Kommapunt 2: ’n Doellose gejaag na wind

Vir omtrent ’n maand lank het sy met ’n onbeskryflike worsteling en seer in haar rondgeloop. Dit was al moeiliker vir haar gewees om te werk, want haar gedagtes het bly terugkeer na foto’s wat sy nooit wou sien nie. Na moontlikhede van wat alles daar kon gebeur het. Elke nou en dan het sy haarself betrap waar sy selfs by die werk na die foto’s gekyk het… netjies gesorteer op ’n eksterne hardeskyf… gerangskik volgens vrou, dan datum… en in elke vouer ’n ekstra dokument met die spesifieke vrou se kontakbesonderhede. Sy is goed met speurwerk. Sy was nog altyd. Sy het al die vroue wie se foto’s sy van haar man se rekenaar afgelaai het se name, kontaknommers, Facebook-bladsye, huisadresse… Hulle het haar nie verniet op skool Nancy Drew genoem nie. Daar was nog altyd vir haar iets in die uitdaging om te kan weet; iets in die hoop om haarself te bewys as iemand wat slim is. Maar hierdie inligting wat sy nou voor haar het is iets wat sy nooit in haar lewe wou hê nie. En wat nou? Sy het alles ontbloot en elke pynlike foto van elke vrou – hoe kaal en banaal geposeer ook al – in die fynste detail opgeswot en dit in haar geheue ingegraveer. Sommige vroue was perfek (daar was immers ook een swart model met ’n perfekte lyfie… hoewel sy ’n minder as perfekte glimlag het), maar sy het geweet hulle persoonlikhede was nie so perfek nie. Wie sal immers sulke eksplisiete foto’s vir ’n wildvreemde man stuur as hulle nie uiters desperaat is nie? Sommige van die meisies was so maer dat hulle ribbes en heupbene gewys het soos wat ’n mens waarskynlik net by brandsiek koeie sal kry. Shame, het sy gedink, en gewonder of hulle dit vir geld gedoen het om kos te kan bekostig. Ander was minstens dubbeld haar grootte; groot hangtieties met strekmerke, blobberige nipples wat nie eers vir die grootste opwinding sal reageer nie, en puisies op hulle gesigte en rûe. Sy het geweet sy lyk beter as dié en het meer sukses bereik in haar lewe as die oorgroot meerderheid van die meisies wat sy op die foto’s herken, maar dit het haar nie beter laat voel nie. Het dit beteken dat haar man eintlik ’n meisie gesoek het wat desperaat en afhanklik is? Want sover sy kon agterkom is dit die enigste twee eienskappe wat al dié vroue in gemeen gehad het… desperate damsels in distress. Iets wat sy haarself al as jong meisie belowe het, sy nooit in haar lewe sal wees nie.

Sy het meer as net een keer gewonder watter effek dit op die meisies se eie lewens sou hê as die foto’s ’n weg na hulle man vind. Die meeste van die vroue was in gevestigde huwelike. Almanakke op die foto’s self en die datumstempel op die foto se elektroniese voetspoor het bewys dat hulle reeds getroud was toe die foto’s gestuur is.

Sy het ook verskeie kere oorweeg om die foto’s onder die meisies se werklike naam en met hulle werklike kontaknommer op ’n escourt site te gaan publiseer. Dan sou hulle mos presies die aandag kon kry wat hulle wou hê!

Sy het soveel mag in haar hande gehad; genoeg om hulle te breek soos wat hulle haar gebreek het. Genoeg om hulle lewens een vir een te verwoes en hulle die bitter smaak van haar eie seer en ongeluk te laat proe. Het hulle gedink hy sou die foto’s uitvee? Seker. Dan kan hulle voel hoe dit voel om verkul te word. Sou baie van hulle dit van haar verwag? Nee. Glad nie. Sy is ’n goeie mens; iemand wat altyd terugstaan en help en onvoorwaardelik liefde en vriendskap gee. Hulle sou so iets allermins van haar verwag – net soos wat sy dit nie van hulle verwag het nie. Soveel mag, maar nie ’n idee wat om daarmee te doen of hoe om dit te gebruik nie. Soveel mag, maar ook so onbeskryflik magteloos. Vir vier weke lank het sy haar wraak beplan. Haarfyn. Perfek. En tog so maklik uitvoerbaar. Amper te maklik!

