Die mag van ’n swart oogpotlood

Ek het vanoggend later geslaap as wat ek moes (want dis winter, dis koud en dis heeltemal onregverdig dat mense soos ek nie mag hiberneer in Junie en Julie nie), my man het allerhande snaakse goed op FaceBook raakgesien wat hy met my wou deel (en waarna ek met liefde en aandag gekyk het, ten spyte van die horlosie langs my se wysers wat nie wou stilstaan nie), ek het later besef dat my gesigroom heeltemal op is en ek nié soos altyd ’n spaar houertjie iewers het nie (of dalk het ek dit net te goed vir myself weggesteek), in die koorsagtig-vinnige-klaarmaaksessie het ek net die gemaklikste (dog heel) paar tekkies, denim en rolnektrui in my kas gegryp, ’n klein bietjie van net die belangrikste grimering aangestip (want “aangeplak” klink hopeloos te oordoen) en toe werk toe gejaag waar twee vergaderings, admin-takies en ander werk en spertye nie regtig vir my wou wag nie. Daar gekom, het ek in die badkamer se spieël besef hoe mode-onbewus ek vandag is: swart en helder pienk tekkies, uitgewaste blou denim, swart trui (met ’n gaatjie in die sy wat ek misgekyk het), blou-serp-mengelmoes, groen-bruin baadjie, hare lomp vasgemaak (dié wat nie die wêreld op hulle eie wil invaar nie, in elk geval), en ek kort verseker ’n tikkie kleur aan my lippe… maar my eyeliner is perfek! En daardie een perfekte ding laat my toe net daar regop staan, my refleksie vierkantig in die oë kyk en byna kliphard sê: “What the hell, it’s nice to be different!

Van die badkamer af is ek na vergadering nommer 1… tussen ordentlik-vir-werk-aangetrekte-kollegas. Met my voorkoms het ek nie ’n saak gehad nie. My eyeliner en toe diep pienk lippe het my al die selfvertroue gegee wat ek vandag – ’n mal Donderdag – nodig gehad het.

Ek was nog nooit regtig vreeslik gepla oor grimering nie. Inteendeel, ek het vir die grootste deel van my lewe nie naby enige vorm van grimering gekom nie. Op die ouderdom van 19 het ’n vriendin my eers gewys wat is wat en waar moet jy dit op watter manier aansit, met watter kwassie of borseltjie of sponsie. Ek het my amper dood geskrik toe sy my wys hoe om onderlaag aan te sit (soveel strepe het min mense al op een gesig gesien), die maskara het male sonder tal sommer ín my oë beland (as die wit van jou oog tot rooi verkleur lyk blou oë selfs blouer) en die oogpotlood is iets wat ek sommer halfpad deur die les net toegemaak en eenkant toe gegooi het uit pure frustrasie en die wete dat dit my net soos ’n spook sal laat lyk. Tragies was die besluit om enige vorm van grimering net vir baie spesiale geleenthede te reserveer… en dan ook maar eerder hulp te vra by Edgars se cosmetics counter!

So vyf jaar later is ek getroud. Natuurlik moet ’n vrou maar ’n poging aanwend om nie soos ’n voëlverskrikker te lyk vir jou man nie, so ek het stadigaan begin om sagte oogskadu (as mens dit kon sien, so lig het ek dit aangesit), maskara (en heelwat rooi-oog-episodes) en lip gloss te gebruik. Dit het vir my gewerk (ek glo ook vir hom) en ek het gedink ek was a-okay vir ’n ruk. Ek het myself nog nooit as mooi beskou nie, en dis iets wat ek ook nie begeer om te wees nie. Ek is net ek. Happy-go-lucky plain jane en dis die einde van die storie.

Maar dit was nie die einde van die storie nie.

Laasjaar het groot dinge in my lewe gebeur. Lelike dinge. Slegte dinge. Alles wat ek gedink het mooi en reg is; alles wat ek gedink het ek nooit oor bekommerd hoef te wees nie; die enigste vorm van liefde en sekuriteit wat ek ooit regtig geken het, is omgekeer en my hart en siel het flenters iewers op ’n sypaadjie saam met ander mense se rubbish gelê. Afgesien van die flentersgeid in my siel, het ek ook nie eers regtig meer tyd vir myself gehad nie. Ek was vir myself niks meer as ’n so what nie. Snaaks hoe ’n mens altyd jouself blameer vir die mense wat jy liefhet se foute en probleme. Ek het ophou eet, ophou slaap, ophou glimlag, ophou droom, amper ophou werk, ophou omgee… In ’n kwessie van ’n maand het ek soveel gewig verloor dat my gewoonlik pof pienk wangetjies ingesink en bleek geword het, my stywe denims het sommer afgegly en my trouring het so los om my vinger gehang dat ek oorweeg het om dit net af te haal en op die bedkassie te los. En ek het nie oor enige hiervan omgegee nie, want wat het enige hiervan tog in elk geval saakgemaak?

My ouma-ma het Alzheimer’s.

Ek het begin aanvaar dat ek nooit kinders gaan hê nie.

Ek het uitgevind dat my man my verneuk.

Ek het uitgevind dat een van my beste vriendinne ’n rugsteker (en veral onbetroubaar met my man) is.

