Kommapunt 1: Die begin

A semicolon is a place in a sentence where the author has the decision to stop with a period, but chooses not to. A semicolon is a reminder to pause and then keep going.
(http://www.huffingtonpost.com/heather-parrie/my-semicolon-tattoo-is-more-than-art_b_7663538.html)

Iets het haar dit laat doen. Sy wou nie, maar sy moes aan haarself bewys dat sy verkeerd is hieroor. Dit was veronderstel om vir haar eie sielerus te wees. Om haar te verseker van wat sy weet sy het: vertroue, respek, liefde, eerbaarheid.

Hy is daardie oggend vroeg weg na ’n kliënt toe om een of ander probleem uit te sorteer. Skielik en haastig. In die proses het hy sy rekenaar aan gelos en ook nie uitgeteken nie. Met bewerige vingers het sy die muis beweeg. Die skerm het aangeflits en haar hart het so vinnig begin klop dat sy gedink het sy mag iets oorkom. “Moet ek?” het sy gewonder. Vir ’n oomblik het sy baie ernstig oorweeg om net om te draai en weg te stap. Sy is nie die soort mens wat grou en krap nie. Sy vertrou. Sy glo altyd wat mense sê. Tog is daar vandag net iets wat haar dryf om te kyk.

Sy trek die stoel nader, haal diep asem en maak dan haar oë toe. Nog ’n keer. In… uit… die suurstof is nodig.

Sonder om te dink, gaan sy na “My documents”. Die muis se pyltjie gaan staan vir ’n oomblik stil op “Pictures”, maar iets keer haar om daarop te kliek. “Music”… “Deff Leppard”… ’n Effense snorklaggie kom uit haar keel. “Genade, wat doen ek,” lag sy sommer kliphard vir haarself. Terwyl sy dink hoe verspot sy eintlik is, maak die vouer oop en die inhoud begin laai. Stadiger as wat sy verwag het. Sy sien ’n paar liedjies se name, maar twee vouers sonder naam trek onmiddellik haar aandag. Sy kan sien dat daar iets in is, maar wat?

Skielik voel dit of haar hart by haar keel gaan uitspring en sy voel of sy nie kan beweeg nie. Onseker of sy wil weet wat in die vouers is, neem sy binne ’n paar sekondes die besluit dat sy móét weet. Dis haar lewe ook. Sy skuld dit vir haarself om te weet… Dubbelkliek.

Die vouer wat sy eerste oopmaak bevat duisende en duisende foto’s van kaal vroue. Eksplisiet. Banaal. Walglik. Hy moes honderde pornografie sites besoek het hiervoor. Maar hy is ’n man. Mans doen sulke goed. Flip – sy het immers al self uit pure nuuskierigheid al ’n paar stoute sites besoek en dit boonop geniet, so dié is nie iets waaroor sy hom kan judge nie! Sy glimlag vir haarself en dink vir ’n oomblik hoe kinderagtig en simpel sy is. Hy steek niks vir haar weg nie. Daar is niks fout tussen hulle nie. Sy is net weer emosioneel en onseker oor haarself, en nou projekteer sy dit op hulle verhouding. Dis elementêre sake. Psyc 101. Dit gebeur in elke huwelik. Sy is net ’n tipiese vrou.

Met die opstaan huiwer sy vir ’n oomblik. Daar was twee vouers. Iets in haar keer dat sy verder beweeg. Dubbelkliek.

Skielik spin die kamer om haar, haar bene en arms word lam en sy voel of sy naar gaan word. Sy sak terug in die stoel en voel hoe ’n leweloosheid oor haar spoel en haar heeltemal insluk.

Die tweede vouer bevat subvouers; elkeen is met ’n ander vroulike naam of afkorting benoem. Maar dis amper almal name wat sy herken. Sommige name is dié van kennisse, sommige van ou skoolvriendinne waarmee sy amper nie meer kontak het nie. Een is die naam van haar beste vriendin. Daar is ook een van haar. Flip. Wat nou? Moet sy verder kyk? Sy weet sy het afgekom op iets wat sy gehoop en gebid het nie bestaan nie.

