Moeggeploeg

Die langnaweek is pas verby, maar dit voel of ek ’n hele vakansie nodig het. Ek voel moeg, uitgeput en lus om net vir ’n ruk lank breinloos te verkeer ná ’n baie lang dag by die werk.

Vandat ek oor H begin skryf het en oor daardie dag wat ek na die kliniek toe gegaan het, sukkel ek om te slaap. Dis nou al amper twee weke… Ek sukkel nie net om te slaap nie; ek kry ook nagmerries oor haar en oor toetsuitslae wat nie so goed is soos wat dit werklik was nie. En die ergste van alles is dat ek nagmerries begin kry oor myself, waar ek in die spieël kyk en H daar sien wat slonserig en sweterig in haar swart krimpelienrokkie, puisie-voorkop en uithang-boobs terug reflekteer…

Een aand het my man my wakker probeer skud, omdat ek sy naam ’n paar keer histeries uitgeroep het. Ek het nie wakker geword nie, maar glo daarna in my semi-slaap gehuil en gesnik. Toe hy my die volgende dag daarvan vertel, het ek geweet wat ek gedroom het. Kan ek ’n groter vrees as dit hê? Om soos sy te word?

Jammer as dit vreeslik neerhalend klink. En jammer as ek dalk reeds op daardie pad na Hoermeisie is op een of ander manier. Maar kan enigiemand my blameer dat hierdie vrou nie op my lysie vir kersgeskenke is nie? Vergewe en vergeet… ek weet. En eendag sal ek hopelik daar kan kom, want ek wil dit kan doen. Maar op die oomblik kan ek nie, al wil ek ook hoe graag. Ek het probeer, maar ek is nie ’n hypocrite wat een ding sê en iets anders doen nie… ek kry haar nie vergewe nie. Seker hoofsaaklik omdat sy smalend en tartend vir my gesê het wat sy van my dink en dat sy dit weer en weer en weer sal doen, al weet sy ook dat hy met my getroud is… met hom en met ander mans. Daardie opmerking het my geruk en dit haunt my.

Op die oomblik kan ek nie met my man hieroor praat nie; die nagmerries, die gedagtes aan alles wat oor en oor in my kop rondspoel… Hy weet nie van my blog nie en hy raak kwaad as hy agterkom ek herkou nog aan dinge wat gebeur het. Dis nie altyd baie eenvoudig of maklik in my twee skoene nie… veral nie op dae soos vandag, wat ek net wens iemand kon my styf vashou en net vir ’n rukkie so saam met my sou sit nie. Geen woorde of emosionele kapasiteit sou hiervoor nodig word nie. Ek is groot en lelik genoeg om my eie laste te dra en my eie dinge uit te werk en te hanteer. Dit vat net tyd, en ek is soms maar stadig.

Al wat ek wens ek het, is iemand wat weet hoe dit voel. Iemand wat my kan wys hoe ’n mens lyk as jy eendag aan die ander kant uitkom… Iemand wat my net op ’n manier kan wys waarheen ek kan werk, want op die oomblik voel ek amper nes ’n draaikewer wat mal sirkels op die water maak en nie verder kom as wat ek is nie.

As vandag my verjaardag was en ek kon kersies op ’n koek doodblaas, sou ek hiervoor wens:
Iemand om net mee te gesels. Iemand wat alles weet en alles ken en vir wie ek niks hoef weg te steek nie. Iemand vir wie ek nie skaam hoef te wees nie. Iemand wat my siel kan sien en, ten spyte daarvan, nie weghol nie. Iemand wat net vir ’n rukkie net by my sal wees. Om stil te sit en niks te doen nie, om te skerts oor sinnelose dinge, om saam te gesels oor diep filosofiese sake… om hoegenaamd niks te praat oor my probleme nie. Net oor goed. Net ’n klein bietjie saamwees. Net ’n bietjie minder alleenwees.

Ek mis dit.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s