaan toelaat om my te beheer nie. Ek het vir my ’n boek gaan koop, iets soos “Spinnekoppe van Suid-Afrika”, en alles wat daarin gestaan het plus nog ’n magdom ekstra leesstof wat ek versamel het, het ek verslind. Aanvanklik het dit baie nagmerries gekos, want ek kry mos maar drome oor die dinge wat my bang maak, maar ná ’n rukkie was ek okay. Ek het álles oor spinnekoppe geweet wat ek, toe ’n nerdy 16-jarige meisie, moontlik kon weet. Ek was ’n gretige leser en selfs ’n meer gretige leerder. Ek moes eenvoudig alles weet. Hoe spinnekoppe fisiologies aanmekaar gesit is… waar watter soorte spinnekoppe almal in Suid-Afrika voorkom… watter soorte gif ’n mens kry… wat jy doen as ’n spesifieke soort spinnekop met ’n spesifieke soort toksiesiteit jou byt… hoe om spinnekop-bytplekke te identifiseer… hoe om die spinnekoppe self te identifiseer… waar om weg te bly omdat daar waarskynlik sekere soorte giftige spinnekoppe voorkom… en hoe weet jy wanneer ’n spinnekop regtig dood is (want ek is jammer – ek kan nie op hulle trap of hulle doodslaan nie)…

Met dié het my vrees verminder. Hoe meer my kennis uitgebrei het oor die goed wat my so bang gemaak het, hoe minder bang was ek daarvoor. Ek het geweet dat dit eintlik maar net klein grillerige goedjies is. Niks anders nie. Buitendien – ek is groter en ten minste in sommige opsigte slimmer (ek weet waar die Doom gebêre word). Dit het neergekom op een feit: ék het op die ou einde die mag gehad, nie hulle nie.

Vandag vind ek spinnekoppe steeds baie interessant. Mense om my weet dit ook, en vra my gereeld uit oor “bobbejaanspinnekoppe” (wat toe al die tyd net ’n groot reënspinnekop of gewone klein wolfspinnekop was), die “verskriklike giftige romanspinnekop” wat ’n mens se skaduwee jaag (en eintlik nie eers gifkliere het nie, wat nog te sê gif). Daar het ook op een of ander stadium by my respek begin ontwikkel vir die gedroggies. Die interessantheid van skerpioenspinnekoppe (wat hulle agterpote kan ombuig om ’n klein skerpioen na te boots), die moederlike instink van wolfspinnekoppe (wat hulle kleintjies op hulle lywe dra tot hulle groot genoeg is om self te sien kom klaar), die interessante kluisenaarslewe van valdeurspinnekoppe, die pragtige blink van ’n wolfspinnekop, die skaarsheid van ’n veerpootspinnekop… Sommige wawielspinnekoppe het die mooiste lywe wat knoetserig en karbonkelrig geel en rooi met vlekke of strepe van swart en wit, of soms selfs blou en groen kleure vertoon. En wat is nou mooier as die perfekte web wat in die sonlig blink of waarteen dou of sproeierwater vasklou? Ek het respek vir hulle en ek waardeer hulle nou, maar ek is nie meer bang vir hulle nie.

Soms wonder ek hoeveel keer raak ons te angstig oor die klein goedjies. Daardie emosioneel-grillerige-agtpotige-goggas van die lewe wat ons eintlik net uitfreak omdat ons eenvoudig te min van hulle weet. Hoeveel keer laat ons toe dat vrees ons baas raak. Dis eintlik so verkeerd. Hoewel ons dinge wat met ons gebeur en selfs ons optrede daaroor moet in ag neem (en dit in ’n sekere mate ook moet respekteer en selfs waardeer), behoort vrees vir veral sulke simpelhede nooit beheer oor ons te hê nie. Die gogga moet eintlik nie die baba bang maak nie; die baba moet maak dat die gogga weghol! Ons moet beheer hê daaroor. En sou dit gebeur dat ons nie beheer het daaroor nie, dan kan ons altyd besluit om daarnatoe te werk. Die keuse is ons eie – wil ek die vrees oorwin of wil ek vir altyd bang wees? Om bang te wees, het ek ontdek, is nie lekker nie. En ek meen… dis net ’n gogga… dit is niks meer as nét ’n gogga nie. En if all else fails, is daar altyd ook Doom in die kas!

Vandag het ek besluit om van my goggas te takel. Die volgende kommapunt is in wording… Stadig en stelselmatig en versigtig. Ons almal het goggas in ons lewe. Sommige goggas is dalk erger as ander, grilleriger… maar as ek vir oulaas iets oor spinnekoppe mag sê: of dit nou ’n groot en harige reënspinnekop of ’n cute klein springspinnekoppie is – ’n spinnekop blý altyd net dit… ’n spinnekop!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s