Met ’n hand wat so erg bewe, kliek sy die vierde keer eers die eerste vouer raak. Een foto na die ander laai op die skerm voor haar, en met elkeen wat sy sien voel dit of daar ’n stomp mes besig is om in haar hart in te steek en haar van alle lewe te ontneem.

“Die bitch!” ontsnap haar lippe. Tog, toe sy haarself dit hoor sê, weet sy dat sy so verkeerd is. Dis nie die bitch wat die foto’s aanvaar het nie. Dis nie die bitch wat die foto’s afgelaai en mooi netjies in georganiseerde subvouers gestoor het nie. Dis nie die bitch wat alleen gefouteer het nie, maar dis soveel makliker om die bitch te blameer, eerder as die man wat haar hart besit. Hoe het hy in elk geval die foto’s gekry? Regskliek. “Properties”. “Details”.

Hoe siek is dit dat sy verligting vind in die feit dat dit per SMS, WhatsApp of e-pos gestuur is? Hoe naïef is sy om te wil glo dat hulle dit vir hom gestuur het sonder enige toenadering? Sy stoot eers die vrae wat sy in haar kop uitskreeu op die agtergrond. Sy gaan haal haar eksterne hardeskyf uit haar lessenaar se laai, koppel dit aan sy rekenaar. Regskliek… skuif… “copy here”. Dit voel soos ’n leeftyd. Langer selfs. Sodra alles klaar oorgelaai is, ontkoppel sy die eksterne skyf en vee sy sorgvuldig die onlangse geskiedenis in die kant uit. Hy mag nie weet dat sy op sy rekenaar was nie. Hy mag van niks weet nie. Nog nie, in elk geval. Hy sal so kwaad wees vir haar as hy die dag wel uitvind, hy sal haar nooit vergewe dat sy op sy rekenaar gekrap het nie. Sy besef nie op die oomblik hoe klein en onbenullig die gekrap op sy rekenaar is in vergelyking met die goed wat sy gekry het nie. Sy besef egter wel dat sy eers self moet besluit wat sy gaan doen en dat sy eers mooi moet uitwerk wat die omvang van die situasie is. Sy weet hy is ’n sexy man. Sy weet dat baie vroue haar beny en hom begeer. Maar hoewel sy soms onseker was in haar huwelik en van sy liefde vir haar, sou sy nooit kon raai dat hy in die besit is van sulke foto’s van hierdie vroue nie.

Sy los die rekenaar aan soos wat sy dit gekry het en gaan terug na haar eie lessenaar. Dit voel of sy haarself in een groot nagmerrie bevind waaruit sy nie wakker kan word nie. Hoe word ’n mens wakker uit so ’n nagmerrie? Hoe kry ’n mens iets uit jou gedagtes gevee wat jy nooit moes sien of nooit van moes uitvind nie? The eternal sunshine of a spotless mind…

Ongelukkig was die foto’s nie een of ander illusie nie. Presies dieselfde beelde – en meer – vertoon op haar rekenaar. Ewe eksplisiet. Ewe banaal. Sy kyk versigtig deur die foto’s. Na elke liewe een van hulle. Vroue wat kaal uitgestrek staan of lê… gebuk… oopgesprei… Sommige is duidelik deur hulleself geneem of met ’n timer van ’n selfoon of kamera. Sy neem elke stukkie van die foto’s in en dit is asof elke brokkie visuele inligting in haar brein ingegraveer word. Bekende gesigte en vroue wat sy vertrou het, vroue wat sy finansieel gehelp het, vroue vir wie se kinders sy Kersgeskenke gekoop het, vroue wat sy al meer as een keer “vriendin” genoem het… Hoe kon hulle dit doen? Hoe kon hulle dit aan haar doen? Waarom?

Net toe sy dink dat sy die grootste skok verwerk het, sien sy dit. Enlarge. Nog ’n keer. Dit kan nie wees nie…! Sy druk haar oë styf toe en druk haar handpalms teen haar toe oë totdat sy kolle voor haar sien. Iemand het eendag gesê dis hoe ’n mens jou oë laat ontspan. En dis nodig, want duidelik sien sy nou goed wat nie bestaan nie. Kyk weer. Dit kan nie wees nie. Dit kan nie flippen wees nie.

