Kommapunt 3: Die vreeslikste dag van my lewe

*Nee, hierdie is nie meer net soos ’n fiktiewe storie van ’n gesiglose meisie in ’n vreemde wêreld nie. Kommapunt 3 is meer eg en die dinge wat ek hier skryf voel nog meer rou as enige van die vorige kommapunte. Ek kon dit nie in die derde persoon skryf nie; ek weet nie hoekom nie.*

Ek het gedink dat die goorste dag van my lewe die dag was wat ek ’n klomp kaal foto’s van mense wat ek vriendinne genoem het op my man se rekenaar gesien het. En ja – op ’n manier was dié beslis een van die goorste dae van my lewe. Dit was immers die dag wat ek so naby daaraan gekom het om my eie lewe met ’n glas vol aangemaakte kriekgif en slaappille te eindig. Maar dit was nie die goorste dag van my lewe nie.

Soos wat die tyd aangestap het, het ek op meer inligting afgekom. Ek het met meisie na meisie na meisie gepraat. Elkeen het my vertel dat niks meer as net die uitruil van foto’s en baie sexy chats tussen hulle en my man gebeur het nie. Dit het my nie gepla nie. Ek het gemaklik geraak. Ek het vrede daarmee gemaak dat hy opwinding gesoek het en ek het selfs die meisies vergewe. En toe begin ek gesels met die vrou wat my tot vandag toe siek maak. Kom ons noem haar hier H, kort vir hoer…

Ek het, soos met die res, voorgegee dat ek my man is. Ek het haar van ’n vreemde nommer af gekontak en ek het met haar gesels asof ek hy was. Die flooze het gebyt, en ná ’n baie kort gesprek het die realiteit stadig tot my begin deurdring. Dié was die skoolmeisie waarmee hy as skoolseun sy maagdelikheid verloor het. Ek het dit vermoed, want hy het foto’s van haar waar sy in niks minder nie as haar skoolsokkies staan; sy eie skooluniform wat agter haar oor ’n hanger hang. Sy kamer in sy ouers se huis… ek vermoed hulle was toe albei in standerd 9. Sy was iemand wat hom op verskeie vlakke geken het. Sy was ook iemand wat hy vyf jaar gelede in ’n winkel raakgeloop het, wie se nommer hy geneem het, wie hy kort daarna weer gekontak het, by wie hy gaan inloer het, by wie hy gaan kuier het… met wie hy vir vyf jaar lank aan en af ’n verhouding gehad het. Dit was alles behalwe platonies. Hy. Sy. Ons kamerasak op haar bed. Sy ou selfoon. Die foto’s op sy rekenaar. Sy dick in haar mond. En uit die gesprekke met haar kon ek aflei dat dit nie net in haar mond was nie. Sy het glo nie geweet dat ek en hy reeds twee jaar voor hulle herontmoeting reeds getroud is, en steeds getroud is nie.

Sy was goedkoop. Ek het baie gesoek, maar kon nie eers op haar FaceBook-bladsy een enkele foto van haar kry waar sy nie vet, sweterig en vuil lyk nie. Die kamer waarin hy meer as een fotosessie met haar gehad het was deurmekaar en vuil. Daar was merke op die mat en duvet, ’n mengelmoes van (waarskynlik vuil) laundry, leë Simba-chips sakke en babaprodukte, room, sigaretpakkies, haar klere, haar man se klere… my man se klere… Van al die meisies op die foto’s was sy die heel laaste persoon op aarde waarmee ek gedink het hy ’n verhouding sal hê. Dit het diep getref, hoewel daardie sagte kussing van denial so gemaklik was vir my dat ek nie daarvan wou afklim en op die koue teëls van realiteit wou staan nie.

Hoeveel heer het dit gebeur, het ek myself bly vra. Hoekom? En kon hy nie maar net iemand kies wat slimmer as ek is, mooier… maerder… meer suksesvol… minder afhanklik… meer “iets”… Maar dit was sy. H. Die goedkoop vrou wat drie kinders by drie verskillende mans het en nie skaam is om vir haar huidige knypie te vertel dat sy nog iemand anders ook op die kantlyn het nie; dat hy ook getroud is en dat sy ook nie haar kloue van hom af kan hou nie…

Ek het eendag, as hy, vir haar in ’n boodskap gevra of sy besef dat “ek” getroud is. Sy het erken dat sy intussen so iets uitgevind het. In die proses het sy my beskryf as die vaal en eentonige, oorgewig en irriterende bleeksiel wat ek nog altyd vermoed het ek is. Sy (van alle mense) het my as onnosel beskou… en sy was reg. Want, soos sy verduidelik het, hoe is dit moontlik dat ’n man sy vrou al vir vyf jaar lank verneuk en sy dit glad nie agterkom nie. Die dom hoer het my gesien vir presies wie en wat ek is. On… onmooi, ongelukkig, onvolmaak, onnosel, onvrou.

Ek is nie seker wat my op die ou einde oortuig het om die afspraak te maak by die kliniek nie. Die punt is, ek het. Dit sou die heel eerste keer ooit wees dat ek vir so ’n ondersoek gaan en dat ek vir hierdie rede bloed laat trek. Ek het nie ’n idee gehad wat ek moes verwag nie en ek was eenvoudig te skrikkerig om dit te google.

Dit was niks anders as ’n normale dag nie. Ek het gaan werk en ’n rukkie vroeër as gewoonlik met ete gegaan. Niemand het vrae gevra nie en niemand sou ook weet dat ek na ’n kliniek sou gaan nie. “Gesinsbeplanningskliniek”… hoe ironies!

