Woorde

Vandag wil ek bieg oor iets…

Ek neem soms foto’s of screen shots van goed wat ek voel ek nodig het om te onthou.

Soms gebeur dit dat iemand vir my ’n mooi boodskap stuur of dat ek iets lees of sien wat my op een of ander manier motiveer of inspireer; soms wil ek sommer maar net iets onthou omdat dit vir my baie beteken. My ouma (die een wat my grootgemaak het) se Alzheimer’s begin nou al vinniger vorder en dit maak seker net die reeds bestaande begeerte in my om vas te hou aan mooi herinneringe net soveel dringender.

Op dae soos vandag, wanneer een of ander iets besig is om my emosioneel onder te kry of die ratte in my kop weer heeltemal in die verkeerde rigting draai, dan gaan lees ek die gefilterde mooigoed wat ek oor die afgelope amper-jaar al versamel het – mooi aanhalings van mense wat sukses bereik het, inspirerende woorde van mense wat besig is met een of ander worsteling of innerlike oorlog en nie moed wil verloor nie… maar die goed wat vir my die heel meeste beteken is snippets van boodskappe wat mense wat vir my belangrik is, vir my gestuur het. Persoonlike goed. Opregte goed. Bedoelde goed. Woorde wat ek wéét nét vir my bedoel is, en wat uit iemand anders se hart gekom het.

Ek mis woorde wat omgee en wat belowe. Ek mis woorde van vriendskap; selfs dié wat uit onwaarskynlike vriendskappe gespruit het. Woorde was nog altyd vir my emosionele brokkies van iemand se siel en spore van waarheid (ja, ek is nogal gullible).

So, vir die strooimeisie in my wat voel hoe die wind wat waai vandag klein stukkies strooi uit my uitruk, wil ek myself aan die volgende mooi woorde herinner:

  • “Dit sê iets van jou dat jy nie jou standaarde onder druk laat sak nie en staan vir dit waarin jy glo. […] Dit verdien respek.”
  • “Ek hou van jou en ek hou daarvan om met jou te gesels. Almal het kak en hare. Jy het op die oomblik baie, maar dis fine; jy moet net daarmee deal. Ek is jou vriend en ek is hier. Nou, haal diep asem. Neem beheer van jou lewe. En ons kom saam aan die ander kant uit. Jy sal sien.”
  • “Jy is pragtig.”
  • “Jy het ’n mooi en ’n helder glimlag met lig in jou oë. Moenie dat enigiets dit ooit verdof nie.”
  • “Jy is mooi, saggeaard, sexy, intelligent, en daar is nog soveel ander goeie eienskappe. Jy moet dit net begin glo.”
  • “Ek gun jou al die passie en liefde en geluk in die wêreld, en ag jou natuurlik ’n vriendin. […] Wees jouself, en loop jou padjie. En doen dit vir jou; en probeer om nie te veel te worry oor wat ander mense van jou dink nie. […] my reaksie was instinktief om my en jou te beskerm teen seerkry.”
  • “Ek is hier. Ek gaan nêrens nie. Ek gee om, en ek gee graag raad en deel insig. En ek vertrou jou.”

Woorde. Dis een keer gesê of een keer geskryf, maar ek dra dit vir altyd en verewig in my hart saam met my. Ongeag wat daarna gebeur het. Dis soos skatte; soos stukkies liefde (as ek dit maar só mag noem) wat Breytenbach tog so mooi in een van sy ballingskapgedigte aan sy vrou stuur:

Allerliefste

(Breyten Breytenbach)

Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif
want niemand sal ’n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek
weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
ek hy kleur my boodkap so bruin oor jou vel

Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos ’n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ’n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s