Wanneer sy haar oë oopmaak, is dit steeds daar. Na ’n ruk begin daar trane in haar oë opdam, en terwyl spatsels nat op haar trui drup, kan sy dit nie regkry om haar oë van die skerm af weg te skeur nie. Of eerder, van een spesifieke item op een spesifieke foto.

Langs ’n vet en sweterige vrou wat hande-viervoet met haar kaal alie in die lug op die bed staan, lê haar kamerasak. Dit moet hare wees, want sy kan duidelik die merkie sien wat sy eendag op die plastiese voorkant gemaak het om haar sak van haar swaer s’n uit te ken. Dit was haar kamerasak wat langs ’n half kaal vrou op ’n vreemde bed gelê het. In die volgende foto herken sy vir hom… of eerder… die deel van hom wat net sy behoort te ken. Die vet vrou se dun lippe vou om hom, terwyl sy op ’n goedkoop manier na hom opkyk.

In daardie oomblik het sy dit vir die eerste keer besef: dit was nie alles net gestuurde foto’s nie.

Sy is nie seker hoe lank sy so gesit het, voor sy skielik opgestaan het nie. Veg of vlug?

In daardie oomblik het iets tot haar deurgedring. Haar lewe is verby. Oor. Klaar. Die laaste bladsy van ’n sprokie is geskryf en dit het in bloed en hartseer geëindig. Iemand anders het haar van haar gelukkige einde beroof. Haar held was toe altyd haar ondergang.

In die motorhuis kry sy waarna sy soek. Sy het net die vorige naweek ’n botteltjie gif gekoop vir molkrieke. Die grasperk lyk tog so lelik met die dooie wit kolle… en sy is so lief vir die tuin en die groen gras wat selfs nie in die winter gevrek het nie. Sy kyk mooi daarna. Presies die regte hoeveelheid slaappille, afgesluk met ’n glas vol aangemaakte gif. Dit behoort haar te kalmeer en rustig aan die slaap te laat raak, terwyl sy weet dat sy nooit weer aan enige van die foto’s of haar fake lewe, liefde en geluk hoef te dink nie.

Sy skryf net ’n kort briefie. “Ek is lief vir jou met my hele hart. Jy is my lewe. Ek is so jammer hieroor. Wie is sy?”

Met noukeurige presisie meet sy tot die laaste druppel gif af en kyk hoe dit ’n wit wolkie vorm in die glas water. Die klein wit pilletjies langs die glas pas eintlik nogal mooi daarby. Terwyl die water in die glas al witter en dowwer verkleur, vlek trane haar wang. Een drup in die glas en dit laat van die inhoud op haar trui spat. Die stank laat haar gril. Hoe gaan sy dit in haar lyf kry? Ys! Ys laat alles beter proe.

Sy pluk die vrieskas oop en haal die bakkie ys uit, keer twee ysblokkies uit en gaan terug vrieskas toe om die houertjie te bêre. Toe sy die yskas toemaak, vang haar oog haar peetkind se kunswerk. Dis net ’n skribbel, maar sy onthou toe hy dit geteken het, hoeveel hy dit geniet het en die soentjie wat hy haar gegee het toe sy dit teen die yskas vasgesit het. Op die ander deur van die yskas is haar swaer se kind se kunswerk. Wil sy regtig dit mis? Wil sy regtig net ingee en opgee en uitmis op sulke tye; soentjies en drukkies en liefde wat so opreg is dat geen mens dit kan bevraagteken nie? Voor sy haarself kan keer, neem sy die glas en die pille en stap by die kombuis se deur uit. Dit land in duisende fyn en nat stukkies teen die betonmuur en spoel oor die plante. In trane draai sy in haar spore om. Dié gaan nie haar einde wees nie. Sy weet nie wat dit is nie, maar die einde is dit nie. En sy gaan nie as ’n lafaard onthou word nie.

