Die laaste drukkie

Ek het hom in die oë gekyk en die woorde uit my hart vir hom gegee saam met die kontant wat ek vir hom geleen het: “Ek is lief vir Pa.” Ek kon trane in sy oë sien opdam en voel hoe ’n knop in my keel opstoot. Ek wou hom nie weer laat gaan nie.

Hy het my nader getrek en ’n stywe drukkie gegee. Ons het lank so gestaan. Ek het veilig in sy arms gevoel. Naby aan sy hartklop. Lief-jou… lief-jou… lief-jou…

Met nat hande het ek in die kar geklim. Hemele behoed die een wat ’n opmerking maak omdat ek huil!

As ek maar net geweet het wat ek nou weet, het ek hom stywer vasgehou. As ek geweet het wie hy werklik was, sou ek langer wou vasklou aan daardie veilige gevoel en liefde; die wonderlike illusie; the comfy cushion of denial. Want vanaand mis ek my pappa… die een wat nooit regtig was nie.

Minder as ’n week later het ek begin ontdek wat werklik aangaan, waarvoor die geld werklik was, waarom hy nie nader aan sy gesin kon werk kry nie. Ons was sy tweede prys. Sy eerste prys was sy verloofde en haar twee seuns… salig onbewus van ons lot. Ek het hom ontmasker. Ek het vir myself gewys wie en wat hy werklik is. In die proses het ek so baie verloor – my gesin… die gesin wat ek my hele lewe lank al so hard probeer om van ’n deel te wees, is uitmekaar geskeur en ek het nie meer langer daar ’n plek gehad nie. My ma (’n maand daarna van hom geskei) het my verkwalik, my broer was verbitterd. En ek het weer op die buiterand gestaan en kyk na die ripple-effek wat ek met my groot bek en my soeke na die waarheid veroorsaak het.

Ek haat dit om te wens dat iemand my sal vashou. Ek haat dit om te wens dat ek ’n pa het wat my, sy dogter, eerste sal plaas saam met sy eie gesin. Ek haat dit om so leeg te voel soos wat ek vanaand voel. Ek haat dit om altyd te hunker na aanvaarding… om alewig aan te pas sodat ek aanvaar sal word… te hoop dat iemand nog iets van die eintlike ek sal raaksien en sal sê dis okay… te hoop dat ek eendag vir iemand genoeg werd sal wees om voor te baklei, nie om in te ruil vir iemand anders nie… te wens dat iemand heeltemal eerlik en ernstig my in die oë sal kyk en sal sê I love you anyway.

En tog, op aande soos vanaand, wens ek dat iemand my net sal vashou sonder dat ek daarvoor hoef te vra. Dat iemand net vir my sal lief wees omdat ek ek is. Ek wens daar was nie iets soos koebaai en laaste drukkies nie. Ek wens daar was net iemand hier by my om my vas te hou tot die seer en die trane verby is.

Pappa, ek vergewe jou. Ek is te bang om jou weer te vertrou en ek wil nie weer hê dat jy my so seer moet maak nie, maar ek sal altyd vir jou lief wees en ek sal jou altyd mis vir die persoon wat ek so lank gedink het jy is.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s