Skryf, praat en krukke

’n Goeie vriend van my het eendag, lank gelede, vir my ’n brief gestuur om te proeflees. Dit was bedoel vir sy pa op dié se sestigste (as ek nou reg kan onthou) verjaardag, en ek kan in alle eerlikheid sê dat ek lanklaas iets so mooi en opreg gelees het. Heart-felt om die minste te sê.

Voordat hy die brief vir my gestuur het, het hy genoem hoeveel hy sukkel… asof hy nie weet wat of hoe om te sê wat hy wil sê nie. Op daardie stadium was my eenvoudige en maklike oplossing net: skryf uit jou hart uit. Skryf asof jy besig is om met jou pa te gesels… die brief is immers vir hom bedoel. Ek besef nou eers hoe stupid my raad eintlik was en dat ek nie ’n clue gehad het waarvan ek praat nie!

Skryf en praat is so ver verwyderd van mekaar, dis soos die toppunt van die hemel en die bodem van die donkerste dieptes van die see. Praat kan ongeprosesseerd gebeur. Woorde kan in jou kop vorm en dit kan, sonder filters, by jou mond uitstroom… soms is dit ’n goeie ding, maar in my geval is dit gewoonlik nié. Ek ervaar maar net te veel daardie “het ek dit nou hardop gesê”-oomblik wat almal so haat. Skryf, aan die ander kant, kan nie regtig anders as om gefiltreer en verfyn te word op een of ander manier nie. Gedagtes vorm in jou kop, jou vingers sit dit op een of ander manier op papier, en jy word dan gedwing om te lees… te kyk… te sien… te dink. Omdat jou leser nie onmiddellik sien wat in jou kop aangaan nie, het jy kans om dit wat jy geskryf het aan te pas, te verander, goed by te voeg, sekere dinge maar eerder weg te laat… Vir my is dit presies hier waar die moeilikheid soms inkom.

Ek is besig met Kommapunt (3). Wees gewaarsku, want daar kom nog ’n hengse lot leestekens! Die probleem is dat ek dit op die oomblik verskriklik moeilik vind om hieroor te skryf. Ek het vroeër baie oor die dinge wat ek deurgemaak het gedink, en selfs met een of twee mense daaroor gesels (en ook net omdat ek op ’n punt regtig gedink het dat ek in die groendakkies sal opeindig). Om oor dié goed te dink of te praat was vir my baie minder moeilik as om daaroor te skryf. Dis asof ek nie met die praat-weergawe daarvan nodig gehad het om te veel daaroor te dink nie; asof ek die gedagtes net kon laat vloei wanneer die ratte in my kop draai of die woorde net kon laat uitstroom wanneer my mond oop gaan.
Maar nou, met die skryf-weergawe? Nou tik ek ’n stukkie, dan lees ek dit, en dan kan ek nie anders as om dieper te dink nie. Dit gaan nie meer net oor wat gebeur het in my verhaal nie; vir die eerste keer ooit forseer ek myself om te reflekteer oor wat gebeur het, terug te staan asof dit ’n storie of ’n vertelling uit iemand anders se lewe is, en nie net daarOOR te dink nie, maar ook myself te vra hoe ek daarIN voel; wat dit vir my beteken, en wat ek nou (ná maande) daarvan maak. Dis hectic. Dis blêrrie moeilik. En soms voel dit net te rou om hier of op enige ander plek daarvan te laat gaan.

Tog wil ek laat gaan. Ek wil aangaan met my lewe, en hoewel ek nooit kan ontken wat alles met my gebeur het nie, wil ek dit nie toelaat dat dit my potjie nie. Dit het amper.

SW het eendag, toe ek amper iets verskrikliks aangevang het waaroor ek myself nooit sou vergewe nie, vir my genoem dat ek moet ophou gryp na krukke. Op daardie stadium het hy bedoel dat ek nie onverantwoordelik moet optree in my seer nie; nie my pyn en rouheid moet smoor met iets anders nie. Dit het my netnou, toe ek so sukkel om te skryf aan die nuwe Kommapunt, getref dat my storie dalk op ’n manier ook vir my ’n kruk geword het; iets waaraan ek vasklou en waarheen ek oor en oor en oor terugkeer as ek voel ek is nie sterk genoeg nie. Ek dink ek moet versigtig wees vir hierdie spesifieke kruk. Ek wil nooit hê dat dit my moet begin definieer nie. Ek wil dit eerder begin definieer as die deurslaggewende gebeurtenis in my lewe wat my sterk, selfstandig en as stukkende mens op ’n manier weer heel gemaak het.

So, my besluit vandag (en dis nogal ’n grote, al klink dit dalk vir baie mense soos ’n simpel en voor die hand liggende een):
Ek sal my storie skryf, en dit aanhou skryf, omdat dit my toelaat om in die stilte te reflekteer en dinge te herleef en die seer op my eie tyd te prosesseer, en omdat dit my toelaat of dalk selfs in staat stel om te laat gaan.
Ek sal praat oor dié goed met wie ook al vrae wil vra; mans sowel as vroue; wat nodig het om te hoor en wat in min of meer dieselfde bootjie is as wat ek was of is. Ek weet hoe dit is om alleen te voel en ek gun dit vir niemand nie, en ek is bereid om die “iemand om mee te gesels” te wees vir mense wat so iemand nodig het.
My blog en my storie is op ’n manier seker ’n kruk. Dis iets waarop ek kan leuen terwyl my bene my nog nie heeltemal kan of wil dra nie. Maar vir geen oomblik wil ek toelaat dat enige hiervan ’n prostese word, wat die bene waarop ek reeds staan, vervang nie. Want dít is ongesond as jou kruk so volkome deel word van jou, en wanneer jy toelaat dat dit aan jou lewe en aan jouself (fisies, emosioneel of hoe ook al) laat vasgroei. Dít is iets wat ek nie wil toelaat nie, en ek glo dis iets waarteen almal moet waak.

(SW, ek dink jy sou trots wees op my… of ek hoop so! Sien jy nou? Hier word ek toe nou ook stelselmatig darem ’n bietjie wyser as wat ek gister was.)

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s