Instructions not included

Ek het al op ’n paar plekke gehoor dat mense sê dit is so half onregverdig dat jy ’n lisensie vir ’n TV moet hê, jy moet ’n lisensie en geslaagde kursus agter die blad hê as jy ’n vuurwapen wil besit, ’n bestuurslisensie as jy met ’n kar of motorfiets wil ry… maar vir kinders is daar geen lisensie nie. Daar is geen keuring nie. Geen toelatingsvereistes om ’n ouer te wees nie. Dit gebeur net. Daar is ook geen instruksies of werklike handleiding hiervoor nie. Dink net hoe eenvoudig dinge sou wees as daar iewers in ’n algemene handleiding vir ouerskap ’n spesiale afdeling was… troubleshooting vir as iets snaaks gebeur… waar die Ctrl+Alt+Del van jou kind sit… of as dit nou regtig moet, waar die restore factory settings gevind kan word. Maar kinders – mense oor die algemeen – het nie handleidings nie. Hulle vereis ook nie ’n lisensie nie.

Ek kan nie regtig veel onthou van toe ek baie klein was nie. Ek kan net onthou dat dit my eendag opgeval het dat my ouers nie werklik so ’n groot rol in my lewe speel as in my maats s’n nie. Met verjaardae was hulle altyd daar. Met Kersfees. Paasfees. Al die feeste… Maar met klein goedjies soos sportbyeenkomste of opvoerings… my ouma en oupa was daar, nie hulle nie. Dit het my nooit gepla nie, totdat die kinders op skool my begin spot het daaroor. Die algemene afleiding wat gemaak is, is dat my ouers my weggegooi het. Pleks van om sag met my te werk, het dié aanname hulle egter ammunisie gegee om my te boelie en te terg. Kinders is wreed. Genadeloos. Hulle het nie besef dat ek net een van vele gevalle was waar my ouers in die diep kant ingegooi is sonder instruksies nie.

Daar is goed waaroor niemand in my familie praat nie. Een van dié goed is presies wat gebeur het voor my geboorte. Ek het nog nooit die moed gehad om te vra nie, maar somme werk vir my net dat, as jou ma en pa net ’n bietjie meer as 6 maande voor jou geboorte getroud is, dan is jy dalk nie so heeltemal ’n honeymoon-baba soos wat jy altyd vir almal vertel nie. My pa het nooit my ma se familie se goedkeuring heeltemal gekry nie, maar hulle is getroud en toe is ek ook daar. Platsak, sonder huis of goeie beroepe, het hulle by my pa se ouers ingetrek.

In hierdie verhaal is daar geen skelms nie. Onbehandelde nageboorte-depressie is egter ’n bogger wat ek, vanuit ’n kind se oogpunt, niemand gun nie. Ek het foto’s van waar my pa my as baba vashou. Ek het foto’s van waar my ma my vashou waar ek effens ouer is. Maar dit is die foto’s saam met my ouma en oupa wat ek kan onthou.

Natuurlik was dit nooit depressie nie. Of eerder, dit was nie volgens my ma die geval nie. In my ma se oë het my ouma my van haar gesteel en geweier om my vir haar terug te gee. Jare later het ek as jong tiener by my een tannie gehoor dat dit op ’n manier wel waar was: my ouma het my wel met tye weggevat van my ma af. Maar nie om my te steel nie. Om my kos te gee, te troos, aandag te gee. Dis iets wat my ma nooit kon aanvaar het nie en sy verkwalik my ouma steeds, meer as 30 jaar later, oor die onreg wat sy haar aangedoen het deur my ma van haar kind te ontneem. Dit maak my moeg tot in my bene om steeds konstant te hoor hiervan, en om die aanhoudende messteke van my ma se kant af te hoor… soms voel dit vir my of sy nie net my ouma verkwalik nie, maar vir my ook.

Hoeveel eenvoudiger sou alles nie gewees het as daar nie net ’n handleiding was wat ’n mens kon oopruk vir al die antwoorde, of ’n call centre waar ’n mens iemand vir raad kon vra nie! Maar daar is nie so iets nie. Geen lisensie is nodig nie en geen instruksies word voorsien nie… en dis die geval vir van die belangrikste goed in die lewe! Die groot probleem is egter nie dat daar nie ’n lisensie of instruksies is nie, maar eerder dat die foute wat ons maak dikwels oorspoel in ander mense se lewens.