Ek het omtrent 15 minute voor my afspraak daar aangekom en eers ’n rukkie in die kar gesit. Dis toe wat alles begin insink het.

Ek was alleen. Dit was net ek en my eie asemhaling in die kar. En my hart wat al harder en vinniger begin klop het. En die WhatsApps van twee baie naby vriende wat my kort-kort moed ingepraat het om nie om te draai nie. Die een het probeer bel, maar ek het nie geantwoord nie. Nietemin het daardie oproep soveel vir my beteken. Ek het uit die kar geklim en met elke greintjie moed wat ek kon vind na die spreekkamer geloop, waar ek aangesê is om te wag. Die vrou se kind het siek geword en sy moes hom eers gou dokter toe vat… Perfek!

Die eerste pamflet wat ek opgetel het, was oor die gevare van onbeskermde seks. Murphy het nog nooit van my gehou nie en op daardie dag was hy ook alles behalwe gaaf en sag. Ek het die pamflet deurgelees. Elke siekte. Elke simptoom. Elke diagnose. Toe die vraag, wat ek al eintlik vir so lank in my agterkop weggestoot het, weer by my opkom het trane my oë begin brand en op die pamflet begin drup:
“Wat as ’n ontrou man nie die ergste ding is wat met my kon gebeur nie?”

Die suster het uiteindelik – meer as ’n halfuur na ons geskeduleerde afspraak, maar net betyds vir my om myself in toom te kry – daar aangekom. Sy kon my dadelik sien.

In die gesellige spreekkamertjie het sy met my gesels. Vrae gevra oor my, my mediese geskiedenis, my leefstyl, my sekslewe… Ek het gevoel soos ’n standerd sessie wat vir die eerste keer in haar lewe seksvoorligting kry by ’n Biologie-meneer en ek kon voel hoe ’n dieper as diep rooi van my nek tot op my voorkop sprei. Die volgende vraag op die lysie het verband gehou met my man… My stem wou nie meer nie. My hande het begin ruk en ek het trane aan die agterkant van my toe ooglede voel saamdrom, gereed om ’n wedloop teen my wang af te hardloop…

“Hy het my verneuk.” My stem was amper onhoorbaar, maar sy het my nie gevra om dit te herhaal nie.

“Dis waarom jy eintlik hier is?” Sy het geweet wat die antwoord was, lank voor sy die vraag gevra het. Dit was duidelik. Die vraag was eintlik maar net om my te help om die realiteit te besef. “En dit het onlangs gebeur?”

“Ek het amper ’n maand gelede uitgevind. Ek het eers gedink dit was net flings oor die foon en e-pos, maar hy hét seks gehad met iemand anders en ek dink sy werk dalk regtig as ’n hoer of iets. Ek het met haar gepraat. Sy slaap saam met baie mans. Gereeld. Hy weet nog nie dat ek weet nie.”

Ek weet nie waarom ek dit alles vir dié vreemde vrou gesê het nie. Ek weet nie of sy nodig gehad het om alles te weet nie, maar soos wat die woorde uitgekom het, het ’n skaamte oor my gekom soos wat ek nog nooit in my lewe ervaar het nie. Dit het my getref soos wat dit my nog nooit voorheen getref het nie:

My man. Het my. Verneuk. Met ’n ander vrou. Hy het. My. Verneuk. Ek was nie. Goed genoeg nie. Ek was nie. Genoeg nie. Ek kon hom nie. Bevredig nie. Ek kon hom nie. Gelukkig maak nie. Hy het. Meer nodig gehad. Meer as ek. Want ek. Was net nie genoeg nie. Vir my. Was hy nie. Lief genoeg nie. Ek. Was ’n mislukking.

EK het ophou huil. Ek het die snesie wat sy my gegee het gevat en my gesig afgevee. En skielik het ’n lamheid oor my gekom. Daardie gevoel wat mens kry wanneer jy uit narkose wakker word… nog nie wakker nie, maar nie meer aan die slaap nie… daardie rukkie wat mens dikwels hallusineer en baie vreemde dinge kwytraak.

Sy het verder met my gepraat en elke stappie van die ondersoek verduidelik, elke dingetjie waarvoor hulle in die bloedtoetse sou kyk genoem… Ek het nie veel gehoor nie. Al wat vasgesteek het, is dat ek die uitslae van die toetse oor 48 uur behoort te kry. Sy sal vir my ’n sms stuur of laat weet ek moet inkom as daar enige fout is. Ek het dadelik in die stilligheid begin bid vir ’n sms.

Toe alles verby is, het ek weer in my kar geklim en gery. Toe ek by die rivier gestop het, waar ek voorheen al soveel keer gestop het vir asem, het ek onbeheersd begin huil. My beste vriend; die een persoon wat ek met my lewe bemin en met my hart, siel en liggaam liefhet; het my in lewensgevaar geplaas. Ek was op daardie oomblik so verward. So onseker. So verskriklik bang. En so ontsaglik alleen. Dít was die goorste oomblik van my lewe. En ek het hom gehaat daarvoor.

48 uur later het ek gehoor dat alles skoon is. Maar dit het nie my gemoed verander nie. As die realiteit eers inskop, dan maak dit behoorlik seer. Dit het gevoel asof die klein stukkies in my wat reeds so stukkend was, selfs nog meer flenters gebreek het. Dié was my rock bottom.

*Word vervolg…*

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s