Want sjokolade kan ook sleg wees

Iemand het op ’n stadium vir my gevra of my verhouding en situasie met my pa en my man my persepsie van mans oor die algemeen ook negatief beïnvloed. Dié persoon het so ewe voortgegaan en sommer sy eie vraag beantwoord… Natuurlik het haar vertroue in mans ’n ernstige knou gekry. Natuurlik het sy nou geen vertroue in mans nie. Natuurlik sal sy van nou af net vriende hê en nooit weer die lus of die moed vir ’n ander verhouding met mans hê nie. Natuurlik haat sy nou haar pa en haar man. Natuurlik haat sy nou mans.

Ek was vir ’n ruk lank heeltemal stomgeslaan. My eerste en heel natuurlike reaksie was eenvoudig net: “Huh?” Net omdat twee van die belangrikste mans in my lewe my seergemaak het, beteken nie dat alle mans in die wêreld só is nie.
Ek het al baie gehoor van vrouens wat deur een man seergemaak is, en dan skielik besluit dat hulle nooit weer in hulle lewe te naby aan ’n man wil kom nie. Is dit egter nie vreeslik onregverdig nie? Alle mans kan tog nie betaal vir een persoon se swakpunte of foute nie… en hoe onregverdig is ’n mens nie teenoor jouself as jy so iets glo en jouself so weerhou van alles wat kan wees nie?

’n Net omdat ek my vertroue in een persoon verloor het, beteken nie dat ek my vertroue in die mensdom (of… die manlike mensdom) verloor het nie. Die persoon wat my die vraag gevra het, was onseker oor my eerlikheid hieroor, so toe verduidelik ek:

As jy, soos ek, baie lief is vir sjokolade en baie graag daarvan eet, wat sal jy doen as jy ’n lekker blok sjokolade gaan koop en dan by die huis kom en sien dit is vol wurms? Jy gaan natuurlik nie verder daarvan eet nie, al is jy ook hoe lief vir sjokolade. As jy reeds ’n hap gevat het, sal jy dit waarskynlik so vinnig moontlik uitspoeg en dalk selfs jou mond gaan uitspoel. So ’n hap maak mens naar en dis goor en as dit al met enigiemand gebeur het (want dit het al met my gebeur), dan sal jy weet dat dit regtig baie goor is.

En tog eet ek vandag nog sjokolade. Ek is nog net so lief daarvoor as wat ek was voor die hap-vol-wurms. Ek gaan beslis net nie weer dieselfde blok sjokolade met die wurms in eet nie; dié het ek in die asblik gegooi; maar ek gaan verseker weer sjokolade eet! Stelselmatig het ek selfs die soort sjokolade weer begin vertrou en begin toelaat in my koskas… en later ook in my mond!

Ek dink my vertroue in mans is dieselfde. Ja – ek hét seergekry. Ja – twee van die belangrikste mans in my lewe het my vertroue net so stukkend gebreek as wat hulle my hart gebrek het. Ja – die seer gevoel is iets wat ek steeds in my ronddra en ek sal seker vir nog baie lank. Maar alle mans is nie só nie. En selfs die mans wat my seergemaak het, het dit op een oomblik in tyd gedoen… en ek glo ’n mens moet versigtig wees om een oomblik van jou lewe te verwar met jou lewe.

As jy ’n mond vol wurms kry nadat jy ’n hap van jou gunsteling sjokolade gevat het, spoeg dit uit. Gril dat jou hele lyf sommer so ruk en gaan was dan behoorlik jou mond uit. ’n Paar keer as dit moet. Kry die smaak, die gril en sommer die hele gedagte daarvan so vinnig as moontlik uit jou gedagtes. Vergeet daarvan. Maar moenie vir ’n oomblik dink dat al daardie spesifieke soort sjokolade altyd wurms in sal hê nie. Tensy dit gebeur dat dieselfde soort sjokolade jou ’n tweede keer so teleurstel. As dit gebeur, sorg dat daar nie ’n derde keer is nie, want dan is die sjokolade dalk regtig net “foutief”…

My pa was in ’n sekere opsig so “foutief”. Hy het my meer as net een keer belieg, besteel en seergemaak, en na verskeie kere se mondvol wurms het ek besluit dat ek net nie meer kans sien vir nog nie.

Sover glo en vertrou ek dat my man net een vrot kol gehad het. Ek hoop so. Ek hoop nie ek vertrou en probeer nou weer van voor af, en sit kort voor lank met nog ’n mond vol wurms nie. Maar ongelukkig kan ons nie van enigiets in die lewe verseker word nie, né. Selfs die lekkerste en beste sjokolade kan ook sleg word. Ons kan maar net hoop en glo dat dinge wel beter sal word… hoop op “vars sjokolade”. Ons almal weet sjokolade kan ook sleg wees… maar ek weet van baie min mense wat sommer heeltemal sal ophou om sjokolade eet oor die moontlikheid van ’n miskien.

“What you see before you, my friend, is the result of a lifetime of chocolate.”
― Katharine Hepburn

En my gunsteling sjokolade quote uit my gunsteling movie:

“My momma always said, ‘Life was like a box of chocolates. You never know what you’re gonna get.’ ”
― Forrest Gump

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s