Die verlore hond se identiteit

Is daar werklik iemand wat presies weet wie hy of sy is? Wat hom- of haarself met sulke noukeurige presisie kan beskryf dat dit 100% en perfek saamvat wie en wat hulle is as persoon?

Baie mense het my al gevra wie ek “regtig” is. Ek moet bieg dat ek myself ook al baie keer presies daardie selfde vraag gevra het. Eerlikwaar is ek nie seker nie. Hulle sê dit help as jy die eerste vyf woorde of eienskappe neerskryf wat by jou opkom oor jouself… Ek glo aan balans, so ek wou eers twee lysies maak – ’n lysie met positiewe goed en een met negatiewe goed. Niemand kan tog net goed of net sleg wees nie! Toe besef ek skielik hoeveel sleg daar ook in ’n “tradisioneel goeie eienskap” kan wees, en daarmee is ek terug by net een lysie.

My lysie van vyf eienskappe is (en niemand hoef met my hieroor saam te stem nie):

  • Sterk
  • Omgee
  • Verstrooid/simpel
  • Vriendelik
  • Opreg

Ek wil eerder fokus op my vorige opmerking, naamlik dat ’n goeie eienskap dalk ook nadelig kan wees, in plaas van die eienskappe self. Gebruik omgee as voorbeeld…

’n Rukkie gelede het ek vir SW (hy sal altyd in my kop ’n baie goeie vriend bly, ten spyte en ten koste van alles en my hiper-emosionele brief van nou die dag) probeer verduidelik hoe ek voel oor mense wat swaarkry of enige vorm van nood het. My desperate metafoor gaan dalk vir baie mense soos die neerhalendste metafoor ooit klink, maar dit is hoegenaamd NIE hoe ek dit bedoel nie! Ek het vir SW verduidelik dat ek sulke situasies sien as ’n verlore hond in die straat wat ek moet help om by die regte plek te kom. Iets wat ek nog nooit kon regkry nie, is om verby so ’n verskrikte hond te ry. Tot my man se ontsteltenis (net soms, want hy is ook baie lief vir honde), móét ek die kar stop, die hond vang, inlaai en huis toe vat… dan begin die lang storie van FaceBook-kennisgewings, die DBV kontak en so aan… Ek is trots daarop dat daar nog net een hondjie is wie se huis ek nie kon opspoor nie, vandag manlief se hart se punt en een van die bestuurders van ons huis.

Net so is ek nogal betrokke (hoewel net op die kantlyn) by welsynsprojekte vir grootmense, oumense, kinders van elke kleur en geur, asook vir diere (in besonder honde). Dit doen iets aan my om te weet dat ek met “iets” – al is dit hoe klein ook al – ’n positiewe impak op iemand anders se lewe kan maak.

In my eie lewe was dit nog altyd vir my ’n groot probleem om selfs iemand wat aanhoudend droogmaak en my aanhoudend seermaak, net te laat gaan. Soos ’n hond wat oor en oor by sy huis uitkom, het ek sonder om te dink oor en oor gestop en deur die hele proses gegaan om die hond weer veilig tuis te kry. Want ek gee om. Diep en opreg. Wat SW hierop geantwoord het, het my egter op ’n manier geskok. Soveel so, dat ek daaroor begin dink het en besef het dat hy eintlik heeltemal reg is:

Hy het my gevra wat ek sal doen as die hond deur ’n kar getref is… of baie siek was… of om watter rede ook al besig was om dood te gaan. Sou ek steeds die hond oplaai?
“Natuurlik sou ek,” het ek geantwoord. Dit hét immers al gebeur dat ek ’n seer of siek hond na die naaste veearts aangery het. Hoe dan anders?

Toe vra hy my wat ek sou doen as die hond in my kar gelê en uitbloei het en ek besef het dat nie die beste veearts iets vir die hond sal kan doen nie. Sou ek my kar met myself en die hond daarin verongeluk? Sou ek my eie lewe teen die naaste muur of boom afskryf, sodat ek genadig kan wees teenoor die sterwende hond?
“Natuurlik nie… dit sal tog simpel wees,” het ek geantwoord.

Nou hoekom doen ek nie dieselfde met mense nie…?

Soms gebeur dit dat daar mense in ons lewens is wat ongelukkig net nie gered kan word nie. Soms is dit omdat hulle nie gered WIL word nie, soms omdat hulle verby die punt van (menslike) redding en hulp is. Hoe dit ook al sy, alle honde kan nie altyd gered word nie. Net so kan nie alle mense gered en gehelp word nie. Dis iets wat ek sukkel om te aanvaar. Ek het al ’n paar keer my eie lewenskar lelik gestamp in ’n poging om ’n mens-hond wat eintlik net ’n vreemdeling is te red en ek het al soveel keer aan hierdie gesprek met SW teruggedink en gewonder of ek dalk besig is om teen spoed op ’n muur af te stuur met sekere dinge in my lewe… besig is om my kar af te skryf en myself te verongeluk saam met ’n onredbare mens-hond. Dié gesprek was een van die sleutelgebeure in my lewe en dit het so ’n groot invloed op my persepsie van myself en hoe ek goed hanteer.

