Die l-woord

Ek het al baie gewonder oor daardie woord. Wat dit beteken. Wat dit werklik behels. Waarom dit dikwels so seer kan maak.

Liefde.

In films hoor ons dikwels hoe twee mense te bang is om daardie woord te gebruik. Soms stamel en stotter hulle voor hulle die woord hardop kan sê. Selfs as die woord oor hulle lippe kom, is dit met moeite en dikwels amper geforseerd. Dis asof dit een of ander vorm van commitment insluit waarvoor almal bang is. Of dalk is dit net omdat hulle te bang is dat dit nie terug gesê word nie. Dalk omdat hulle bang is dat hulle afgejak word en die liefde wat hulle voel in hulle gesig teruggegooi word.

Een woord. Ses letters. Soveel betekenisse. Soveel trefkrag. Soveel mag.

Wat is liefde eintlik? Ek weet ons het seker al almal 1 Kor 13 se definisie daarvan gehoor… dit word op amper elke troue voorgelees en bepreek…

Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie,
is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë — hulle sal tot niet gaan; of tale — hulle sal ophou; of kennis — dit sal tot niet gaan.

Dit klink so mooi as ’n pastoor dit lees wanneer ’n onskuldige bruid in wit en ’n skaam bruidegom in sy spesiale klere (wat deesdae selfs ’n kortbroek kan wees) voor hom staan… Daardie dag waarop die pragtige sprokie begin…

Maar is dit hoe dit werk? Is die liefde ’n sprokie van mooi en nimmereindigende geluk, soos die Bybel dit beskryf?

Ek het gister daardie l-woord gebruik in dit wat maklik een van die moeilikste e-posse is wat ek nog in my lewe getik het. My koebaai aan SW. Die afsluit van ’n hoofstuk.

(Net vir die rekord: SW is nie my man of my lover nie! Hy is iemand wat ek op ’n swing site ontmoet het en hoewel ek aanvanklik gedink het dis my man, was dit nie hy nie. SW is ’n regte mens wat ek in die moeilikste tyd van my lewe begin sien het as ’n baie goeie vriend en nodige bystand… soms ook goeie afleiding. Ons het nooit ontmoet nie, en hoewel ek altyd sal hoop dat ons eendag weer vriende sal wees, dink ek dat ek dinge tussen ons so mooi opgeneuk het dat ons nooit weer vriende sal wees nie… Strooimeisie en haar groot mond en ongeprosesseerde, impulsiewe denke!)

Op meer as een geleentheid het SW my teen homself gewaarsku… “Jy mag nie op my verlief raak nie”, “jy kan nie jou hart op my verloor nie”, “moenie te geheg raak nie”, “ek is ’n sadis”, “ek is verslawend”… Dit klink dalk baie grootpraterig en chauvanisties, maar hy het goeie rede gehad om my te waarsku. Ek het elkeen van hierdie waarskuwings ter harte geneem en ek was versigtig. Tog glo ek dat ek hom op ’n manier leer ken het soos wat ek nie dink hy homself geken het nie.

Ten spyte van die front van ’n onskuldige maar sadistiese monster wat hy so braaf voorgehou het, het ek eendag iets in sy oë geïdentifiseer wat hy hard probeer wegsteek het. Dit was eendag wat hy my ge-video-call het. Ek het sy oë daardie dag vir die eerste keer gesien, en daar was iets sags daarin, maar ook iets teer en rou. Diep donkertes van ’n siel wat ook op ’n stadium gebreek het, en wat nog steeds stukkend is. Dit was daardie heel eerste video-call wat my belangstelling in die man regtig geprikkel het. Ja, hy is moer aantreklik, intelligent en het meer wysheid as ’n normale man van drie keer sy ouderdom; maar dit was die deel wat hy probeer wegsteek het vir almal en vir homself wat my na hom aangetrek het. Waarom, weet ek nie.

Van toe af het ek my hartsgeheime en my seerste seer, my grootste drome, die goed wat my die bangste maak, en selfs my wildste fantasieë met hom begin deel. Hier en daar het hy ook oopgemaak. Of begin om te deel. Maar net klein stukkies. Ek wens ek kon meer hoor oor hom en sy lewe… Ek wens ek kon hom wys dat daar heelword is in erkenning. Ek wens hy wou my toelaat om die krake van sy pragtige hart en sy siel te sien en ook vir hom te sê dat hy nie alleen is nie…

Ons het close geword en ek het regtig baie lief begin word vir hom. Nooit as die man waarmee ek eendag ’n verhouding sal wil aanknoop nie of saam met wie ek eendag sal wil opeindig nie (hoewel daardie gedagte meer as een keer deur my kop gedryf het; hierdie blog is my plek van eerlikheid en erkenning), maar eerder as die persoon wat ek bittergraag dieper sal wil leer ken. As ’n ware vriend wat my nie veroordeel nie, my aanmoedig om te voel soos wat ek voel en erkenning daaraan te gee… Hy was een van die eerste mense wat my laat besef het dat ek ook tel, dat ek ook belangrik is, dat ek maar mag voel wat ek voel. Dit was bevrydend vir my. My een groot begeerte was en is steeds om vir hom te doen en te beteken wat hy vir my gedoen en beteken het.

Ek wil dit baie duidelik stel: ek het lief begin word vir dié man. Nie verlief geraak op hom nie.

Sien, liefde is seker op ’n manier presies dit wat die Bybel ons vertel. In ’n neutedop is ware liefde onvoorwaardelik… dit maak nie saak of die ander persoon jou liefde terug antwoord nie en dit maak nie saak of daardie persoon net uit jou lewe verdwyn nie. Liefde is iets wat ek op ’n manier graag sou wou keer, maar ek kon nie. Dis meer as net ’n emosie. Dis iets wat mens kan besluit in sommige situasies, maar in ander gebeur dit onbewustelik en onwillekeurig… soos om asem te haal.

Verliefdheid is in my oë weer net ’n emosie… ’n samevoeging van al ’n mens se simpelhormone (een woord… ek beskou “simpelhormone” as ’n enkele konsep; daardie goed wat deur jou liggaam pomp en jou so wacky kan maak met tye). Dis iets wat weggaan met tyd en vinnig weer genees as dit op een of ander manier jou hart kwes. Dis iets wat verplaas kan word op iemand anders sonder te veel moeite.

Liefde? Dis blywend. En dit maak verskriklik seer met tye; soos wanneer ’n mens gedwing word om koebaai te sê, maar in jou hart weet dat jy dit nie wil of kan doen nie.

Liefde is wat ek voel vir SW, dis wat ek voel vir J, dis wat ek voel vir baie mense. Dis ook wat ek voel vir my man.

Ek wonder dikwels waarom ek steeds in my huwelik is en waarom ek vashou aan mense wat niks vir my voel nie. Ek neem aan die antwoord lê iewers in hierdie ses lettertjies opgesluit.

Ek sal altyd hoop dat daardie liefde op een of ander manier altyd beantwoord sal word, maar verwag dit nie. Solank as wat ek asem haal en my hart klop, sal hierdie liefde onvoorwaardelik beskikbaar wees.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s