’n Goegelaar se galbitter

Dis altyd vir my moeilik om iets of iemand te laat gaan. Veral op dae soos vandag, wat iets wonderliks in my eie lewe gebeur en ek ’n intense begeerte het om net ’n kort boodskappie te stuur aan iemand wat sal verstaan hoe groot dit vir my is. Omdat ek nie dinge kan deel nie, verlang ek ook ekstra baie na mense en wonder ek daardie tikkie ekstra ook oor hoe dit met hulle gaan.

Ek het al van kleintyd af ’n onblusbare nuuskierigheid in my wat ek net nog nooit kon keer nie. Toe ontdek ek Google. Vir ’n rukkie het hierdie wonder van die Internet my goed besig gehou. Tot baie onlangs het ek myself beskou as ’n kenner-goegelaar. Alles in die naam van kennis, hoewel die fyn lyn van stalkerish met die grootste aandag nooit oortree is nie. Onlangs het ek egter besef dat Google jou nie help as jy iemand mis nie. Dit kan jou wel verlangs vertel wat in daardie persoon se lewe aangaan… wat gebeur, waar hulle is, waar hulle werk, vir wie hulle help… Die een enkele ou foto van ’n skewe glimlag help ook nie juis nie. Dit laat werklike maar verlore vriende en ou kennisse net soveel meer soos ’n skim voel. Dit laat my dikwels wonder of hulle werklik daar was, en of dit net ’n wonderlike droom was.

Ek het altyd van Google gehou omdat dit baie van my vrae beantwoord het. Vandag haat ek dit, want ek lees net beperkte inligting en ek wil weet hoe dinge uitwerk en hoe dit gaan en hoe sekere dinge gebeur het in sommige mense se lewens. Google bied nét soveel antwoorde en nét op ’n vooraf geselekteerde poel van vrae; vrae wat nie omgee betrek nie. Google is koud, eensaam en onvriendelik. Dis iets wat jou die soetheid van kennis laat proe, en dit dan vervang met galbitter begeertes om meer te wil weet, maar nie meer te mag weet nie. Dis sadisties, want dis al hoe ek hierdie tarting met inligting en die skielike weerhou van meer inligting kan beskryf. Ongenaakbaar wreed teenoor alle agies… veral dié een!

Die lank en die kort van my inskrywing vandag is eenvoudig dit: Ek mis jou en ek wens ek weet hoe dit regtig met jou gaan. Ciao.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s