Wat het van daai muffins geword, huh?

Strooimeisie is iemand wat geneig is om alles te oordink. Elke dingetjie en elke fynste, kleinste detail. Alles. Oor en oor en oor. Hoekom weet ek nie, maar dis iets wat ek van kleintyd af al doen. Ek irriteer myself grensloos hiermee en ek wens ek kan myself sover kry om die gewoonte af te leer, maar dit het nou al so deel van my geword dat ek dit nie eers meer agterkom nie. Dit gebeur outomaties. Meer as net een keer het ek myself al gevra: “Waar is die flippen af-knoppie?” Maar in net duskant 35 jaar het ek dié ding nog nooit gekry nie. Dit gebeur toe só dat ek met iemand begin gesels wat besef het dat ek hierdie storie met ’n ding-sonder-’n-af-knoppie het. Hmmm… hoe het ons nou weer daarby uitgekom? Ha! Ancient history.

In elk geval…

Dié vriend het eendag die grappie gemaak en gevra of ek al ooit dagga oorweeg het. Die enigste vorm waarin ek ooit so iets sou oorweeg, was in die vorm van ’n muffin. Ek rook nie. Ek kon nog nooit nie. Then again, ek het ook nog nooit probeer nie. Maar ek het geen begeerte om eers twee keer daaroor te dink nie. Vandaar die grappies: “jy het alweer jou daaglikse joint-dosis vergeet”, “jy kort alweer ’n zol“, en (my gunsteling) “wat het van daai muffins geword, huh”?

Moenie worry nie – ek het nooit ’n joint gerook of space cakes of enigiets van die aard geëet nie. Wel… nog nie!

Ek wens net ek kán die af-knoppie kry. Met of sonder muffins.

Vir ’n rukkie het ek gedink dat ek dit gekry het, deur met mense te gesels. Deur dinge te skryf in chats en oor alles en nog wat te gesels het ek dit reggekry om my kop skoon te maak. Dit het my gehelp om ten minste die ratte wat nie wil ophou draai nie op ’n manier skoon te hou. Goeie afleiding… jislaaik, ek mis die afleiding soms so verskriklik baie!

Nog ’n in elk geval…

Hoe vind mens daardie af-knoppie? Ek het dit gekry met intelligente geselskap. En toe verdwyn die geselskap. En toe ontdek ek nuwe geselskap. (Wie sou ooit kon dink dat karre en kampvuurstories, of verhale van ver plekke so boeiend kan wees!) En toe verdwyn die geselskap weer. Dis nie ’n oplossing nie. Duidelik nie. Ek besef dit. Maar wat is?

Dalk lê die antwoord iewers in die gedruis van die see en die vars lug van die natuur op my gesig. Dalk lê dit in die sproei van ’n waterval in die middel van ’n koel reënwoud. Dalk in ’n soen. Dalk in die opregtheid van ’n stywe drukkie van ’n werklike vriend. Dalk in die absolute stilte van alleenheid. In die onwerklikheid van ’n sprokie. Of dalk bestaan dit net nie. Dis dalk regtig net ’n mite.

Weereens: in elk geval…

Ek wens ek kon net vir ’n oomblik ophou om alles te oordink. Ek wens ek kon net vir ’n oomblik ophou wonder hoe ek dinge nié verder sal opmors nie, hoe ek alles vir almal kan fix, hoe ek dinge vir mense kan beter maak…Ek wens ek kon net vir ’n rukkie stil wees, nie alleen wees nie, saam met iemand wat my aanvaar en nie omgee dat ek is wie ek is nie. Dalk… dálk lê die af-knoppie in daardie absolute en onvoorwaardelike aanvaarding waarna almal van ons eintlik smag. Maar waar vind ek dít?

Die laaste in elk geval…

Muffin?

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s