Jou ongeleesde brief

Liewe SW

Jammer ek skryf so ’n boodskap hier, maar ek MOET dit uit my sisteem kry.

Ek het ook nodig om weg te breek. Ek het nodig om te voel hoe dit voel om te leef en asem te haal. Ek het nodig om te voel hoe dit voel om begeer te word. Ek het nodig om iets vir myself te doen omdat ek dit verdien en omdat ek nie hierdie lam en dooie gevoel meer kan hanteer nie.

Ek is nie vies vir jou nie, maar ek haat dat dinge in so ’n kort tydjie so drasties tussen ons verander het… Ek dink nie eers ’n vrou sal dit regkry om soveel warm-koud-veranderinge op een slag reg te kry nie en ek verstaan nie waarom jy skielik so met my is nie.

Jammer. (Die woord wat jy so haat, ek weet.) Ek wou net vir een keer in my lewe passie en vuur ervaar. Sonder om te dink. Saam met iemand wat ek vertrou. Iemand wat my respekteer en wat ek self ook respekteer. Iemand wat my actually wil hê. Jy het dit op ’n stadium, net toe ons ontmoet het, van “my eerste ander” gepraat en gesê jy wens dit kon jy wees. En dit was in baie opsigte – die eerste ander wat ek toegelaat het om so diep in my siel te kyk, die eerste ander met wie ek geheime en begeertes gedeel het, die eerste ander voor wie ek die sluiers van my siel laat gaan het. Jy is die eerste ooit wat die ongeredigeerde en emosioneel-ontblote “ek” gesien het. Die strooimeisie. Die rabbedoe. Die rissiepit. Die werklike ek.

Jy het soveel keer gesê dat jy my om een of ander rede vertrou. Jy het my selfs ’n vriendin genoem. Naïef genoeg het ek gedink dat ons click; gedink ons is vriende; jou geglo en vertrou… Het jy alles net vir my gesê om net my belangstelling te hou? Om my te manipuleer? Het ek net jou verveeldheid verwar met begeerte? ’n Sadistiese speletjie met vriendskap? Ek sal nie weet nie, want dis waar wat jy sê – jy wil nie engage nie. Emosie is te veel vir jou. En moenie sê dis omdat jy my nie teleur wil stel of my wil seermaak nie. Jy stel my nie teleur nie en jy maak my nie seer nie. Dis iets wat ek self baie mooi regkry.

Eerlikwaar nou – die goed wat ek nou net hier getik het, is vrae wat in my kop ronddryf. Maar ek weier om dit te glo. Ek het jou nog altyd net gesien as ’n vriend… ’n baie spesiale vriend wat ek kan vertrou, en wat ek dalk met baie meer vertrou het as wat ek dalk moes. Iewers, op een of ander stadium en sonder dat ek dit self besef het, het ek vir jou ’n stukkie van myself gegee en dit maak seer dat jy dit nou vir my wil teruggee.

Doen jouself net een guns: Moenie jouself probeer flous deur weg te kruip en te sê jy het nie gevoelens nie, want jy weet dit is ’n leuen. Jy weet jy gee om en dit is nie ’n act nie – dit is duidelik wanneer jy sê dat jy nie vir my of iemand anders wil seermaak nie… so moenie. Moenie iemand seermaak nie, maar sluit jouself daarby in. Moenie jouself weerhou van emosie nie, want daarsonder kan geen mens werklik leef nie. Voel. Ervaar. Haal diep asem. Emosie versmoor nie altyd soos wat jy geneig is om te dink nie, dit laat mens juis soms asem skep. Dit stel jou in staat om te laat gaan… dit bevry soms… dit laat jou toe om te deel… om nader te kom aan iemand… om iemand naby aan jou te kan hê… om nie alleen te wees nie.

Onthou jy hierdie:

[…] The only time most people feel alive is when they’re suffering, when something overwhelms their ordinary, careful armour, and the naked child is flung out onto the world. That’s why the things that are worst to undergo are best to remember. […] And that’s how we measure out our real respect for people—by the degree of feeling they can register, the voltage of life they can carry and tolerate—and enjoy. End of sermon. As Buddha says: live like a mighty river. And as the old Greeks said: live as though all your ancestors were living again through you.
(http://www.lettersofnote.com/2012/09/live-like-mighty-river.html)

Hoe wonderlik sou dit nie wees om net een keer werklik te leef nie… soos daardie magtige bruisende rivier… om gemaklik te kan swem en nie net kop bo water te hou nie…

Ek is vandag hartseer, want dit voel vir my of ek ’n vriend verloor het wat ek met my lewe en my hart en my realiteit vertrou het. Jy het my bly uitdaag en gehelp om dinge te verken toe ek te bang was om dit alleen te doen, en ek wens jy het die moed gehad om nooit daarmee op te hou nie. Weet as gevolg daarvan asseblief een ding: jy het altyd gesê jy wil nie bydra tot my seer nie… en jy het nie. Inteendeel. Jy het my so ontsaglik baie gehelp, en dit is waarom ek nooit vir jou kan kwaad wees nie. Teleurgesteld omdat jy weg is, onseker omdat ek gedink het dat vriendskap ’n leeftyd hou, hartseer omdat iemand vir wie ek omgee nie meer daar is nie, ja. Maar kwaad? Nee. Want ek kyk anders na mense en omstandighede as die res. Ek probeer altyd om die ander kant van die saak ook in te sien. En ek verstaan. Ek begryp die waaroms en die hoekoms en die omdats. Ek respekteer dit. My belofte aan jou was om jou nooit seer te maak nie, om dinge nooit vir jou moeilik te maak nie en jou altyd te respekteer. Daardie belofte sal ek altyd hou. Ek is jammer as ek dit onwetend verbreek het.

Van vandag af sal daar altyd ’n gat in my siel wees. Ek het ’n deel van myself vir jou gegee en ek wil dit nie terughê nie. Want dít sal seermaak. Ek hou eerder ’n leemte in my as wat ek weet ek het iets terug gevat wat iemand nie wou hê nie. Of jy dit aanvaar of nie, dit is hoe dit is.

Jy sal altyd my respek hê. My vriendskap is altyd daar vir jou. Onvoorwaardelik, soos wat jy weet ek is. En as jy ooit iemand nodig het, is ek presies net hier. Jy weet dit. Jy is ’n té spesiale persoon om nie ten minste net daaraan te herinner nie.

Ek hoop dit is nie finaal totsiens nie. Ek hoop altyd vir hoop en moontlikheid. Maar dit is waarskynlik sinneloos en simpel van my. Hopeloos. En as dit hopeloos is – sterkte. Dit sal wonderlik wees om te weet dat jy geluk, sukses, liefde, vreugde, vriendskap, tevredenheid en vervulling vind in jou werk, jou verhoudings… Mag jy eenkeer voel hoe dit voel om uitgelate en uit jou maag te lag. Mag jy ervaar hoe dit voel om soveel liefde en geluk te ervaar dat jou hart tot in jou oë daarvan oorborrel. Mag jy vry wees. Mag jy asemhaal. Mag jy leef. Ten volle. Mag jy soos ’n groot en sterk beer langs ’n bruisende waterstroom wees. My wens is dat jy af en toe die visarend ver bokant jou sal hoor en sien…

Met meer respek, waardering en liefde wat veel dieper gaan as wat in al die boodskappe in die wêreld verduidelik kan word of wat jy ooit sou kon dink.

My mees opregte en mooiste wense vir jou – Wense

Strooimeisie

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s