Dit is moeilik om te bepaal wanneer ek moet stop om ’n mens-hond op te laai en wanneer ek vir my eie beswil net verby moet ry. En wanneer ek besluit om eerder nie te stop nie, voel dit of iets in my breek van die seer. Ek wil dit nie doen nie, maar ek kan dit ook nie weer aan myself doen nie. Dis selfs nog erger vir my om my kar te stop en die hond af te laai.

Ek het ook onlangs gevind dat alle verlore honde nie noodwendig vriendelike honde is nie. Hulle byt dikwels die een persoon wat juis wil of probeer help. Mense is net so. En ek is moeg om emosionele bytmerke oral oor my hande en arms te probeer regdokter.

So wie is ek? Wie is Strooimeisie as ek haar met 5 eienskappe kan beskryf?

  • Ek is sterk, want ek is al deur baie en tot nou toe kon ek copemet stukkende en seer hande en ’n gestampte kar.
  • Ek gee om. Ek sal altyd omgee, want dit is in die kern van my hart om om te gee. Maar ek moet ook vir myself begin omgee. Ek kan nie ten koste van myself omgee vir ander nie, al is dit hoe moeilik… want al glo ek dit nog nie so heeltemal nie, is ek ook eintlik belangrik.
  • Ek is dikwels verstrooid en simpel… soms kom woorde en gedagtes ongeprosesseerd en onverwerk by my mond uit. Gewoonlik tot die vermaak van baie mense om my; soms tot die grootste hartseer vir myself en/of ander. Dis iets waaraan ek kan werk en gaan werk.
  • Ek is vriendelik en ek beskou myself as ’n ware vriendin vir ander. Tog het ek besef dat vriendskap nie iets goedkoop is, soos ’n papvrot sakkie avokado’s wat mens laatmiddag op die straathoek in die son kan koop nie… special price! My vriendskap is meer as die suiwerste goud of diamante werd en ek is bevrees dat ek dit gaan begin weggeneem en vir iemand anders gaan gee as mense dit nie oppas nie… honde wat helpende hande verskeur, verdien dalk nie om deur daardie hande gehelp te word nie.
  • In alles wat ek doen, wil ek altyd opreg wees. Ek sal, soos ek werk aan “verstrooid en simpel” ook probeer om hier taktvol te wees waar moontlik en nodig, maar ek het ook al agtergekom dat tough love regtig ’n plek in die lewe het.

Op ’n manier was ek al self ook meer as net een keer die verlore hond langs die pad. Ek weet hoe dit voel as karre verby jou jaag en ek weet hoe dit voel om angstig ’n besige pad te kruis terwyl ek onseker rigting soek. Hoekom ek in die eerste plek nie meer veilig aan die ander kant van my eienaar se hek is nie, weet ek nie (ek is verstrooid en simpel, onthou). Die punt is dat iemand wel gestop het. Dat iemand my wel gehelp het. Dat iemand my wel tot op ’n punt gebring het en nou van rigting moet verander omdat hy self eintlik ook net ’n verlore hond is… of dalk ’n hond wat nou sy huis gevind het (ek hoop dit is die geval, want almal verdien dit). Vir die kort rukkie se hulp is ek so dankbaar. Die paar maande se “nie so alleen wees nie” sal ek nooit vir enigiets anders wil verruil nie; vir my was dit so eg en so waar.

Ter afsluiting van vandag se inskrywing:
Dankie, SW. Ek het gedink ek is kwaad. Ek het gedink ek voel teleurgesteld. Eintlik was ek meer onseker, bang en angstig as enigiets anders. Ek het nie bedoel om jou te byt met my brief nie, al verstaan ek nie wat werklik gebeur het nie. Vandag sien ek die ander moontlike sy van sake egter in. Jy sal verewig in my kop en lewe bly omdat jy een van die min eerlike en opregte mense is wat ek al ontmoet het; maklik een van die wysste mense; en jy sal altyd vir my so ontsaglik baie beteken as iemand wat ek respekteer en waardeer. Jy het my op ’n eienaardige manier tot by die DBV gebring, en ongeag die rede waarom jy my moes aflaai, sal ek altyd dankbaar wees dat jy wel in die eerste plek gestop het, my opgelaai het en my vir ’n rukkie gehelp het. En ook dat jy nie jouself op die pad afgeskryf het nie, want niemand verdien dit nie. Ek hoop van harte dat dit ’n “tot-weer-siens” (wanneer jy en Strooimeisie heel is) is; nie ’n “nooit-weer-sien” nie… Tot dan, veilig reis!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s