Nostalgies oor klawers

Ek is nie seker hoe lank terug ek aan ’n klavier gevat het nie, maar ek het gister en vandag daardie brandende begeerte in my om net met my vingers te gaan dans oor daardie swart en wit klawers wat so bekend en goed onder my hande voel.

Op skool is ek effens gedwing om Unisa-klavier te doen. Klassiek. Ek het tot graad 8 (graad 6 teorie, maar graad 8 prakties) klaargemaak, en toe het ek om een of ander rede net opgehou. Soos ’n regte rebel het ek dikwels nié geoefen aan al die swaar en boring klassieke goed nie… of vasgehaak op Für Elise, die Maanligsonata (ek het nogal ’n ding vir Beethoven gehad, noudat ek daaraan dink) of Debussy  se Clair de lune… Chopin se Rain drops… Of ek sou (tot my ouma se ontsteltenis) my eie of populêre goed op gehoor uitwerk. Dit was in die tyd voor rekenaars en Internet, dus kon mens net die note kry as jy dit in duur boeke koop (waarvoor ek nie geld gehad het nie)… of jy kon dit soos ek self uitwerk.

As ek vandag probeer om weer te speel, sal my vingers waarskynlik net koek en ek sal gefrustreerd opstaan en my toon seer gaan stamp teen die naaste stoel of ’n vloermoer gooi soos wat net ek seker kan. Snaaks hoe vinnig ’n mens iets kan verleer. Ek kon op ’n stadium amper beter bladlees as wat ek werklike boeke kon lees. Dit was vir my moontlik om ingewikkelde klanke te “voel” en dit dan net so op die klawers te gaan repliseer.

Die klavier was egter nie altyd my maatjie nie. Toe ek klein was, was ek ’n regte rabbedoe. Ondeund. Altyd besig en aan die gang, soos ek seker vandag ook maar is. Ek het in al wat ’n boom is geklim, mure saam met my eerste (en enigste) maatjie uitgeklouter en ’n paar keer amper van dakke afgeval. Bloukolle het ek soveel van gehad dat die dokter my eenkeer eenkant gevra het of my ouers of ouma-hulle my baie slaan. Ek dink hy het die boodskap gekry toe ek begin lag en hom presies kon vertel waar ek watter bloukol gekry het. My ouma het tot onlangs nog gespot oor daardie dag… Gelukkig het ek nooit enige bene gebreek nie. Ek het sterk bene en vashou-krag in my hande… Oups het eenkeer verwys na “goeie en sterk binnegoed” (wat dit ook al mag beteken).

Tussen ’n hele versameling nefies en ’n boetie was stilsit nie regtig iets wat ek gereeld gedoen het nie. My dogtertjie-maats het nooit vreeslik baie van my gehou nie. Vir hulle was ek net ’n irritasie; die effense rowwe jack wat nooit tevrede was met ’n “normale” teepartytjie of Barbie-speel-sessie nie. Ek was altyd waar die aksie was… gewoonlik die informant of spioen in die seuns se speletjies buite. My nefies wou my altyd die prinses in Cowboys en crooks maak (asof daar ooit enige prinsesse tussen dié twee partye was). Ek het dit gehaat en het, ewe selfstandig soos dit ’n meisie in my boekies betaam, op een of ander manier ’n gun in die hande gekry en myself bevry. Al die skurke is dan in die proses sommer deur my geskiet, toegesluit of vasgebind en dan het ek ewe trots vir die good guys gestaan en wag. Hulle was áltyd laat, áltyd stomgeslaan oor wat ek – soet dogtertjie alleen – vermag het en hulle was áltyd nogal vies daaroor. Kort voor lank het hulle ontdek dat die informant/spioen-ding baie beter werk as die prinses-idee… totdat hulle besef het dat ek eintlik maar soos my eie klein CIA vorm en hulle almal lekker om my pinkie draai. Hehe – dit was die lewe! In die winter het Lego of Skylectric-bane (genade, hoe spel mens dit nou…?) altyd gewen bo teepartytjies en poppe… hoewel Lego-invasions in ’n pophuis baie opwindend kan wees (attack of the brick men)!

My een ouma kon dit nie hanteer dat ek so uitspattig is nie. Dogtertjies maak tog nie so nie. Sy het gevoel dat ek eerder moes koekies bak, leer hekel en pop speel soos dit ’n porseleinpop betaam. Dit was altyd die grootste straf vir my om net in die huis te sit en stil te wees, hoewel koekies bak natuurlik ook sy voordele (of beloninge) het. En vir die rekord: rou koekiedeeg was in my kop al lank voor die onlangse craze ’n wenner, en ja die resep kon om een of ander rede nooit dieselfde hoeveelheid koekies oplewer as ek help bak het nie… ek wonder hoekom!

Toe ek een Saterdag weer al gillende en skreeuende agter my nefies aanhardloop… guns blazing en ’n oorwinning so naby dat ek dit amper kan proe, het my ouma my weer in die huis ingeroep. Daar was nie koekies om te bak nie, daar was niks om te maak met lap of wol nie, daar was geen ander maats vir my nie. Die huis was vol mense en ek het in alle eerlikheid nie geweet wat om met myself aan te vang nie. My ander ouma sou glad nie omgegee het as ek myself net geniet nie… Ek het deur die groot huis gedwaal. Alleen. Ek het dit daai tyd net soveel gehaat om alleen te wees as nou. En toe, in die eetkamer waar ek nooit kom nie as gevolg van ’n glaskas vol snaakse poppies, het ek my nuwe maatjie sien staan. Groot. Indrukwekkend. Pragtig. Aanloklik. ’n Klavier.