Sy stap terug na haar studeerkamer, en met haar laptop gaan sy na die drukker toe, sy selekteer al die foto’s wat sy moontlik kan. Regskliek. “Print all”. Terwyl die drukker piep en dan kreun soos wat die een wit vel papier na die ander met swart gevlek word, hardloop sy na haar kamer toe. Sy haal haar tas uit en gooi blindelings haar klere daarin. Sy het genoeg geld van haar eie. Sy sal vinnig ’n plan kan maak met verblyf. Dan sal sy haar meubels en die res van haar goed kry. Sy het ’n prokureur-vriendin wat haar sal kan help met die beste raad en advies. Terwyl haar oë rooi word soos wat sy haar trane afvee met die agterkant van haar mou, word haar tas al voller en voel sy in haar hart al leër.

Die lamheid het haar lewendig opgevreet. Sy stap verdwaald terug na die rekenaar, haal die gedrukte foto’s uit die drukker en vat die bol prestic wat op haar tafel lê. Op ’n skoon papier skribbel sy die woorde: “Dis waarom ek weg is. Ek is lief vir jou, maar ek is beter as dit!” Koorsagtig begin sy om die foto’s in ’n collage teen die muur te plak; haar nota in die middel van alles. En dan tref haar eie woorde haar. “Ek is lief vir jou.” Nie was nie. Sy is steeds. En sy weet sy sal nooit kan ophou om vir haar man lief te wees nie. Sy het hom onvoorwaardelikheid belowe en sy is bekend daarvoor dat sy haar beloftes hou. Sy kan nie vlug nie. Al is dit die een ding in haar lewe waarvoor sy sal veg… hiervoor sal sy veg.

Sy val op haar knieë en gil. “Here, hoekom? HOEKOM? En help… HELP my! Want ek weet nie of ek sterk genoeg gaan wees nie!”

Smekend. Huilend. Biddend tot ’n God wat sy op daardie oomblik weet haar heeltemal vergeet het. Dalk omdat sy Hom vergeet het. Ná baie trane staan sy op. Die gedrukte foto’s word buite aan die brand gesteek. Een pynlike gevlekte bladsy na die ander. Dan gaan pak sy haar tas uit en sy gaan stort. Sy maak haarself mooi.

Wanneer sy uit die badkamer stap, is haar man reeds weer tuis.

“Hey! Wat is aan die gang?” Hy kyk haar ietwat vreemd aan. Sy weet haar oë is nog bloedrooi.

“Hooikoors. Die stof het my maar gevang, dis al. Ek het gaan stort en ek voel nou weer beter.” Sy kon nog altyd oortuigend jok. Soms ook op ’n manier vir hom.

“Ek is so lief vir jou… as jy maar net weet hoe lief.” Sy stap nader en gee hom ’n stywe drukkie. Hierdie keer het sy nie gejok nie en sy weet hy besef nie presies hoe waar haar woorde is nie. Terwyl sy haar oë toemaak en in sy arms staan, luister sy na sy hartklop. Haar oupa het altyd vir haar vertel dat sy hartklop ’n taal praat… lief-jou…. lief-jou… lief-jou… Hoewel sy nie op die oomblik haar man se hartstaal ken of verstaan nie, bid sy saggies… glo sy… hoop sy… dat dit eendag weer dieselfde taal as haar oupa se hart sal praat.

Op hierdie oomblik is daar nie veel waarvan sy seker is nie. Inteendeel – daar is meer onsekerheid in haar as enigiets anders. Maar die een ding wat sy weet is dat hierdie nie die einde is nie. Sy sal dit nie toelaat nie. Sy is sterk genoeg en lief genoeg vir hom om dit nie die einde te maak nie. Ja, daar volg ’n moeilike tyd en sy weet daar kom baie trane. Maar sy weet ook dat hierdie liefde wat sy voel, hierdie persoon wat sy vashou en hierdie twee harte wat klop nog nie ’n einde bereik het nie. Dis ’n kommapunt. Dis nie ’n punt nie. Haar storie is nog nie klaar geskryf nie.

*Word vervolg*

Advertisements

One thought on “Kommapunt 1: Die begin

  1. Terug pieng: niks | strooimeisie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s