Wie is HY? En wie is JY?

So, ek het ’n rukkie gelede nog ’n vriend op die swing site ontdek. Ons het van die begin af heerlik gesels… karre, kampvuur, reise na ver lande, selfs kerksake. Ek het aanvanklik verkeerdelik gedink dat hy ’n tweede SW is, maar ek was verkeerd en dit was onregverdig van my om hom met enigiemand wat ek ken te vergelyk. J is alles behalwe vergelykbaar met enigiemand anders wat ek ken, en ek hoop en vertrou dat hy regtig ’n vriend is en regtig ’n vriend sal bly.

Terloops… oor die site waarna ek so kort-kort verwys… Ek is geen engeltjie nie. Ek maak foute en soms is ek net so desperaat vir aanvaarding en net daardie opmerking dat ek mooi of aantreklik of sexy is; daardie gevoel van minder alleen wees; dat ek al baie goed gedoen het waaroor ek skaamkry. Meer daaroor in ’n latere blog…

Sonder om te prekerig te klink (hoewel ’n Sondagaand dalk heel gepas is vir só iets), wil ek graag net ietsie uit my verlede (en hede) deel.

My beskouing van die kerk en geloof is op die oomblik nogal skeef en krom om die minste daarvan te sê. Ek vertrou nie die kerk nie. Ek vertrou nie kerkmense nie. As gevolg hiervan, behoort ek nie op die oomblik aan enige kerkgroep nie en gaan ek baie versigtig te werk met die naam “Christen”. Nietemin glo ek steeds aan God en ek weet dat my lewe opsetlik en met ’n spesifieke doel kruis met mense. Ek glo dat alles wat met my gebeur en alles wat ek deurmaak lewenslesse is, en dat ek die keuse het om iets daarvan te maak of toe te laat dat dit iets van my maak, my afbreek of my opbou. En oor die afgelope paar dae het ek gelooflike goed gesien (want “ongelooflik” klink net verkeerd in dié konteks) wat my laat begin voel het dat God wel vir my omgee en wel nog ’n ou belofte wat ek gekry het toe ek net-net klaar gemaak het met skool tog nog sal nakom.

Strooimeisie was direk na skool in ’n Diensjaar vir Christus-span. Ek het baie dinge in daardie jaar gesien wat wonderlik is, maar ek het ook begin om die lelike sy van die sogenaamde kerk te sien. Ek was ’n aktiewe lid van die span en het letterlik alles gedoen – klavier gespeel, gesing, deelgeneem aan drama, was die grootkop van verhoogproduksie, maar ek het veral ook gedans. My passie was my dans… mimiek sowel as hoë-energie. Dit was teen die einde van die jaar wat verskillende en heeltemal onverwante mense na my toe gekom het; elkeen het gesê hulle wil net vir my iets sê nadat hulle ons produksies gesien het. Oor ’n tydperk van drie dae het sewe mense vir my presies dieselfde ding vertel, en in amper dieselfde woorde het ek gehoor dat God my eendag gaan gebruik deur my beweging; dat mense se harte sal verander daardeur. Vanmiddag het ek skielik begin wonder of daardie woorde lyflike beweging (deur dans) was, of dalk iets anders.

Soos ek gesê het, het ek en J dikwels oor kerksake gesels. Dit gebeur toe ook een aand, terwyl ons oor kinders en ouers gesels, en ek noem dat ek my pa eintlik vreeslik baie mis, dat hy die opmerking maak dat hy al gehoor het mense sê dat jou verhouding met jou pa die manier waarop jy God sien dikwels beïnvloed. Hy vra my toe hoe ek God sien, as ek Hom moet beskryf… ten spyte van my verhouding met my pa.

Effens onkant gevang, was een van die eerste dinge waaraan ek gedink het een Sondagoggend toe ek as tiener by die Sondagskool was. Ek het op skool voorgesing en klavier gespeel in die Sondagskool en jeugkerk. Hierdie spesifieke oggend, terwyl ek daar op die verhoog gestaan het, het ek hierdie “iets” ervaar. Ware pyn. Ek het na die klomp tieners wat voor my in die banke gestaan het gekyk en gesien hoe van hulle gaap… ander het nie eers geweet watter liedjie gesing word nie omdat hulle besig is om te gesels… hier en daar was ook meisies en ouens wat mekaar suutjies uitgecheck het. Gewone goed wat tieners doen. Gewone goed wat ek self ook gedoen het. No judgement from me!

