Onwaarskynlike vriende

So 8 maande of wat gelede het ek ’n vriend op ’n baie onwaarskynlike plek gemaak. Of eerder – ek beskou hom as ’n vriend. Dit was nog nooit vir my ’n sekerheid hoe hy my beskou nie. Ons het aanlyn ontmoet. Op ’n webwerf vir swingers. Ek het aanvanklik gedink dis iemand anders. Ek het gedink hy was my man en dat ek hom daar uitgevang het. Maar dit was nie. Kom ons doop hom hier maar SW.

Ná ’n paar gesprekke met SW het ek besef dat hy nie die persoon is wat ek gedink het nie (inteendeel), maar om een of ander rede wou ek nie laat gaan nie (en ek wil nog steeds nie, maar mens kan nie altyd alles beheer nie, kan jy?). Dit was vir my verfrissend nuut gewees om met iemand te doen te kon hê wat nie afgesit is deur my eienaardige sin vir humor en sêgoed nie. Iemand wat my op soveel vlakke uitgedaag en gestrek het – intellektueel en emosioneel, my laat dink het oor dinge waarby ek nie gewoonlik sou stilstaan nie en wat my gehelp het om vanuit ’n ander hoek na selfs taboe dinge te kyk. Ons het gesels oor alles… geskerts oor die simpelste stories, gepraat oor diep dinge, goed wat saak maak gedeel uit ons albei se lewens – die glimlaggies én die seer…

Ons het vir ’n paar maande op ’n bykans daaglikse basis aanlyn gekuier. Ek het hom met my diepste, donkerste geheime begin vertrou en ek het geweet dat hy my nooit sal seer maak nie. Dit was die eerste persoon in my lewe vir wie ek nie skaam was nie, vir wie ek gevoel het ek die eintlike ek kon wys. En hy het geluister, tot diep in my hart gekyk en gesíén, my net goeie raad gegee en my deur bloot daar te wees so vreeslik baie gehelp. Ongelukkig was ek vir hom net ’n kuber-vreemdeling; nooit werklik ’n regte persoon in sy lewe nie; ek het dit geweet en dit so aanvaar. Maar vir my was hy ’n ware vriend wat my deur een van die alleenste en moeilikste tye van my lewe gehelp het deur bloot net oor honde, karre en verre plekke te gesels… okay, dalk nie nét daardie onderwerpe nie…

En toe, eendag op ’n lieflike warm sonskyndag, verloor ons amper heeltemal kontak. Net so. Tjoeps! Sy veeleisende werk, my roller-coaster-emosies het hulle tol begin eis, ten spyte van my beste pogings om myself in toom te hou en nie te emosioneel te raak nie. As ’n mens eers die gewoonte aangeleer het om alles wat gebeur te ooranaliseer en te oor-oordink is dit moeilik om daaruit los te breek en net te kan leef. Ek wens ek kon. Ek probeer. Dit sou lekker wees om net as ’n vry individu sonder bagasie te kan asemhaal. Maar dis ’n gesukkel… En life happened.

(En presies so maklik dryf ek van die onderwerp af… Hmmm… waar was ek nou weer…? O, ja!)

Dis snaaks hoe mense soms jou lewenspad kruis wanneer jy dit die minste verwag, maar die nodigste het. Hoe vriendskap uit niks kan ontstaan; heel toevallig; en dan skielik net kan wegraak as mens dit nie goed oppas nie. Hoe mens (of ek) seker altyd sal hoop en wens dat vriendskap nooit sal ophou nie, maar eerder sal groei.