Verbitterd het sy vir ’n paar, wat sy geweet het nou nie veel tussen die ore het nie, WhatsApp-boodskappe gestuur van ’n nuwe nommer; een wat haar man nie sou ken nie. Sy het die foto wat hy op sy werklike kontaknommer het afgelaai en as die profielfoto vir hierdie nommer gebruik. Dit was nie juis vir haar moeilik om net soos hy te klink in die boodskappe nie. Gebruik net hopeloos te veel leestekens en ’n smiley om elke hoek en draai, voeg een of twee spelfoute in, al gaan dit teen jou grein in, het sy konstant vir haarself gesê. ’n Eenvoudige boodskap het al die goudvisse laat byt:
“Hey!!!! 😉 Wat maak jy?? Dis my nuwe nommer….. vee asseblief die ou een uit……. ander mense sien die boodskappe daarop nou ook!!!! So wanneer doen ons biekie koffie weer????? 🙂 Wanneer het jy weer tyd?????? :-)”
Sy het verder ook verduidelik dat sy “ou nommer” nou as besigheidsfoon gebruik word en dat hulle hom asseblief nie daarop moet kontak nie; dat hulle slegs na hierdie nommer WhatsApps moet stuur, omrede hy die foon van tyd tot tyd afskakel en net sal antwoord sodra hy kan.

Dit het gewerk. Binne ’n kwessie van ’n paar dae het sy al die leegkoppies se inligting gehad. Sy het geweet wanneer haar man laas met hulle kontak gehad het, wat hulle saam gedoen het, waarvan hy gehou het… elke vieslike en fynste stukkie detail.

Toe een van haar skoolvriendinne, wie se foto’s ook tussen die klomp was, vir haar op hierdie nommer wat nie werklik bestaan nie kontak en vra of hulle ’n koffie date by dié se huis kon reël het sy haar kans met albei hande aangegryp. Dit sou oor slegs ’n halfuur gewees het. Sy het vinnig planne by die werk gemaak, seker gemaak dat haar voice recorder op haar foon werk en dat haar foon heeltemal gelaai is en by die badkamer ’n draai gemaak om haar haarself in die spieël te kyk, die rooi aan haar lippe en die swart om haar oë reg te maak, en hardop vir haarself te sê: “Haal net asem. Onthou net om asem te haal. Dis eintlik al wat belangrik is.” Sy het presies geweet waar haar ou skoolvriendin en dié se man, met hulle twee klein kindertjies gebly het. Daar gekom, was die hek reeds oop en die voordeur het ook uitnodigend oop gestaan. Sy het met spoed ingery en met ’n onderstebo maag, bewerige bene en ’n kop wat draai na die voordeur gestap. Deurmekaar van al die emosies, maar doelgerig en beslis. Die uitdrukking op die vrou in die huis se gesig was elke onsekere gevoel en elke stukkie van haar beplanning werd.

“Hallo, liewe vriendin! Hoe gaan dit nog met jou?” het sy stroperig-vriendelik gesê, hoewel sy met haar gedagtes die vrou voor haar koelbloedig doodgesteek en sommer vermink het ook.
“Hi?! Dis ’n verrassing!” het die vriendin oorbluf geantwoord, waarna sy eers bloedrooi gebloos en net daarna spierwit geword het. 50 shades of embarrased.

Sy het gemaak-gemaklik nader gestap na waar die nou vreemde vrou op die bank in die sitkamer gesit het en langs die rusbank gaan staan. “Sal jy omgee as ek sit?”
“Nee… sit gerus! Ek wil net gou my man gaan kontak en hoor waar hy is. Koffie?” Sy het opgestaan en uit die vertrek geloop nog voor sy ’n antwoord gekry het. Die ketel het begin kook net toe die boodskap deurgekom het: “Jou vrou is nou hier by my…… WTF???” Met ’n baie breë glimlag het sy teruggesit op die bank en net gewag tot haar kastige vriendin teruggekom het in die vertrek in.
“Jy het mý nie hier verwag nie, né?”
“N-nie regtig nie.” Die vrou kon haar nie in die oë kyk nie.
“Wie het jy verwag?”
“Net ’n ou vriend…” Haar stem het halfpad deur die kort sin sommer net begin wegraak en dit het gelyk asof die vrou enige oomblik in trane gaan uitbars.

Net toe het ’n pragtige jong kind die vertrek ingestrompel gekom. Asof iets haar hart stadig al harder druk, en ’n knop in haar keel begin vorm het, het sy skielik geweet sy kan nie die vrou so verneder soos wat sy wou nie. Iets het haar gekeer. Dalk was dit net jammerte, dalk was dit iets dieper, dalk was dit iets wat in daardie oomblik tot haar deurgedring het… Ek is beter as dit!

