Hoe skryf ’n mens oor jouself?

Skryf is vir my terapeuties… dit help my om goed behoorlik te deurdink, te verwerk en te oorkom. Dis die rede vir hierdie blog… Maar hoe skryf ’n mens oor jouself as jy regtig nie weet wat om te skryf nie?

 

Toe ek klein was, het my oupa eendag (ek was moontlik in graad 2) by die huis gekom en na net een kyk in my rigting het hy geweet dat iets net nie lekker is met my nie. En dit was ook nie. Iemand het my by die skool gespot oor my ouma en oupa wat by ons onlangse atletiekbyeenkoms was, terwyl my ouers albei afwesig was. Soos altyd. Dit was ’n dogtertjie in my klas met geel hare, ’n skerp neus en ken, skril stemmetjie en vuurhoutjie-beentjies. Sy was die helfte van my. Ek was nog altyd ’n regte rabbedoe en kon haar maklik regsien as ek wou… maar haar woorde het seerder gemaak as wat ek ooit sou kon stamp en klap. Dit het ek toe al geweet. Woorde dra soms net te veel mag.

Hoewel ek hom nie wou vertel wat fout was nie, het my oupa my nietemin getroos en raad gegee: “gaan skryf jou hart uit in ’n briefie en bring dit vir my”.

In my baie beperkte woordeskat en met my mooiste (dog baie lelike) handskrif, het ek met ’n grys potlood my gevoelens gaan neerpen op ’n stukkie pienk geblomde A5 papier. Daardie tyd was dit nogal groot om mooi skryfpapier te hê en al wat dogtertjie was het pouses onder die bome sit en “versamelbladsye” uitruil. Ek het die briefie tot in ’n pragtige bypassende koevertjie gesit. Toegeplak. Haar naam daarop geskryf. Die inhoud daarvan het die situasie mooi opgesom – sy het my seergemaak, dis nie lekker vir my nie en sy moet dit asseblief nie weer doen nie. Ek was nie seker of Oups my sou vat om die briefie af te lewer en of hy dit wou lees nie, so ek het maar alles in berekening probeer neem.

Toe ek half bang en onseker die briefie aan hom oorhandig, het hy nie eers die voorkant gelees nie. Hy het my net gevra of ek beter voel, en ek het ook eerlikwaar nogal baie beter gevoel. Dis asof die skryf van die brief my laat dink het oor alles, en hoewel die insident onnodig en nogal hartseer was, het ek op ’n manier besef dat dit eintlik nie so erg was nie. Niemand is tog dood nie…

Wat volgende gebeur het was nogal vreemd. Oups het my met die briefie in my hand opgetel en buite toe gedra. By die braaier het hy die vuurhoutjies gevat en vir my vertel dat mens moet vergewe… en vergeet… selfs al is dit wat met jou gebeur het onregverdig en selfs al maak dit hoe seer, is een van die grootste pligte wat ons in die lewe het om te vergewe en te vergeet. Hy het my verseker dat ek gaan beter voel as ek die geelkop-heksie vergewe het. Toe trek hy ’n vuurhoutjie en gee dit vir my aan om die briefie aan die brand te steek. Met bewerige vingers het ek die vuurhoutjie by hom gevat en met trane in my ogies het ek die briefie laat vlamvat. Snaaks hoe selfs die mooiste papier ook maar swart raak as dit brand, verbrokkel en wegwaai in die wind.

Het ek beter gevoel? Ek is nie seker nie. Is hierdie ’n gesonde ding om te doen? Seker nie. Maar my oupa het my daardie dag voorgestel aan iets wat ek voor lief geraak het. Skryf. En ook nie net sommer enige skryf nie. Skryf met emosie, gevoel, opregtheid, waarheid en ook met liefde. Om een of ander rede het ek dit reggekry om myself – die regte ek – baie beter op papier uit te druk as op enige ander manier. Ek het ’n liefde ontwikkel vir taal en skryf, omdat dit my ontvlugting gebied het. Hoewel ek lief is vir mense en dit haat om alleen te wees, het ek besef dat ’n boek of papier en pen (of deesdae my laptop) my iets bied wat mense nie altyd kan nie. Daardie absolute aanvaarding en die opsie om die papier aan die brand te steek of die delete-knoppie net in te hou wanneer ek reg of dit nodig is.

 

So, my terug by my aanvanklike vraag: hoe skryf ’n mens oor jouself as jy regtig nie weet wat om te skryf nie? Ek weet nie, maar ek gaan probeer. Dalk kan ek dit regkry deur dinge op die naam te noem, dalk deur metafore en dalk deur fiksie… Ek weet nog nie hoe nie, maar ek gaan probeer.

Advertisements

2 thoughts on “Hoe skryf ’n mens oor jouself?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s