Ek het vriendskap nog altyd as iets hoër geag as die meeste ander dinge in die lewe… op ’n manier dalk selfs meer waardevol as liefde. Dis meer oop. Iets waardeur baie mense op een slag bereik kan word. Gewoonlik eerlik. Meestal warm. Dit bevat soveel respek en vertroue van albei kante. Ek het nog altyd gedink dat vriendskap daardie een onvoorwaardelike ding is wat almal nodig het en wat leemtes in jou lewe kan vul soos wat min ander dinge kan. Vriendskap kan so klein en oppervlakkig wees as ’n gawe woord aan iemand wat jy net verlangs ken, of so diep soos wat die donker dieptes van jou siel iemand wil of kan toelaat. Vriendskap het nie altyd daardie terugantwoord nodig soos byvoorbeeld liefde nie. En jy kan kies hoeveel of hoe min daarvan jy wil gee. Of dis wat ek gedink het.

’n Rukkie gelede het ek gedink ek gaan ’n vriendin heeltemal afskryf, maar ek is bly ek het nie. Sy is ’n kosbare persoon wat ’n fout gemaak het. Ek het ook oorweeg om my man af te skryf… iets waaroor ek ’n ander keer meer sal skryf. Maar ná ’n rukkie van asemhaal en dink, het ek besef dat dit een verkeerde besluit was. Dit maak nie van iemand ’n skelm of onwaardig van vriendskap nie. Dit beteken net dat hulle nes ek en jy is – menslik.

Soms is dit vir my moeilik. Ek dink aan foto’s wat ek gesien het op my man se rekenaar… van haar af… en hy het dit gehou… eksplisiet… goedkoop… lelik. Soms is dit asof daar ’n naarheid in my opstoot wat net moet uit. Soms laat ek dit ook uitkom; ongelukkig in my woorde en/of optrede teenoor my man. Soms hou ek dit in en huil dit laataand op die badkamer se vloer uit, wanneer die huis stil is en my man te hard snork om te hoor wat in my kop aangaan. Soms wens ek dat Karma haar ding sal doen, dat die wiel sal draai en sy op een of ander manier sal kan verstaan hoe seer sy my (en ons) gemaak het. Hoe seer hy my ook gemaak het. En soms, soos op dae soos vandag, dink ek aan wat ’n onwaarskynlike vriendskap vir ’n mens kan beteken.

My vriendskap aan hierdie vriendin is vandag seker net so onwaarskynlik soos my vriendskap met SW (met wie ek so af en toe nog ’n klein bietjie kontak het… net van tyd tot tyd). Dit het baie van my gevat om te vergewe en die ander sy van die situasie ook in ag te neem. Alleenheid laat mens soms vreeslike dinge doen, en almal oordink goed nie altyd so oor en oor en oor soos ek nie. Haar keuse was om ’n vriendin in die rug te steek. My keuse was om nie ’n vriendin in die steek te laat nie. Ja… ek is mens en soos enige mens of dier wat gekwes is, het ek haar eers so sleg gesê en haar selfs probeer afpers om nooit weer naby my of my man te kom nie. Dis tog so maklik om kwaad te wees vir iemand anders as die een persoon wat jou hart in jou hande hou. Maar in my eie pyn, het ek ook ’n stukkie van haar pyn gesien. Die alleenheid wat ek op daardie stadium ervaar het, is presies wat haar na my man gedryf het. En met ’n blosende gesig… alleenheid het my baie amper in dieselfde rigting gestuur as vir haar.

Op een of ander manier het SW my gehelp hiermee sonder dat hy dit dalk besef. ’n Mens moet leer om die ander kant van die saak te oorweeg. Altyd. Wat met jou gebeur is nie altyd binne jou beheer nie, maar wat jy daarvan maak en hoe jy daaroor optree en reageer – dis 100% jou keuse.

Onwaarskynlike vriende, dog vriende. Dis soos blommetjies in die woestyn… Iets gebeur… ’n storm bring water en dan ontplof daar ’n kleurbom van prag op ’n plek waar mens dit nie verwag nie. Dis wat vriendskap behoort te wees. Dis wat ek glo vriendskap kan wees. Dis wat ek hoop vriendskap is.

Advertisements

One thought on “Onwaarskynlike vriende

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s