Sy het gewag totdat die kind vir weer in haar kamer was, nadat die tweede boodskap (“?????”) deurgekom het op die spaarfoon, tot na haar vriendin weer voor haar gesit het en sy geweet het sy sou kon praat sonder om self histeries kwaad te raak en van pure woede en frustrasie in trane uit te bars.
“Jy het nie ’n idee hoe gelukkig jy is nie, weet jy dit?” Haar oë was rooi soos wat sy probeer het om die trane terug te hou.
“Ek is jammer?” Heeltemal uit die veld geslaan en met ’n dowwe uitdrukking oor haar gesig het twee pragtige blou oë in hare terug gestaar. Ag, Here… help my om nie die gemors te maak nie… asseblief! Wees in my woorde en lei my tog net om die regte goed te sê, want ek weet nie wat ek doen nie. Wat ek beplan het om te doen; om dié vrou se lewe te verwoes; is verkeerd. Ek kan nie. Ek sal myself en alles waarvoor ek nog altyd gestaan het ook breek en verwoes.
“Jy het ’n man wat ek weet vir jou lief is. Enige aap kan dit sommer op ’n afstand sien. Jy het die mooiste twee kinders – slim, pragtig, talentvol en so lief vir jou en hulle pa… En jy het ’n goeie vriendin in my gehad. Ek kon nooit verstaan waarom ons so heeltemal kontak verloor het nie. Nou weet ek. Ek weet al amper vir ’n maand. So verduidelik vir my waarom jy dit gedoen het. Waarom was jy so ongelukkig in jou eie lewe dat dit vir jou moontlik was om my so verskriklik seer te maak. Waarom was jy so ongelukkig dat jy bereid was om al dié wonderlike dinge wat jy het, te verongeluk en af te skryf?” Sy moes stop. Die trane was op pad en die knop waarteen sy bly praat het, het skielik net té groot geword. Voor haar het ’n vrou gesit. Iemand wat sy leer ken het as ’n goeie mens met selfvertroue en ’n vol lewe. Nou bang, skaam en verneder. Sy kon nie verstaan waarom sy so sleg gevoel het nie… hoewel sy geweet het dat dié vrou elke stukkie vernedering verdien.
“Waarvan praat jy?” Die vraag is gevra, maar dit is lankal reeds beantwoord.
Sy het die spaar foon uit haar handsak gehaal en begin om die boodskappe hardop vir die vrou voor haar te lees… Die vrou het skielik so wit geword dat sy sommer sittend sou kon uitpaas.
“Wil jy nog steeds weet waarvan ek praat?” Haar hande het onbeheerd begin bewe en haar lippe het onwillekeurig bitter en styf opmekaar gepers.
“Jy het so ontsettend baie, en jy was bereid om dit alles op te neuk met foto’s van jou kaal tieties en alie aan ’n man wat met een van jou ou skoolvriendinne getroud is.” Toe die woorde uit is, het sy beter gevoel. Minder naar. Sy wou dit nie sê nie en sy was dadelik jammer dat sy dit op dié manier gesê het, maar dit moes seker ook gebeur het.

Hulle het lank gepraat. Sy sou na die tyd na die opname luister… vier… vyf keer… en sy sou nie een keer kon glo dat sy so kalm en in beheer voorgekom het nie. Magtig, sy het nie eers een keer oor haar eie woorde gestruikel of gehakkel nie! Dankie Here…

Net voor sy daar weg is, net meer as 70 minute nadat sy daar gekom het, het die vrou wat nog al die tyd oorkant haar gesit het, langs haar kom sit en haar hand geneem.
“Ek was alleen. Hy was goeie geselskap. Dit was opwindend om met hom te gesels. Maar niks het ooit gebeur nie. Dit sweer ek. Jy weet alles, ek belowe jou… moet asseblief net nie vir my man sê nie. Hy sal my los en my kinders vat, en ek sal op die straat gaan sit. Asseblief…” Dit was die waarheid; albei van hulle het dit geweet. Dié vrou was skuldig, maar sy was ook ’n slagoffer.

Sy het vir die vrou ’n tissue uit haar handsak gehaal en dit vir haar gegee. “Ek gaan niks vir niemand sê nie. Maar jy moet verstaan dat dit die laaste keer is wat jy só iets doen. Wat as dinge gevorder het en jy en my man mekaar ontmoet het? Wat as daar dan iets fisiek-seksueel tussen julle twee gebeur het? Ek is lankal nie meer jou vriendin nie. Jy het daai besluit gemaak. Maar ek gaan nie terugstaan en toekyk hoe jy twee pragtige en onskuldige kinders se lewe ontwrig en dalk selfs vernietig vir ’n oomblik se opwinding saam met ’n ander vrou se man nie; nie as gevolg van jou eie selfsugtigheid nie. Werk dinge met jou man uit. Kry berading… ek kan selfs vir jou help om ’n betroubare persoon te kry en hom of haar te gaan sien. As jy nie dinge wil uitwerk nie, skei hom. So eenvoudig soos dit. Maar hoor my vandag – al moet ek jou ook afpers met die foto’s die boodskappe en hierdie opname wat ek van ons gesprek nou maak, sal ek nie toelaat dat jy jou kinders se lewe so opneuk nie.”