Ek het met groot oë nader gestap en ewe astrant my hand onder die valbord ingedruk. Dông-dông-dôngggg, het die klank deur die hele koue huis getrek. Niemand het gekom nie. Dit het my opgewonde na die ander kant laat loop. Tiek-tiek-tiek… Die klank het my laat glimlag. Ek was mal daaroor. Die valbord het hard geklap toe ek voetstappe nader hoor kom.

My oom het die lig aangeskakel en breed geglimlag toe hy my daar sien staan het soos die stout kind wat ek gevoel het ek was. “Kan ek jou iets leer?” het hy my gretig gevra. My oom is net sewe jaar ouer as ek. Hy het gewoonlik saam cowboys en crooks gespeel en ek het veilig gevoel as hy in die omgewing is. Ek was so opgewonde dat ek nie ’n woord kon uitkry nie, so ek het net my kop heftig begin knik.

“Ek ken net een liedjie, maar jy kan saam met my speel as ek jou mag wys?”

En dis waar ek my eerste liedjie leer speel het. Chop-stix, natuurlik! Hy het my een keer gewys wat om waar te druk en ons het die res van daardie middag klavier gespeel. As iemand vandag vir my sê hulle kan klavier speel en dit is net Chop-stix, kan ek maar net nie anders as om te glimlag nie. Nie omdat ek neerkyk op hulle nie, maar omdat daardie liedjie my lewe op ’n manier verander het.

’n Paar maande later het my ouma vir my ouers gesê dat die klavier maar myne mag word op voorwaarde dat ek iets anders as Chop-stix en my ander “self-gekomponeerde” goed leer speel en ons die klavier self ook laat stem en onderhou. Ek het ’n week later begin klas draf by ’n plaaslike musiekskool en aan die einde van daardie jaar het ek aan my eerste musiekkonsert deelgeneem. So ewe met die prys vir die “top junior presteerder” daar weggestap!

Ek het eers twee jaar later met my Unisa teoretiese vak vir musiek begin, want blykbaar was ek nog te klein daarvoor toe ek oorspronklik ingeskryf het. Ek het vinnig gevorder en die een eksamen na die ander met onderskeiding geslaag. Dit het gevoel of dit die een plek is waar ek regtig goed is. En my ouers het dit ook gesien. My ma het selfs een of twee van die konserte bygewoon!

Ek het dit altyd gehaat om voor mense te speel en ek sou amper nooit voor my vriende speel nie. Toe ek my man ontmoet het, het ons ’n paar maande uitgegaan voor hy uitgevind het dat ek kan speel; ook maar net omdat hy vroeër as afgespreek by my huis opgedaag en toe gehoor het.

My klavier was my toevlug vir ’n baie lang tyd. Dit was die een plek waar ek kon afsluit, net kon voel hoe ek een word met ’n instrument wat die mooiste klanke maak as gevolg van my vingerpunte. Ek het male sonder tal my oë net toegemaak en my hart uitgespeel… en eers besef die trane loop as my ouma-ma haar hand saggies op my skouer kom sit het. Op ’n manier was die klavier seker maar my blog. Die perfekte plek om net af te skakel en te laat gaan. Die een plek waar die ratte in my kop nie aanhoudend net gedraai het nie. Die af-knoppie waarna ek vandag so vreeslik aanhoudend soek.

Net na my en my man se troue, toe my ander ouma eendag by my kom inloer vir tee, het sy die klavier in ons ingangsportaal sien staan. Sy het net opgemerk dat dit “haar klavier” is wat nou in my huis staan. Ek het nie veel daarvan gemaak nie. Sy het dit immers jare gelede vir my gegee.

Dit was nie lank daarna nie, toe die eerste stories by my uitkom. Ek het glo die klavier – haar (hierdie ouma van my) erfstuk van haar eie ouma af – by haar gesteel. Dit het my so ontsaglik seergemaak dat ek gesukkel het om te speel. Waar ek vroeër kon ontlaai en wegbreek, het ek skielik net verbittering en seer gevoel as ek gespeel het. Wat het sy gedink gaan van die klavier word? Die een wat sy vir my gegee het op voorwaarde dat ek net moet leer speel en dit moet onderhou… twee voorwaardes wat ek baie goed en getrou nagekom het!

Ek het mettertyd heeltemal ophou speel en vandag staan die klavier maar in my ma se huis.

Maar gister het iets gebeur… ek het iets op YouTube gesoek en toevallig afgekom op klassieke stukke van Beethoven… geluister… my oë toegemaak… en voor ek dit besef het, het ek met my vingers gesit en speel op die lessenaar voor my asof dit ’n klavier is. Ek mis dit om te voel hoe daardie klanke ’n huis vul, hoe dit al die gedagtes uit my kop stoot om net plek te kan maak vir dit wat suiwer en mooi is…

So ek het vandag ’n ou vriend van my gebel. Iemand wat mooier klavier kan speel as enigiemand wat ek nog gehoor het. Iemand wie se oordeel ek vertrou. Hy is op soek na ’n klavier vir my. ’n Régte klavier wat nog snare pleks van allerhande elektronika het… My eie klavier! Een wat ek self sal koop en sal onderhou. Een waarop ek sal speel wat my hart ook al voor vra… En ek kan nie wag om my nuwe vriend te ontmoet nie…!

Ja, hierdie rissiepit-rabbedoe hét ’n af-knoppie. Dit sit in die klawers van die soetste klanke van ’n regte klavier.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s