In my eie lewe as volwassene het my ma (of my ouers?) se verwerping ’n baie groot invloed gehad. Ek het vir ’n lang tyd hierdie vreeslike angsgevoel in my gehad dat ek dalk op een of ander stadium swanger sal word en nie goed genoeg wees vir my kind nie; my kind dalk ook verwerp op ’n manier, want wat weet ek tog van ouerskap! Nou is die angs verby en daar is niks anders wat ek so graag sal wil hê as om ’n mamma te wees nie. Situasies buite my beheer keer ongelukkig dat dit kan gebeur… iets waaroor ek dalk later sal skryf, maar nie op die oomblik oor wil skryf nie.

Ek het my ma se baby-blues (hoekom klink die naam so cute?) altyd afgemaak as iets simpels wat nie ’n uitwerking op my het nie, tot ek nou die dag iets daaroor vir my berader gesê het. Ek het nie gedink dit is belangrik nie, maar vir hom was dit ’n regte eye-opener. En toe begin ek daaroor dink… en ek het besef hy het ’n punt beet.

Mense besef nie altyd hoe ’n groot invloed hulle onderbewussyn op hulle lewe en sienswyse het nie. Ons aanvaar dikwels goed wat ons doen en besluite wat ons neem as “natuurlik”. Tog word daardie besluit, die begin van dit alles, deur iets in ons bepaal. Iets voed die rede waarom ons dinge só sien en waarom ons juis op hierdie spesifieke manier optree. Ek besef ek moet begin oopmaak en begin praat oor die dinge in my kop. My ma het my as kind dalk gelos, as kind dalk nie die nodige aandag en liefde gegee nie, nooit gedink ek is slim of oulik of mooi nie… maar dit is die verlede. Vir die eerste keer in 34 jaar het daar nou vir my ’n liggie aangegaan. Ek is meer as net ’n optelpop, vloerlap, vriendin-as-jy-my-nodig-het. Ek is nie net ’n strooimeisie nie. Ek is mens. Selfstandig, oulik en kosbaar. En volwasse genoeg om te besef dat ek nie meer die stil kind is wat eintlik maar diep in my hartjie wens dat my ouers ook tussen die res sit en vir my skree nie. Daar ís mense in my lewe wat omgee, wat wel daar sal wees vir my. Dis ’n groot stap wat ek neem, maar ek het gisteraand besluit dat dit nou tyd is:

Dis tyd dat ek mense vertrou.

Dis tyd dat ek verwag dat mense nie sal verdwyn of my sal seermaak nie, maar daar sal wees – saam met my, deur dik en dun.

Dis tyd dat ek komplemente aanvaar, nie dit probeer vermy nie en dit nie as ’n opmerking begin afmaak dat die persoon net iets wil hê nie.

Dis tyd dat ek begin aandring op die respek wat my toekom.

Dis tyd dat ek myself waardig begin ag, want tot nou was almal altyd belangriker as ek.

Dis tyd dat ek vir myself begin lief word… want hoe anders kan ek vir my naaste liefhê as ek nie vir myself lief is nie…

Dis tyd dat ek myself begin sien deur die oë van die mense rondom my, want in my eie oë was ek nog nooit iets meer as ’n patetiese vaal ou meisie wat moet gee maar nie die reg het om te ontvang nie. Ek mag verkeerd wees, maar ek dink nie my perspektief is heeltemal reg nie. In my eie kop is ek die strooimeisie wat op die oomblik nogal uitmekaar val… in my berader se kop is ek net iemand wat een van die korter strooitjies getrek het… maar ek weet in sommige mense se oë is ek belangrik en spesiaal wat help en wat hulle van bose goed verdedig. Dis tyd dat ek leer om die ander perspektiewe ook te kan sien.

Ek wens net daar was ’n handleiding daarvoor. Of ten minste ’n behoorlike lys met instruksies…

(Dankie, J… jou preke het toe wortel geskiet. Jy sal ook sê uit-flippen-eindelik! En dankie S… beste vriendin in die wêreld… dat jy al so lank al iets in my sien en my dit probeer wys; jammer ek het tot nou toe nie regtig gekyk nie. En SW, ek wens jy was net nog ’n rukkie deel van my lewe; net om te kon sien wat jou wyshede oor die lewe, oor dinge en oor my wel vir my beteken het.)


PS:
’n Baie oulike, maar diep film is “Instructions not included”… vir dié wat belangstel, gaan kyk die voorprent op https://www.youtube.com/watch?v=-rlFr2lu0IY en onthou maar ’n boks snesies wanneer julle die volledige film kyk…

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s