Ek het uitgevind dat sy nie die enigste rugsteker en onbetroubare vriendin in my lewe is nie…

Ek het net gehoop dat daar nie nog goed gebeur of uitkom wat ek op dié stadium op die lysie moes byvoeg nie. Die Here weet – ek het nie die krag gehad vir nog iets nie, want net dié goed het my tot diep in my siel geruk. Dit het my so stukkend geruk soos wat die 1960-aardbewing die geboue in Chile geruk het (http://earthquake.usgs.gov/earthquakes/world/events/1960_05_22.php). Alles in my was stukkend. Inmekaargestort. Dood. En die stukkie van my siel wat probeer het om aan te hou probeer, glo, hoop was net lam.

En toe gee ’n vriendin vir my ’n geskenkie. Sommer iets kleins. Sonder rede. Net vir omdat en vir sommer. ’n Sagte soort oogomlyner en helder pienk lipstiffie. Ek het nie regtig geweet wat om daarmee te doen nie. Op daardie stadium was dit vir my ’n uitdaging om net in die oggend op te staan en klere aan te trek vir werk; wat nog te sê grimering te gebruik! Dit was vir my eienaardig dat sy vir my die geskenkie gegee het, want ten spyte van my seer en stukkende binnekant het nie ’n enkele ander persoon ’n idee gehad wat in my lewe aangaan nie. Nie eers my man het geweet van die ontdekkings wat ek gemaak het nie. Uiterlik het ek geglimlag, grappies gemaak, my bes gedoen om my werk reg te doen en net soos altyd aan te gaan. Ek dink ek hoort in Hollywood… baie mense is deur my normale optrede gebluf. Tot vandag toe weet net ’n handjievol mense (veel minder as 10) wat regtig in my lewe gebeur het.

’n Paar dae later het ek wakker geword met die begeerte om net vir een keer weer anders te voel. Nie dood nie. Nie lam nie. Nie seer nie. Nie flenters nie. Spesiaal. Asof ek saak maak. Net ’n bietjie. Net iets. En dalk net ’n bietjie mooi. Sonder om te dink, nog voordat ek my gesig gewas of my tande geborsel het, het ek die geskenkie nader getrek wat nog steeds in die geskeurde geskenkpapier op my bedkassie gelê het. Ek het die plastiek om die twee eenvoudige items afgehaal en met bewende hande die pienk smeersel aan my bleek lippe en die swart streepsel om my nog half toe oë gesit. En toe sien ek myself vir die eerste keer. Toe sien ek my oë. Blink. Blou. Lewendig.

Blou-oog… Oogappeltjie… Ogies… Vir die eerste keer het ’n paar van die (duisende) troetelname wat my oupa my altyd genoem het sin gemaak. Al is ek stukkend en al voel ek hoe lelik – ek het nie lelike oë nie. Hulle sê dat ’n mens se oë die vensters van jou siel is. En ek sê nie my siel is pragtig nie; net dat dit daar is en dat dit nie heeltemal gebreek is tot net stof en skerwe nie.

In daardie oomblik het ek besef dat ek soos ’n wafferse navorser of ontdekker iets baie belangrik omsirkel het. Ek het iets gemerk met ’n donker oogpotlood wat eintlik nogal belangrik is. My oë was die een deel van my wat nié gekrimp het deur al die seer nie, wat aanhou blink het en wat nou (ná nog ’n nag van baie huil) nie net baie rooi nie, maar ook baie blou na my toe teruggekyk het. In daardie oomblik het ek iets besef wat ek nooit voorheen besef het nie: ek het iets in my wat nie maklik sal doodgaan nie. Iets wat sterker is as my omstandighede of die seer wat die mense wat die naaste aan my en mense waarvoor ek selfs die liefste is, my ooit sou kon veroorsaak. My oë het oopgegaan vir myself, en ek het besef dat dit niemand anders se keuse as my eie is om op te staan, aan te gaan, nooit hoop te verloor nie, nooit in te gee nie, altyd aan te hou en tot die dag wat ek my laaste asem uitblaas aan te hou probeer.

Hoe laf as wat dit ook al klink, my oogpotlood het vir my op daardie oomblik my persoonlike reënboog geword. ’n Belofte aan myself dat dinge beter sal word, want ek het dit so besluit en ek aanvaar eenvoudig nie die alternatief nie. So op dae soos vandag, wanneer ek weet dit gaan tough wees en waar ek oor en oor uitgedaag gaan word, is tekkies, ’n vreemde kleurskema en klere-kombinasie, en selfs strooiagtige deurmekaar hare toelaatbaar. Daar is op aarde niks met my voorkoms verkeerd op dae soos vandag nie, want ek en my swart oogpotlood is reg vir wat die lewe ons kant toe gooi. Ek sal met ’n regop houding en selfversekerd die probleme vierkantig in die oë kyk en hulle oplos. Ek sal met selfvertroue (nie te veel nie, maar net genoeg) vandag se uitdagings aanvaar en belangriker as alles – ek sal dit oorleef.

’n Jaar gelede het ek iets besluit, en ek het dit sommer my motto (een van ’n paar) gemaak:

Ek sal omkring wat belangrik is en daarop fokus tot daardie aspekte (selfs al is dit net een, en al is dit hoe klein) van positiwiteit so groot word dat dit alles wat negatief en sleg is begin oorweldig. Ek kies om altyd daarvoor te soek; in alles en in almal; want ek wéét dis daar en ek wéét dat dit sterker is as al die negatiwiteit/seer/teleurstelling/verwerping wat ooit mag bestaan.

Thank heavens vir swart oogpotlode…!

Advertisements

5 thoughts on “Die mag van ’n swart oogpotlood

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s