Daar was geen twyfel dat die vrou gehoor, geluister en verstaan het wat sy sê nie. Dit was ook duidelik presies hoe ernstig sy is.
“Dankie… Ek weet dis nie my plek om enigiets te vra nie, maar mag ek jou een ding vra?”
Stomgeslaan oor die ‘dankie’ het sy net haar kop geknik.
“Ek het nie vriendinne nie. En ek kan doen met iemand soos jy in my lewe… Asseblief, kan ons nie weer net vriendinne wees nie? Al kontak ons mekaar net een keer ’n maand oor WhatsApp… Jy het my respek en my belofte, al wat ek vra is ’n stukkie van jou vriendskap.”

Die dringendheid in die vrou se oë het haar hart sag gemaak, en met trane wat op haar toppie val het sy net gevries gesit. Sy wou nie leë beloftes maak nie. Toe sy weer voel dat sy beheer oor haar stem het, het sy geantwoord:
“Vriendinne gaan ons seker nie weer wees nie. Maar as jy iemand nodig het wat objektief sal wees en jou sal help omdat sy vir mense omgee en in die besonder vir kinders, dan is jy meer as welkom om op my knoppie te druk.” Vir die eerste keer die oggend kon sy sien hoe die vrou effens ontspan.
“Ek moet gaan… ek moet by die werk wees… hulle soek my dalk al.”

Hulle het opgestaan en uitgestap. Die voordeur en hek het steeds wawyd oop gestaan. Op pad terug na haar werk toe het sy onbeheersd in die kar begin huil. Daar was net te veel emosies om te hanteer en op een of ander manier moes sy dit net uit haar sisteem kry. Sy het haar kar op ’n stil plek gaan parkeer waar sy altyd veilig en rustig voel. Teen die rivier. Haar plek. Sy het net daar gesit en kyk na die water. Hoe lank weet sy nie werklik nie. Een is gekontak, afgehandel, klaar. Sy weet nie hoeveel daar nog is nie. Sy het nie ’n idee hoe sy weer so iets gaan kan doen soos wat sy sopas gedoen het nie. Maar sy het ’n paar goed vandag besef wat sy nie vroeër geweet het nie: Sy het meer innerlike krag as wat sy ooit sou kon dink. Sy gaan haarself nie meer vergelyk met die meisies op die foto’s nie, want sy is nie een van hulle nie. Ja, sy het hulle al in haar kop as hoere beskryf… maar sy weet hulle is nie. Hulle is net mense; net vroue wat ’n fout gemaak het. En hulle het net die helfte van die skuld gehad. Wat haar die hardste getref het, was die feit dat sy God om hulp gevra het… en Hy was daar! Sy was onseker hoe sy hieroor gevoel het. Was Hy daar vir haar, of dalk net vir die vrou met wie sy gaan praat het? Sy weet nie. Maar sy was dankbaar en om een of ander rede, ten spyte van haar alleenheid, het sy amper gevoel asof sy nie werklik alleen is nie. Dit was ’n vreemde gevoel. Maar lekker.

Sy het haar swart trane afgevee met ’n spoeg-tissue en haar grimering so goed as moontlik probeer regmaak voor sy terug is werk toe. Niemand het haar gemis nie en niemand het besef wat in haar aan die gang is nie. Sy het haar werk vir die dag getrou afgehandel en toe weer na die foto’s gekyk. Sy wou nie huis toe gaan nie. Sy wou breek, uitmekaar val, ontrafel… Sy wou haar stukkende seer plekke vir iemand wys en toelaat dat iemand dit vertroetel. Sy het so begeer dat iemand haar net styf sal vashou. Niks sal sê nie. Net vashou. Net nie alleen laat voel nie. Net veilig laat voel. Net laat verstaan dat alles wel op een of ander stadium okay sal wees…

Sy wou net vir ’n oomblik alles prosesseer. Hoewel dit later as gewoonlik was, het sy wel huis toe gegaan. Sy het haar man gesoek en hom styf vasgedruk en saggies in haar kop gebid: Here, wees asseblief net hiermee ook vir mý daar soos wat u vandag vir die ander vrou daar was. Hou my net ’n klein bietjie langer vas sodat my stukkende stukkies net nog ’n rukkie hou. En help my om asseblief nooit op te hou om lief te wees vir dié man nie. Ek glo dat ons vir mekaar bedoel is. Ek glo dié goed gebeur met ’n rede. Ek glo ons gaan hierdeur kom en verby dit alles kom… maar Here, waarom moet dit so onbeskryflik seer wees?

*Word vervolg.*

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s