Op daardie oomblik wat ek egter vir die klompie voor my gekyk het, het ek net skielik gevoel of ek ’n stukkie van God se seer kon ervaar. Klink dit vreemd? Dalk is ek nog altyd effens mallerig… Voor ek kon dink, het ek net begin om te praat voor al die mense – iets wat ek NOOIT gedoen het nie, want my noemnaam was regtig MUIS (vaal en baie stil) toe ek op skool was. In my het ek so kwaad gevoel dat ek hulle almal kon begin vloek. Sommer prontuit. In die kerk. Met die mike in my hand. Kliphard. My woorde sou nie net wees vir die mense wat nie ’n saak het met God nie, maar ook met myself, omdat ek geweet het ek is presies dieselfde. Ten spyte van dit wat in my aangegaan het, het ander woorde by my mond uitgekom as wat ek eintlik wou sê. Ek het vir hulle vertel hoe lief God hulle het. Maak nie saak wat nie.

Ek kan nie presies onthou wat ek gesê het nie… dis seker al amper twintig jaar gelede se gebeure… maar ek weet dat ek so erg begin huil het dat dit my skoon uitgeput het. Ek het teleurgesteld gevoel in myself omdat ek iets gesien het wat ek self doen. En tog was die woorde wat ek gepraat het nie gelaai met woede, frustrasie en betigting nie, maar eerder met die diepste liefde. Die trane het geloop. Ek het gesnik soos ’n baie klein kleuter; stotterend terwyl ek probeer het om klaar te praat. Die mense wat saam met my op die verhoog gestaan het, het getjank. Ons jeugleier was sommer heeltemal besnotterd. En die groep tieners voor ons was net so tranerig. Daardie dag het ons nie Sondagskoolklas gehad nie. Ons het gebid. Ons het gesing. En ek dink ons almal (of minstens baie van ons, myself ingesluit) het van voor af ons hart vir die Here gegee. Dit was ’n amazing dag. Dis een ding wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie.

So… Wat is God vir my? Hoe sien ek God?

Altyd daar. Onvoorwaardelik. Met soveel liefde dat selfs die seerste pyn dit nie sal laat weggaan nie. Ek sien God nie as ’n pa nie, want my pa het my te seer gemaak. Ek sien God as daardie EEN wat om een of ander rede (en ek weet wraggies nie hoekom nie, want ek het al soveel keer opgeneuk) my beskerm en my na Hom probeer terugbring. En ek glo nie vir een oomblik dat ek al een is waarvoor Hy so lief is nie.

En ek dink ek is besig om weer nader aan Hom te beweeg. Op ’n manier, anyway. Daar kan net soveel toevallighede gebeur en mens kan net vir so lank sekere dinge ontken. Op ’n manier begin ek wonder of ek dit maar kan glo dat God eintlik regtig vir my lief is. Of Hy regtig soveel vir my omgee dat Hy my beskerm, ten spyte van alles wat met my gebeur… Dis als goed wat ek eendag, lank gelede, geglo het. En toe tref die realiteit my en ek besluit om nie meer aan die sprokie van die kerk te glo nie…

Maar dalk is daar meer aan God as net ’n sprokie. Dalk is daar meer as net die kerk. Dalk is God eenvoudig net God, en al waarmee Hy veklaar kan word is daardie onvoorwaardelike liefde en nabyheid wat (let’s face it) ons almal na smag.

Al wat ek weet is dat ek presies kan onthou hoe ek daardie dag in die kerk gevoel het. Nie soos ’n profeet van een of ander soort nie, maar ’n sondaar. Iemand wat net so skuldig is soos al die ander. En dit is vandag nog steeds waar.

’n Engeltjie? Beslis nie. Onskuldig? So ver van die waarheid af. Ek is net ’n mens. Ek maak ook verkeerde keuses en ek maak dikwels so vreeslik droog dat ek amper daarvan oortuig is dat niks die gemors ooit weer gaan kan regmaak nie. En dis waaroor hierdie post eintlik gaan. Moet asseblief nie skrik vir van die goed wat ek in toekomstige blogs gaan deel nie. Dis nie alles pragtig en rooskleurig nie. Dis nie alles mooi en onskuldig van my kant af nie. Maar dis deel van wat met my gebeur het en dit is ’n groot deel van wat ek met dié blog wil deurwerk.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s